Christchurch-terreur: Skieter wou 3 moskees teiken, afbrand

Brenton Harrison Tarrant Maandag in die hof in Christchurch, Nieu-Seeland. (Foto: John Kirk-Anderson/Pool Photo via AP)

Die man wat verantwoordelikheid aanvaar het vir die skietvoorvalle by twee moskees in Christchurch, Nieu-Seeland, in 2019 het glo nie net beplan om ’n derde moskee te teiken nie, maar ook om die moskees ná die aanvalle af te brand.

Só het die staatsaanklaer Maandag in ’n hof aangevoer nadat Brenton Harrison Tarrant (29) in Maart vanjaar skuldig gepleit het op 51 aanklagte van moord, 40 aanklagte van poging tot moord en een aanklag van terrorisme – die eerste veroordeling van terrorisme in die geskiedenis van Nieu-Seeland.

Nuwe besonderhede oor die aanvalle in Maart 2019 het op die eerste dag van Tarrant se vonnisverhoor in die hooggeregshof in Christchurch aan die lig gekom. Die verhoor is vir vier dae op die hofrol geplaas.

Maroela Media het vroeër berig 51 mense is dood toe Tarrant op 15 Maart 2019 op aanbidders gedurende ’n gebedsbyeenkoms by twee moskees in Christchurch losgebrand het.

Tarrant, ’n Australiër, kan nou die eerste mens in Nieu-Seeland word wat tot lewenslange gevangenisstraf sonder die moontlikheid van parool gevonnis word.

Slagoffers en die familie van slagoffers daag Maandag by die hof op. (Foto: AP Photo/Mark Baker)

Volgens Barnaby Hawes, staatsaanklaer, het Tarrant in 2017 na Nieu-Seeland verhuis waarna hy ’n arsenaal hoogaangedrewe wapens asook 7 000 patrone begin koop het.

Hawes het verder aangevoer dat Tarrant twee maande voor die aanvalle ’n hommeltuig oor die Masjid Al Noor- en Linwood Masjid-moskee in die stad laat vlieg het om ’n lugfoto van die onderskeie terreine, geboue en die moskees se in- en uitgange te neem.

Volgens Hawes het Tarrant beplan om op die moskees toe te slaan wanneer die maksimum aantal aanbidders teenwoordig sou wees. Altesaam 190 aanbidders was die betrokke dag van die aanvalle  gedurende Vrydaggebede by die Masjid Al Noor-moskee teenwoordig.

Die hof het ook gehoor dat Tarrant die betrokke dag ses gewere in sy motor gehad het. Hy het ook vier aangepaste gashouers saamgeneem waarmee hy beplan het om die moskees af te brand nadat hy op aanbidders sou losbrand.

Volgens Hawes het Tarrant destyds ná die aanvalle aan die polisie gesê hy wens hy kon die gashouers gebruik het en meer mense geskiet het.

“Jy het jou eie menslikheid doodgemaak en ek dink nie die wêreld sal jou kan vergewe vir jou aaklige misdaad nie,” het ’n emosionale Maysoon Salama, die ma van Atta Elayyan (33) wat in die aanvalle vermoor is, Maandag in die hof gesê. “Jy het gedink jy kan ons breek. Jy het klaaglik misluk.”

Tarrant het sy prokureurs in die pad gesteek en verteenwoordig nou homself in die hof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Persheks Adri ·

Ek onthou daai video’s soos gister en dit was aaklig! Hoe doen iemand so iets waar die mense gaan bid? Hy’s siek in sy kop! Hoop jy sit vir ewig

Niklaas ·

Daardie knaap het ontsettend baie haat in hom , en ek dink nie hyself weet hoekom , nie.

Jaco ·

Maar Moslems in Irak mag maar kerke aanval en afbrand en ook Christene vermoor. Dis alles OK al vir amper 30 jaar. Die res van die wêreld bly stil daaroor. Dit gaan ook so met Christene in Sirië, Soedan, Afghanistan en talle ander moslemlande. Maar dis seker maar polities korrek om nie daaroor te kla nie.

Eltan ·

Jaco ek stem saam met jou. Nie dat ek sy dade goedkeur nie…maar waarom maak internationale media nie so groot “hoo-haah” as sekere moslem groepe ander geloofsgroepe aanval en uitmoor nie…

ZeldA ·

Gaan in ons skole ook so hier. Ons mag nie die Moslems te na kom nie. Eksamens word uitgestel vir hul feeste en hul word in nuusbriewe geluk gewens. Hemelvaartdag word nie eers genoem by die skole hier nie, om n voorbeeld te noem.

ES ·

Klink my die mannetjie het het ‘n skroef of ses los… hy wil duidelik nie regverdig verhoor word nie.

Moedeloos ·

Hoekom moet hy regverdig verhoor word as hy klaar alles beaam het. Dit is geldmors en waar gaan hy die geld kry as hy tronk toe gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.