David en Victoria Beckham se oudste haak in styl af

Brooklyn Beckham en sy vrou, Nicola Peltz. (Foto: Instagram/Vogue Magazine)

Een van Brittanje se bekendste en mees modieuse families is nóg ʼn skoonheid ryker.

Die sokkerster David Beckham en sy popster- en mode-ontwerpersvrou, Victoria, se oudste seun het die afgelope naweek sy troubeloftes tydens ʼn uitspattige drie dae lange fees in Palm Beach, Florida in die VSA, behoorlik gevier.

Die 23-jarige Brooklyn Beckham, ʼn aspirant‑sjef en fotograaf, en sy nuwe vrou, die model en aktrise Nicola Peltz, het op 9 April by Peltz se familielandgoed voor 600 gaste trou aan mekaar beloof.

Beckham het Peltz reeds in 2020 – kort ná hul verhouding bekendgemaak is – die jawoord gevra en wou reeds in 2021 trou, maar hul trouplanne is egter weens die Covid-19-pandemie in die wiele gery.

Die glansryke geleentheid het byna $3,5 miljoen dollar (nagenoeg R51,2 miljoen) gekos, ʼn druppel in die emmer vir die erfgenaam, wie se miljardêr pa, Nelson Peltz, luidens Forbes die 432ste rykste persoon in die VSA is.

Gaste het onder andere die sjef Gordon Ramsay, tennister Serena Williams, aktrise Eva Longoria en Victoria se voormalige Spice Girls-groeplede Mel B en Mel C, ingesluit.

Peltz het van Vogue se pragfoto’s op Instagram gedeel. (Foto: Instagram/Nicola Peltz)

Beckham se jonger suster Harper (10) was blommemeisie terwyl Peltz se ouma, Claire Peltz, haar as hoofbruidsmeisie ondersteun het.

Sy pa het luidens mediaberigte ʼn tranerige toespraak tydens die onthaal gelewer en geskerts dat hy destyds so beskermend was dat hy op die hospitaal vloer geslaap het die aand wat sy eersteling gebore is.

Vogue het berig dat die bruid ʼn pasgemaakte Valentino-rok, wat ʼn jaar geneem het om te voltooi, en haar man ʼn Dior-pak gedra het. Die blonde skoonheid se eenvoudige, natuurlike grimering en haarstyl is deur die model Claudia Schiffer se kenmerkende 1990’s-styl geïnspireer.

Talle gaste het ook in Beckham se modeontwerper-ma se uitrustings gepronk.

Gaste is gevra om donasies aan Oekraïniese liefdadigheidsorganisasie te skenk eerder as geskenke vir die egpaar te gee.

Bronne: Vogue, People.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gawie ·

Ja, dis hoe die ander helfte lewe. Hulle wil hê gaste moet geld vir Oekraïne skenk – kon hulle nie maar ‘n eenvoudiger geleentheid gehou het en al daardie geld vir die troue eerder skenk nie?

AmY ·

Nee wat. Geniet maar julle lewe van ‘GLITZ AND GLAMOUR.’
Wie wil nou oor ‘n hele naweek trou?
Nie vir my nie.
En om sake ‘nie te uitspattig te hou nie’, soek hulle nie trougeskenke nie.
Maar baie geluk in elk geval.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.