Chaos by Kaboel-lughawe

Desperate tonele by die Kaboel-lughawe waar mense uit die land probeer vlug – selfs met vliegtuie wat reeds op die aanloopbaan is (Foto: Skermgreep uit Twitter-video)

Alle weermag- en siviele vlugte is by Kaboel-lughawe opgeskort weens skares wat op die aanloopbaan uithardloop, het die Pentagon-woordvoerder John Kirby Maandag gesê.

“Amerikaanse militêre magte is op die toneel en werk saam met Turkse en ander internasionale soldate om die publiek van die toneel te verjaag. Ons weet nie hoe lank dit gaan neem nie,” het Kirby bygevoeg.

Maroela Media het vroeër berig Taliban-vegters het Kaboel Maandag gepatrolleer ná ʼn vinnige einde aan Afghanistan se 20 jaar lange oorlog. Duisende mense het na die lughawe gehaas om voor die groep se Islamitiese oorheersing uit te vlug.

Pres. Ashraf Ghani het Sondagaand die land verlaat toe rebelle die hoofstad omsingel het. Alle stede is in slegs 10 dae oorgeneem.

Regeringsmagte het ineengestort sonder die ondersteuning van die Amerikaanse weermag wat in 2001 die land ingeval het ná die 11 September-aanvalle en die Taliban omvergewerp weens sy ondersteuning aan Al-Kaïda.

Die VSA het egter versuim om ʼn demokratiese regering op te rig wat in staat is om die Taliban te kan weerstaan, ondanks miljarde dollar wat spandeer is en twee dekades se militêre ondersteuning.

Taliban-vegters het sleutelpunte oor die stad heen oorgeneem en gewapende militante het deur die strate van die Groen Sone gestap – die distrik waar meeste ambassades en internasionale organisasies geleë is.

Die Taliban wil die internasionale gemeenskap verseker dat Afghani’s nie vir hulle bang hoef te wees nie en gesê hulle sal nie weerwraak neem teen diegene wat die Amerikaanse alliansie ondersteun het nie. Abdul Ghani Baradar, medestigter van die Taliban, het op sosiale media ʼn beroep op sy vegters gedoen om selfbeheersing te behou ná hulle beheer geneem het oor die stad.

Chaos by die lughawe

Daar was egter Maandag desperate tonele by Kaboel se lughawe toe mense probeer het om plekke te bekom op die paar beskikbare vlugte.

“Ons is bang om in hierdie stad te bly,” het ʼn 25-jarige oudsoldaat aan AFP gesê terwyl hy tussen ʼn groot skare mense op die aanloopbaan gestaan het. “Omdat ek diens gedoen het in die weermag, sal die Taliban my beslis teiken.”

ʼn Afghaanse weermagvliegtuig het in Oezbekistan neergestort, het die ministerie van verdediging Maandag gesê. Die nabygeleë Tadjikistan het gesê meer as 100 Afghani-soldate het reeds by een van sy lughawens geland.

Die VSA het 6 000 troepe na die lughawe gestuur om seker te maak dat personeel van die ambassade veilig kan ontruim, tesame met Afghani’s wat as tolke of in ander ondersteunende rolle gewerk het.

Ander regerings, insluitend Frankryk, Duitsland en Australië, het ook vlugte gereël.

Die Amerikaanse regering het Maandag gesê hy het beheer geneem by die lughawe, maar ooggetuies sê soldate het skote in die lug gevuur om die skare te verjaag.

ʼn Beampte van die Pentagon het gesê Amerikaanse soldate het twee mans in die skare doodgeskiet toe hulle “vuurwapens met ʼn dreigende houding gerig het”.

Owerhede het daarna alle oorblywende handelsvlugte gekanselleer uit vrese vir plunderaars.

Die VSA het vroeër ʼn verklaring uitgereik met meer as 65 lande wat die Taliban maan om Afghani’s toe te laat om die land te verlaat. Hulle waarsku oor aanspreeklikheid vir enige mishandeling.

Die Amerikaanse sekretaris-generaal Antonio Guterres het die Taliban en alle partye gemaan “om selfbeheersing toe te pas” en gesê die regte van vroue en kinders moet beskerm word. Die Taliban het tydens hul bewind tussen 1996 en 2001 ʼn uiters streng interpretasie van die Sjaria-wet toegepas. Dit sluit in dat dogters verbied word om skool te gaan en vroue verbied word om te werk. Mense is in die publiek gestenig vir owerspel.

Maroela Media verneem daar is moontlik Suid-Afrikaners wat in Kabul vasgekeer is, maar geen bevestiging kon tot dusver bekom word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

annie ·

… vlugtelinge met net die klere wat hul aan het? En so vloei die strome die Weste binne om ‘n totaal nuwe bevolking tot stand te bring en dan volg die Taliban hulle ook weer. Islam in die vaderland of Islam in Europa of in die VSA is dieselfde oraloor. Waarheen sal wit Christene vlug of welkom wees. Ons vlug vir vervolging na die Kaap, vlug noord, vlug weer suid na waar Islam ook setel en dan vlug na …. ?

Janee ·

Tragiese situasie…..dit bly mense. Amerika sal moet verduidelik…wil ook altyd roer waarhulle nie moes…en alles kom tot niks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.