Die week in foto’s

Frankryk: Water vloei in die strate van Neuville-sous-Montreuil in Noord-Frankryk. Die Pas-de-Calais-streek is weereens deur swaar stortreën getref en is vir die tweede keer die week op rooi waarskuwing vir oorstromings geplaas, met ʼn historiese styging in watervlakke. (Foto: Sameer Al-Doumy/AFP)

Verenigde State: Die reusepanda Xiao Qi Ji hang onderstebo aan ʼn boom by die Smithsonian se nasionale dieretuin in Washington, DC. Dit was Dinsdag die laaste dag wat mense die panda kon besoek voordat hy na China terugkeer. Al drie die dieretuin se pandas vertrek teen die einde van die jaar na China, wat ʼn tydelike einde bring aan ʼn dekades oue verbintenis tussen dié diere en die Amerikaanse hoofstad. (Foto: Jim Watson/AFP)

Verenigde Koninkryk: Koning Charles III en koningin Camilla reis in die Diamond Jubilee-terwyl betogers in aanloop tot die staatsopening van die parlement oorkant die parlementsgebou in Londen betoog. (Foto: Henry Nicholls/AFP)

Thailand: Hierdie lugfoto wat op 4 November geneem is, wys toeriste aan boord van die gewilde “drywende trein”. Passasiers neem foto’s langs die treinspore tydens ’n stop in die middel van die Pasak Jolasid‑dam, Thailand se grootste reservoir in die Lopburi‑provinsie. ’n Man in ʼn boot hou die skouspel dop terwyl passasiers die uitsig oor die water geniet. (Foto: Manan Vatsyayana/AFP)

Indonesië: Hierdie lugfoto wys die nuutgeboude drywende sonkragaanleg, wat 192 megawatt elektrisiteit kan opwek. Die projek is deur die Indonesiese regering in samewerking met Masdar van die VAE aangepak. Die foto is by die Cirata‑reservoir geneem, kort voordat die aanleg deur president Joko Widodo ingewy is. (Foto: Bay Ismoyo/AFP)

Libanon: ʼn Man wys na vlamme in ’n veld naby die grensdorpie Burj Al-Mamluk in suidelike Libanon se Khiam-vlakte. Die veld het aan die brand geslaan ná ʼn Israelse lugaanval op 9 November. (Foto: Hassan Fneich/AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.