Byna 400 reeds dood weens Filippynse tifoon

Nooddienswerkers spook om water en kos by slagoffers op die verwoeste eiland uit te kry (Foto: Ferdinandh Cabrera, AFP)

Altesaam 388 mense is nou reeds dood weens die kragtigste tifoon nóg wat die Filippyne twee weke gelede getref het. Dít terwyl nooddienswerkers spook om water en kos by slagoffers op die verwoeste eiland uit te kry.

Tifoon Rai het die suidelike en sentrale streke van die eilandgroep op 16 en 17 Desember getref en groot verwoesting gesaai. Die storm het kommunikasie ontwrig en kragtoevoer onderbreek, terwyl dakke afgeruk, sementstrukture omgeruk en dorpies oorstroom is.

Meer as 300 000 mense bly in ontruimingskampe, met meer as 200 000 ander wat in huise van familielede of vriende skuil nadat hulle weens die tifoon dakloos gelaat is.

Mense moes skuiling soek ná hul huise deur die tifoon vernietig is (Foto: Ferdinandh Cabrera, AFP)

Altesaam 60 mense word steeds vermis en reddingswerkers spook onverpoos om hulle op te spoor.

Amptenare van burgerlike verdediging het gesê meer as vier miljoen mense ontvang hulp in 430 stede en dorpe waar sowat 482 000 huise beskadig of vernietig is.

Sommige oorlewendes vergelyk tifoon Rai met supertifoon Haiyan wat in 2013 sowat 7 300 mense in die Filippyne dood of vermis gelaat het. Dit word tot op hede as die land se dodelikste tifoon beskou.

Minstens 140 mense het intussen ook siek geword van vermoedelik besmette water.

Altesaam 80 mense is siek met akute gastro-enteritis in die suidelike provinsie van die eiland Dinagat, terwyl 54 mense in die hospitaal op die naburige toeriste-eiland Siargao vir diarree behandel word. Die sentrale stad Cebu het 16 gevalle van diarree aangemeld.

Sowat 4 000 dosisse Covid-19-entstof is boonop ook vernietig en 141 hospitale en klinieke beskadig, waarvan slegs 30 volle bedrywighede hervat het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.