Brit-toekennings: Harry Styles seëvier, mode laat koppe draai

Harry Styles. (Foto: Skermgreep/ The Brits/YouTube)

Die Britse sanger Harry Styles het Saterdagaand skoonskip by die 30ste Brit-toekennings gemaak en met vier van die aand se top-toekennings huis toe gegaan.

Styles het stof in Britse kunstenaars soos Sam Smith en Dua Lipa se oë geskop deur kunstenaar van die jaar, album van die jaar, liedjie van die jaar vir “As it was” en beste pop/R&B-lied tydens dié spoggerige geleentheid te wen. Die Brit-toekennings is ʼn jaarlikse viering van Britse sowel as internasionale musiek.

Styles het ook melding van sy sogenaamde “voorregte” gemaak toe hy die beeldjie vir kunstenaar van die jaar – die tweede opeenvolgende jaar aangebied as ‘n “geslagsneutrale hoofprys” – ontvang het.

Die “geslagsneutrale hoofprys”-titel is verlede jaar bekendgestel om “inklusiwiteit te verhoog” nadat die nie-binêre sanger Sam Smith in 2021 outomaties van geslagskategorieë uitgesluit is. Die benoemings het egter vanjaar weereens ʼn groot debat aanlyn ontketen nadat geen vrouekunstenaars weens dié verandering vir beste kunstenaar genomineer is nie.

Styles se verwysing na sy “voorregte” spruit uit die bespotting wat sy Grammy-aanvaardingstoespraak uitgelok het waarin hy gesê het: “Dít gebeur nie baie met mense soos ek nie”.

Harry Styles dra ‘n Nina Ricci-pak. (Foto: The Brits/Instagram)

Kritici het daarop gewys dat Styles as ’n wit 29-jarige Engelsman maklik vir hierdie tipe toekennings in aanmerking kan kom, maar ander meen die sanger het eerder verwys na sy nederige grootwordjare waar hy as tiener in ʼn bakkery vir sakgeld gewerk het, voordat hy bekendheid op die talentsoekkompetisie, The X-factor, verwerf het.

“Hierdie aand was regtig baie spesiaal vir my en ek sal dit nooit vergeet nie. Ek is so trots om ‘n Britse kunstenaar in die wêreld daar buite te wees,” het Styles gesê.

Hy het ook in sy aanvaardingstoespraak die vrouekunstenaars genoem wat oorspronklik op die kortlys vir dié kategorie was, maar nie die finale lys gehaal het nie. Hy het ʼn hewige reaksie by die gehoor ontketen deur sy voormalige One Direction-medesangers, Liam Payne, Zayn Malik, Niall Horan en Louis Tomlinson te bedank.

Dié sanggroep het globale bekendheid verwerf ná hul deelname aan The X-factor in 2010. Hulle het vyf albums bekendgestel voordat hulle paaie in 2016 as ʼn groep geskei het.

Dit was ook ’n groot aand vir Beyoncé, wat videoboodskappe gestuur het om die pryse vir beste internasionale kunstenaar en beste internasionale liedjie vir “Break my soul” te aanvaar.

“Laat die Renaissance begin,” het sy gesê, met verwysing van die titel van haar jongste album.

Britse-modes alles behalwe beskeie

Swart, silwer en rooi was Saterdagaand oral op die rooitapyt te sien.

Bekendes soos Ellie Goudling, Salma Hayak, Camille Razat, die Emily in Paris-aktrise, en die model Georgia May Jagger het elk treffende swart nommertjies gekies terwyl Jody Turner Smith en Lizzo in silwer skakerings geskitter het.

Die manne het ook koppe laat draai, met Styles wat ʼn swart fluweel wyepypbroek en jas met ʼn bypassende swart roos van ontwerper Nina Ricci om sy nek gedra het, en die kletsrymer Stormzy wat ʼn stylvolle poeierblou broekpak gedra het.

Die sanger Sam Smith het klaarblyklik nuwe lewe in rooitapytmodes probeer inblaas deur dié geleentheid in ʼn swart opblaasbare latex-skepping aan te durf.

Die Union Jack is lankal nie meer net ʼn vlag nie, maar ook ʼn populêre modebykomstigheid, en was te sien op die Britse-aanbieder Amelia Dimoldenberg se gepaste patriotiese aandrok deur die Britse-modeontwerper Vivienne Westwood.

Die sanger Jessie J het met haar groeiende bababoep in ʼn rooi pakkie gepronk terwyl die Amerikaanse countrysanger Shania Twain en die Britse aktrise Naomi Ackie, wat die rol van Whitney Houston in die fliek I Wanna Dance with Somebody vertolk, elkeen sagte geel noupassende rokke gedra het.

Bykomende bronne: AFP, Harper’s Bazaar, E! News.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johann ·

Ok….mmmmm???? So daars hy…sy…hulle…ons…almal…niemamd…iemand en ?????? En kan van ‘n vlag tot ‘n AIRBAG dra? Vra ek bloot.Mens weet deesdae ook nie wie offend jy as jy hallo sê nie. Ek bedoel lyk soos pappa…pippi.soos mamma en andersom is ook deesdae ‘n opsie plaas van die oorspronlike weergawe.

Patch ·

Wat het Sam Smith gedink toe hy instem om hierdie belaglike swart gewaad aan te trek. Dan noem hulle dit mode! Ha-ha-ha.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.