Bielie van ʼn baba weeg 7kg  

Die pasgebore seuntjie, Angerson dos Santos, weeg 7 kg. (Foto: Hospital Padre Colombo)

’n Yslike baba van ʼn allemintige 7 kg het Woensdag sy opwagting in die Padre Colombo-hospitaal in Parintins in Brasilië se Amasone-streek gemaak. Die pasgebore seuntjie, Angerson dos Santos, is 61 cm lank en pas reeds in die klere van ʼn eenjarige kind.

Hy is met ʼn keisersnee gebore en word tans in ʼn broeikas gehou. Daily Mail berig dit gaan goed met Angerson en sy ma, Cleidiane (27), wat ook vyf ander kinders het.

“Ek het glad nie hierdie verrassing verwag nie,” het Cleidiane aan die media gesê. Sy was ongeveer 40 weke swanger toe dokters haar meegedeel het dat sy nie normaal sal kan kraam nie.

“Ek het gedink hy gaan sowat 4 kg weeg, en toe weeg hy 7 kg.

“Ek wil die span by Padre Colombo bedank wat my ondersteun het en sedert my aankoms baie goed behandel. As dit nie vir hulle was nie, weet ek nie wat van my sou word nie,” het sy volgens The Daily Star gesê.

Mirror UK berig dat die Padre Colombo-hospitaal tans geld insamel om Angerson se gesin by te staan – onder meer met klere en doeke vir kinders tussen nege en 12 maande oud. Niks van die doeke en klere wat Angerson se ouers vooraf aangekoop het, pas hom nie.

Die pasgebore seuntjie, Angerson dos Santos, weeg 7 kg. (Foto: Hospital Padre Colombo)

Volgens beskikbare inligting is Angerson die grootste baba wat nog in die Amasone-streek in dié land gebore is. Hy is ʼn volle 8 cm langer as die gemiddelde pasgebore baba.

Hy troef die rekord van ʼn 5,8 kg-baba wat in 2011 in dié streek gebore is.

Die grootste baba wat nog in Brasilië gebore is, is Ademilton dos Santos (geen verwantskap), wat by geboorte in 2005 in Salvador ʼn volle 8 kg geweeg het. Hy is ook met behulp van ʼn keisersnee gebore.

Volgens Guinness-wêreldrekords het die swaarste baba wat nog gebore is, 10,2kg geweeg – omtrent dieselfde grootte as ʼn volgroeide beagle-hond. Dié geboorte is in September 1955 in Italië aangeteken. Dit was boonop ʼn natuurlike geboorte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wondermaarnet ·

Sjoe hy is nogal lywig. Ook maar goed dit was ‘n keisersnee, want so ‘n bulletjie sou sekerlik vassit.

Misky ·

Sjoe, gaan ‘n lywige bulletjie word. Daai ma het reeds 5 kinders. Sekerlik moet sy klere van voriges hou, so waarom nou skenkings soek?

Katjie ·

My seun het 5.980kg geweeg by geboorte en op daardie stadium die grootste baba wat nog in die hospitaal gebore was. Ek het ook ‘n keiser gehad, maar 7kg, dit is groot!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.