Dié vlermuis weeg net 5 g

Die kleinste vlermuis in Afrika. (Foto: Facebook/Gorongosa Nasionale Park)

Die kleinste vlermuis in Afrika. (Foto: Facebook/Gorongosa Nasionale Park)

ʼn Dwergvlermuis met die wetenskaplike naam Rhinolophus gorongosae en met ʼn liggaamsgewig van slegs 5 g is onlangs amptelik aangewys as Afrika se kleinste saalneusvlermuis.

Volgens ʼn nuwe studie wat onlangs in die Zoological Journal of the Linnean Society gepubliseer is, kom dié vlermuisie slegs binne die grense van die Gorongosa Nasionale Park in Mosambiek voor en moontlik ook in die nabygeleë Mount Mecula in dié land.

Die Gorongosa Nasionale Park het in ʼn Facebook-inskrywing gesê die vlermuis is met behulp van genetiese en morfologiese tegnieke onderskei van saalneusvlermuisspesies in omliggende gebiede.

Dié inligting is op 24 April vanjaar onder die titel “Integrative taxonomy resolves three new cryptic species of small Southern African horseshoe bats (Rhinolophus)” gepubliseer.

ʼn Artikel deur die Universiteit Stellenbosch dui aan dat ʼn span navorsers onder leiding van prof. Peter Taylor van die Universiteit van Venda, hierdie ontdekking gemaak het nadat hulle verskeie vlermuise in twee grotte in Mosambiek gevang het.

Dié vlermuis weeg slegs 5 g. (Foto: Facebook/Gorongosa Nasionale Park)

Dié vlermuis weeg slegs 5 g. (Foto: Facebook/Gorongosa Nasionale Park)

Volgens Taylor dui hul navorsing op die belangrike rol wat eeue oue bergvormingprosesse gespeel het in die soortvorming van saalneusvlermuise.

“Dit hou belangrike implikasies vir bewaring in, aangesien dit die feit blootlê dat spesies kleiner verspreidingsgebiede het as wat voorheen aanvaar is, en dat huidige bedreigings van berghabitatte soos bosaanplantings, onbeheerde brande, indringerplante en klimaatsverandering die risiko vir die uitsterwe van hierdie kwesbare spesies drasties verhoog,” het Taylor gesê.

Taylor beklee die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel (SARChI) in Biodiversiteit en Verandering in die Vhembe-biosfeer-reservaat van die Skool vir Wiskundige en Natuurwetenskappe aan die Universiteit van Venda. Die leerstoel word gedeel met die Universiteit Stellenbosch. Taylor se navorsing fokus op indringerbiologie, en veral die verspreiding van siektes wat van dier na mens oorgedra kan word, en geïntegreerde bestuur van indringer rot- en muisspesies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Theresa ·

Mooi van lelikgeid! So piepklein – hoop nie dit word ‘n peuselhap nie.

John ·

…. en vlermuise dra die dodelike ebola-virus en is nie ons maatjies nie… In die Kongo en omstreke eet van die inboorlinge die plaaslike vlermuise. Hopelik gaan die mode nie hierheen oorwaai nie en die siekte nie hierheen reis nie…

Rina ·

Ek is lief vir diere baie lief……!! Vlermuise gladnie – kan boeke skryf oor jagtogte van vlermuise! Skuus diereliefhebbers! As hulle eers so oor jou duik……..!!!!

E.K. die eerste ·

Hulle is BAIE belangrik in die natuur. Weet julle hoeveel msukiete net een vlermuis per nag opeet? Malaria vs Ebola? Malaria veroorsaak baei meer mense se dood as Ebola. As mense kos goed gaar maak en skoon lewe kan meeste siektes nie vatplek kry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.