Britse rockgroep ná 18 jaar weer aan die rol

Ronnie Woord, Mick Jagger en Keith Richards tydens hul nuwe album se bekendstelling. (Foto: Daniel Leal/AFP)

The Rolling Stones het weer eens bewys dat hulle dalk oud maar beslis nog nie koud is nie en Woensdag aangekondig dat hul eerste album in 18 jaar op 20 Oktober uitgereik word.

Mick Jagger, Keith Richards en Ronnie Wood, drie lede van dié treffergroep, het dié opwindende nuus in Londen tydens ʼn amptelike bekendgestelling by die Hackney Empire-teater in Londen gevier.

Dié album, Hackney Diamonds, is die groep se eerste sedert die dood van hul tromspeler Charlie Watts in 2019, en ook die eerste album wat oorspronklike liedjies bevat sedert 2005 se “A Bigger Bang”.

Watts is in twee van die album se snitte te hoor. Die ander bevat die werk van Steve Jordan, die tromspeler wat Watts na bewering aanbeveel het om hom te vervang.

Hackney Diamonds verwys die historiese werkersklas-woonbuurt in die ooste van Londen en die glasskerwe wat op die grond gelaat word ná ʼn motorkaping.

Die groep se eerste enkelsnit in dié album, “Angry”, is saam met die albumaankondiging bekendgestel en die Euphoria-aktrise Sydney Sweeny is in die liedjie se gepaardgaande musiekvideo te sien.

“Ons wou nie sommer enige plaat maak en dit bemark nie,” het Jagger (80) tydens die bekendstellingsgeleentheid gesê.

“Ek sê nie ons is grootkop daaroor nie, maar ons is tevrede daarmee en ons hoop julle hou almal daarvan.”

ʼn Groep bekendes, onder wie Lady Gaga, Stevie Wonder en die voormalige Rolling Stones-baskitaarspeler Bill Wyman, is ook in dié album te hoor.

“Vandat Charlie weg is, is dit anders,” het die 79-jarige kitaarspeler Keith Richards gesê oor die opname van die nuwe album.

“Hy is nommer vier, hy word gemis, hy is daar bo. Natuurlik word hy ongelooflik gemis.”

Spekulasie oor ʼn nuwe album het die rondes gedoen nadat ’n vals advertensie vir ’n glasherstelonderneming onlangs in die Hackney Gazette, dié woonbuurt se plaaslike koerant, geplaas is.

Die kriptiese advertensie lyk met die eerste oogopslag na ʼn promosie vir ʼn nuwe sakeonderneming, “Hackney Diamonds”, maar bevat verskeie leidrade en verwysings, insluitende die groep se kenmerkende mond-logo, asook ʼn sin wat lui “Our friendly team promises you satisfaction”.

Bronne: CNN, AFP, The Guardian.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eclectus ·

Ek wonder baie keer watter tipe wêreld ons vir Keith Richards gaan nalaat.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die manne word oud. Wat is hul geheime doepa?

Johan ·

Wonder ek ook. Ek is ook n sg senior burger, maar dink nie ek sou kans sien om n album te laat opneem op 80jarige ouderdom nie… sou ek n popster gewees het. Dis harde werk en uitputtend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.