Die week in foto’s

Peru: ʼn Slingerapie knaag aan ʼn gevriesde vrugteblokkie by die Legends Park-dieretuin in Huachipa. Om verligting te bring van die geweldige hitte, het die dieretuin met ʼn plan vorendag gekom om appels, wortels en vleis in groot blokke te vries. “Die strategie word gebruik om die welstand van die diere in die warm weer te verseker,” sê Sonia Rivera, bioloog van die dieretuin. (Foto: Cris Bouroncle/AFP)

Irak: Landbougrond in die streek Hamrin is deur ʼn olielekkasie besoedel. Irak word dekades lank al deur konflik, korrupsie en verrottende infrastruktuur geteister. Olielekkasies besmet veral landbougrond in die noordelike provinsie en die uitwerking hiervan is uiters nadelig wanneer dit reën. (Foto: Abdel Khaleq Al-Samarrai/AFP)

Palestynse gebiede: Rook borrel uit een van die grootste plastiekfabrieke aan die Wesoewer, terwyl lede van die burgerlike verdediging en brandbestryders (nie in die foto nie) die vuur probeer blus.   (Foto: Hazem Bader/AFP)

Verenigde State: ʼn Brandweerwa is op pad na die  Smokehouse Creek-brand, naby Amarillo. Sowat 25 van 31 brande in die staat was teen Woensdag onder beheer, hoewel die Smokehouse Creek-brand, die grootste van hierdie brande, toe reeds 300 000 ha verbrand het. (Foto: Greenville Professional Firefighters Association/AFP)

Mexiko: Die Popocatepetl-vulkaan skiet as die lug in. Volgens owerhede is bykans 24 vlugte in en uit die Latyns-Amerikaanse hoofstad weens as vanuit die vulkaan gekanselleer. (Foto: José Castañares/AFP)

Marokko: Mense ski by die Michlifen-ski-oord met sleë teen ʼn heuwel. Dié oord is in die Atlasgebergte naby Ifrane, 300 km noordoos van die hoofstad Rabat, geleë. (Foto: Fadel Senna/AFP)

Frankryk: Mense bewonder die besonderse sonsondergang op die Franse Riviera in die stad Nice. (Foto: Valery Hache/AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.