Bybel van sommige Texas-skole se rakke verwyder

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Amptenare in ’n skooldistrik in die Amerikaanse deelstaat Texas het onderwysers en bibliotekarisse opdrag gegee om alle boeke wat die afgelope skooljaar deur die skooldistrik se formele klagteproses betwis is, tydelik te verwyder.

Dit sluit die Bybel en ’n geïllustreerde verwerking van Anne Frank se dagboek in.

Die Keller-skooldistrik se raad van trustees het verlede week ’n beleid aanvaar wat nuwe standaarde stel vir hoe boeke en ander onderrigmateriaal vir dié distrik se skole gekeur word.

Dié beleid bepaal dat boeke vir ’n tydperk van 30 dae vir openbare beoordeling beskikbaar gestel moet word voordat dit deur biblioteke aangekoop kan word. Dit bepaal ook dat betwiste materiaal tydelik van ’n skool se boekrakke verwyder word terwyl die materiaal beoordeel en oorweeg word.

“Aangeheg is ’n lys van al die boeke wat verlede jaar betwis is,” lui ’n e-pos wat Dinsdag aan alle skoolhoofde gestuur is kort voordat die skooldistrik se leerders Woensdag ná die somervakansie teruggekeer het skool toe.

“Ek versoek dat al hierdie boeke teen die einde van vandag uit biblioteke en klaskamers verwyder word. Maak asseblief hierdie boeke bymekaar en bêre dit op ’n plek (boekkamer, kantoor of ander geskikte plek),” skryf Jennifer Price van die raad van trustees in ’n e-pos wat aan skoolhoofde gestuur is.

The Texas Tribune het dié e-pos onder oë gehad.

“Die skooldistrik se administrasie vra tans ons kampuspersoneel en bibliotekarisse om boeke wat verlede jaar betwis is, te beoordeel om te bepaal of hulle aan die vereistes van die nuwe beleid voldoen,” het die skooldistrik intussen ook in ’n verklaring gesê.

CNN berig ouers, werknemers en inwoners van die distrik word nou toegelaat om formele besware teen boeke en onderrigmateriaal wat in skole gebruik word, in te dien. ’n Komitee sal dan oorweeg of die materiaal opvoedkundig geskik is en ’n besluit neem oor of die materiaal in die skool kan bly of liefs verwyder moet word.

Daar kan ook besluit word om die gebruik van die materiaal tot spesifieke grade of studente wat hul ouers se toestemming ontvang het, te beperk.

Sodra bevestig is dat ’n boek aan die nuwe beleid voldoen, sal die boek aan biblioteke terugbesorg word.

Altesame 41 boeke is die afgelope jaar betwis. Dit sluit in alle weergawes van die Bybel sowel as sommige wat LGBTQ-ervarings verken, soos All Boys aren’t Blue deur George M Johnson en die boek Gender Queer: A Memoir deur Maia Kobabe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Marius ·

Siestog , die arme sot. Dan wonder hulle hoekom daar soveel mense dood gskiet word in Amerika.
Dit begin by die huis en die kerk , so maklik soos dit!

miraclealigner ·

In plaas daarvan om die Bybel te verwyder, hoekom maak hulle nie die besluit in die teenoorgestelde rigting en sit die Koran (Moslem-), die Vedas (Hindu-), die Tripitaka (Boedisme-) en dalk sommer die Amerikaanse Grondwet op die biblioteke se rakke nie? As jy die kinders wil leer ‘geweld is nie die antwoord nie’, sal hulle daardie boodskap kry in al die gelowe se Heilige Tekste. En as hulle enigsins ingelig is oor wêreld geskiedenis sal hulle Anne Frank se dagboek ook behoort te kan studeer. Ek raak effe knorrig as mense die geskiedenis, waaruit die toekomstige generasies moet leer, probeer verdoesel of verander om hulle eie narratief te pas.

Gaitsigubib ·

Jakobus 2:19 se : “Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook – en hulle sidder van angs”. Jy kan nie die geloof van vreemde gode aan jou kinders gaan verkondig nie. Waarom “like” almal jou skrywe? Die bybel is n geloofs boek, as jy dit gelyk stel aan ‘n gewone geskiedenis boek dan laster jy? Anne Frank se storie is merkwaardig, maar ek kan nie sien wat het dit met die berig uit te waai nie.

Oosieoos ·

Geen wonder dit gaan so sleg daar nie. Nog erger dinge sal kom

Kokerboom ·

Haal die Skepper uit jou lewe en die Skepper haal die lewe uit jou!

marius ·

Aanvaar dan maar die lot wat julle reeds getref het yanks . Nes die straf wat die hool aan die suid punt van afrika moet verduur ….vir geslagte lank .

Hennie ·

Verwyder ALLE boeke wat een of ander geloof bevat – waarom moet kinders dit in n biblioteek lees? Lees dit by die huis, as jy wil.

Anel ·

Onthou, baie kan nie ‘n Bybel bekostig nie en die biblioteek was dalk die enigste plek waar die kinders dit kon kees.

Simoné ·

Weet die verlore siel wat die toekoms is vir die wat nie die Skrif glo nie??? Dit is hartseer dat die persoon dieselfde ellende vie die kinders toewens.
Maar ek stem…. Dit kan beslis van die ouerhuis af gelees en geleer word, want op die ou end sal geen ellendige verskoning aanvaar word nie!

JohanR ·

Ek wed jou die Koran is nog op die rakke! Is die Bybel ook maar ‘n boek nie, alhoewel hy “DIE BOEK” is soe hoekom sal ;n mens dan nie meer “DIE BOEK” daar op die rakke kry nie? As ek ‘n Christen daar was sou ek saam met honderde ander daar ingeloop het en gevra het vir die Bybel.

wildtuin ·

Amerika, voeter voort!! julle sal sien waar julle opeindig deur GOD alhoemeer uit julle gemeenskap te verjaag, probeer op julle eie regkom , julle sal sien wat gebeur

Nico ·

Die tydelike verwydering van Bybels is net ‘n rookskerm, gaan die Bybels ooit weer op die rakke gesit word, Nee!!

Jaco ·

Wow, darem erg. En ek het gedink dis erg toe ek in die godsdiensklas in die ou SA gedwing is om te glo dat apartheid die wil van God is en dat net babadoop reg is en groot doop sonde is.

Nellene ·

Sensorskap! Dis wonderlike nuus. Die Bybel word gesensor! Yippee! Dit is die beste manier om tieners te kry om dit te lees. Toe ek op universiteit was, was D.H.Lawrence se Sons en Lovers gesensor. Slegs na-graadse studente kon toegang tot die boek verkry. Januarie al was daar ‘n waglys en ja almal het die boek gelees.

Niklaas ·

Texas is mos konservatief . Is dit nie deel van die sogenaamde “Bible belt” nie ? En is Pres Biden bewus hiervan en tevrede , wonder ek ?

wildtuin ·

Al word die Bybel ook hoe verban, die oorwinningsmars van die koninkryk van Christus kan nie en sal nie gestop word nie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.