Betogers vas wat uitstalling in NS-museum beskadig

Die beskadigde uitstalling. (Foto: AFP)

Altesaam 12 betogers van ʼn Maori-aktivistegroep is Maandag in Nieu-Seeland se nasionale museum in hegtenis geneem nadat hulle ʼn uitstalling oor die land se historiese Verdrag van Waitangi beskadig het.

Volgens die polisie het een van die betogers die uitstalling in die Te Papa-museum in Wellington met spuitverf en ʼn hoekslyper beskadig nadat hy van die dak tot by die uitstalling op ʼn laer vlak geabseil het.

Die betogers is aan die Te Waka Hourua-groep verbonde. Hulle bestempel hulself as verdedigers van geregtigheid vir Maori-mense, Nieu-Seeland se inheemse bevolking.

ʼn Woordvoerder van die groep sê die uitstalling is getakel omdat die Engelse teks “besoekers mislei om te glo dat dit ʼn akkurate vertaling” van die verdrag se Maori-weergawe is.

Die voorval volg op betogings verlede Dinsdag waartydens duisende mense die nuutverkose konserwatiewe regering gekritiseer het vir sy beleid teenoor die Maori-bevolking. Die betoging het die regering van premier Christopher Luxon behoorlik onder druk geplaas.

Van die 12 mense wat Maandag in hegtenis geneem is, is vier aangekla van onder meer opsetlike saakbeskadiging en die oortreding van borgtogvoorwaardes. Agt betogers is vir betreding aangekeer nadat hulle geweier het om die museum te verlaat. Hulle is egter later sonder aanklagte vrygelaat.

Die Verdrag van Waitangi wat van 1840 dateer was ʼn ooreenkoms tussen koloniale Britse Ryk en inheemse Maori-hoofmanne. Die oorspronklike dokument is in die Nasionale Biblioteek in Wellington en nie in die Te Papa-museum nie.

Daar is ʼn Maori- en Engelse weergawe van die verdrag – en die twee verskil. Daar is na aanleiding van die Maori-weergawe ʼn debat oor die kwessie of die Maori’s hul soewereiniteit sou prysgegee het aan die Britse kroon.

ʼn Groep van Te Waka Hourua het later buite die museum in die Wellington betoog met baniere wat lees “Tell The Truth” en “Sovereignty Was Never Ceded”.

Geen museum-artefakte is Maandag beskadig nie, het ʼn woordvoerder van die museum gesê. Die vloer waar die betoging plaasgevind het, is ná die voorval gesluit. Die res van museum was steeds oop vir besoekers.

“Ons respekteer die reg van mense om te betoog, maar ons is teleurgesteld dat die groep hierdie uitstalling beskadig het,” het die woordvoerder gesê.

Volgens die museum vertoon die uitstalling Engelse en Maori-weergawes van die verdrag met inligtingspanele, soos die een wat ontsier is, wat die verskille beklemtoon.

Maori-leiers beskuldig Luxon se konserwatiewe koalisie van rassistiese beleid, insluitend die ondermyning van die Verdrag van Waitangi, wat ook inheemse regte beskerm.

Die nuwe regering wil ook die name van sommige departemente van Maori na Engels verander en die Maori-gesondheidsowerheid, Te Aka Whai Ora, sluit.

Luxon het die beskadiging van die museumuitstalling Maandag veroordeel.

“Die werklikheid is dat mense vry moet wees om te betoog, maar ek dink nie dit is nodig om ʼn uitstalling by ons nasionale museum te beskadig nie,” het hy aan verslaggewers by die parlement gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hendrik ·

Verskillende volkere met elk se eiendomlikheid ondergeskik aan een sentrale regering bly maar probleematies. Self die eeue mensebestaan kan nie hd eiendomlike uitwis nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.