Bendefamilie by ‘grootste kunsrooftog’ betrek

Die Dresden- groen diamant van 41 karaat is die mees waardevolle diamant in die Grünes Gewölbe-museum (Foto: ubahnverleih via Wikimedia Commons)

ʼn Hof in Duitsland het Dinsdag vyf bendelede ses jaar tronkstraf opgelê vir die roof van kosbare 18de-eeuse juwele uit ʼn museum in Dresden. Dit word as die grootste kunsrooftog in moderne geskiedenis beskou.

Die diewe het goedere ter waarde van meer as €113 miljoen (ongeveer R2,3 miljard) gebuit uit die Grünes Gewölbe (Groen gewelf)-museum in 2019. ʼn Deel van die buit is teruggevind nadat vier van die beskuldigdes in die hof skuld beken het.

Die veroordeelde mans is lede van die Remmo-familie, ʼn uitgebreide familie wat hoofsaaklik in Berlyn gebaseer is en bekendstaan vir hul verbintenis met georganiseerde misdaad in Duitsland.

Die hof in Dresden het drie vonnisse uitgespreek wat wissel van net onder ses jaar tot net meer as ses jaar vir gewapende roof, brandstigting en ernstige liggaamlike besering vir die rooftog op 25 November 2019.

Twee van die mans, wat minderjarig was ten tye van die misdaad, het jeugvonisse van onderskeidelik vyf jaar en vier jaar en vier maande ontvang.

ʼn Sesde beskuldigde is vrygespreek omdat hy ʼn geloofwaardige alibi voorgehou het – ʼn  noodoperasie in ʼn hospitaal in Berlyn.

Die pleitooreenkoms het egter kritiek uitgelok, met die president van die Berlynse openbare aanklaersvereniging, Ralph Knispel, wat daarop gewys het dat die beskuldigdes nie verplig was om hul medepligtiges se name bekend te maak in ruil vir ligter vonnisse nie.

“Die vraag is watter boodskap dit aan ander misdadigers stuur,” het Knispel aan die openbare uitsaaier RBB gesê.

“Verstommende kriminele ywer”

Troon van die keiser Aureng Zeb, ‘n kunswerk deur Johann Melchior Dinglinger by die Grünes Gewölbe-museum (Foto: Hajotthu via Wikimedia Commons)

Die verhoor, wat in Januarie 2022 begin het, het lig gewerp op die gewaagde rooftog, maar het belangrike vrae onbeantwoord gelaat.

Alhoewel baie van die historiese stukke herwin is, word daar gevrees dat sommige vir ewig verlore is. Waarnemende regter Andreas Ziegel het dit as ʼn daad van “verstommende kriminele ywer” beskryf by “een van die oudste en rykste skatversamelings ter wêreld”.

Die buit het ʼn swaard met ʼn diamantoortrekte handvatsel en ʼn skouerstuk met ʼn Dresden-witdiamant van 49 karaat ingesluit.

Ziegel het die pleitooreenkoms verdedig en gesê daarsonder “sou die juwele wat as onvervangbaar geklassifiseer is, nooit na die Grünes Gewölbe teruggekeer het nie”.

Twee van die beskuldigdes, Wissam en Mohamed Remmo, het reeds tronkstraf uitgedien vir die gewaagde diefstal van ʼn massiewe goue munt uit ʼn museum in Berlyn in 2017.

In ʼn verklaring wat in Januarie deur hul prokureur in die hof voorgelees is, het hulle gesê die idee vir die Dresden-rooftog is gesmee nadat ʼn jonger familieled “teruggekom het van ʼn uitstappie na die museum… en oor die groen diamante wat daar uitgestal is, gejubel het”.

Die hof het bevind dat die beskuldigdes, tussen 24 en 29 jaar oud, deur diefwering by ʼn venster in die museum, wat vroeër beskadig is, geglip het. Hulle het ʼn uitstalkas met ʼn byl stukkend geslaan en 21 stukke, wat met 4 300 juwele versier is, binne vyf minute gegryp.

Die diewe het met ʼn wegkomvoertuig gevlug wat hulle later in ʼn ondergrondse parkeerterrein aan die brand gesteek het.

Maande nadat die misdaad gepleeg is, het die owerhede gedink die buit was vir altyd verlore. Speurders het gereeld Europa se ondergrondse markte vir gesteelde goedere deursoek vir tekens van die Sakse koninklike artefakte.

Nog 40 vermoedelike medepligtiges gesoek

Dit was totdat die owerhede in Desember 2022 ʼn “aansienlike deel” van die items herwin het ná “verkennende gesprekke” met die verdagtes.

Baie van die stukke is egter erg beskadig en sommige word nog steeds vermis, insluitend ʼn borsspeld wat aan koningin Amalie Auguste van Sakse behoort het.

Vier van die beskuldigdes het in Januarie gebieg, wat gelei het tot die ooreenkoms vir ligter vonnisse.

ʼn Vyfde beskuldigde het aangevoer hy het gereedskap gesteel om die gebou binne te dring, maar het ontken dat hy aan die rooftog self deelgeneem het.

Na beraming word daar steeds na sowat 40 mense gesoek wat vermoedelik betrokke was by die beplanning van die rooftog.

Die verhoor het verskeie sekuriteitsprobleme by die Grünes Gewölbe, ʼn staatsinstelling, aan die lig gebring. Direkteur Marius Winzeler het gesê hy is “optimisties” dat die oorblywende vermiste stukke eendag na Dresden sal terugkeer, aangesien hulle “nie wettiglik verkoop kan word nie”.

Die Grünes Gewölbe is een van Europa se oudste museums, gestig deur Augustus, keurvors van Sakse, in 1723.

Dit vorm deel van die koninklike paleis in Dresden, wat tydens die Tweede Wêreldoorlog ernstige skade opgedoen het. Dit was dekades lank gesluit, maar die museum is herstel en het in 2006 weer sy deure oopgemaak. Dit bly ʼn groot toeristeaantreklikheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lillian ·

Gierigheid, want die doel was sekerlik om die juwele te verkoop op die swartmark en met die geld in styl te lewe, tot dit op is dan beplan hulle die volgende roof….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.