Die wieg van die mens lê in Noordelike Botswana

Jacks-kamp by die Makgadikgadi-soutpanne tussen Maun en Francistown in Botswana. Foto: Botswana.co.za

Wetenskaplikes se ontdekking dat die mens se eerste tuisland Botswana was, is nou internasionaal groot nuus. Die gebied, waar die Makgadikgadi-soutpanne vandag is, was egter ongeveer twee miljoen jaar gelede ʼn hoogs interessante gebied met ʼn reusemeer gevoed deur riviere wat vandag in verskillende rigtings in oseane uitmond. Herman Toerien het na hierdie prehistoriese geskiedenis gaan ondersoek instel.

Die verhaal wat nou oor die plek van herkoms van die mens (Homo sapiens) ontvou, maak maar ʼn fraksie uit van die prehistoriese geskiedenis van die gebied wat nou as die Makgadikgadi in die noorde van Botswana bekendstaan.

Die gebied bestaan meestal uit soutpanne, maar was eens ʼn reusemeer van tussen 80 000 en 275 000 vierkante kilometer groot. Sommige bronne verwys na dié prehistoriese watermassa as ʼn binnelandse oersee.

Hoewel die reënval by tye veel hoër was as nou, het die oorspronklike water van die Kunenerivier gekom, wie se loop later so verander het, dat die water nou na die Atlantiese Oseaan vloei. Die Okavango, die boloop van die Zambezi- en die Cuando-rivier het in dié meer uitgeloop. Die Okavango loop steeds in die Okavango-moeras in die vorm van ʼn delta uit, wat eens die buiterand van die Makgadikgadi uitgemaak het. Dié meer self was sowat 30 meter diep.

Prof. Vanessa Heyes saam met lede van ‘n gemeenskap in die oostelike Omaheke in Namibië, wat ook aan die navorsing oor die wieg van die mensdom deelgeneem het. Foto: Chris Bennett/Evolving Picture/UP

Die mens was slegs sowat die laaste 200 000 jaar ’n inwoner van dié gebied.

Sedert die meer ongeveer 20 000 jaar gelede begin oorloop het en na die Zambezirivier begin dreineer het, het die meer ook geleidelik begin opdroog. Die meer is egter ook geleidelik deur slik van die Okavango en waaisand gevul.

Die mense van dié gebied het egter reeds sowat 130 000 jaar gelede begin migreer, en die groot migrasie het tot ongeveer 110 000 jaar gelede geduur.

  • Die verskynsel van riviere wat hul loop so drasties verander het, is nie uniek aan Botswana nie. Ook die Oranjerivier se loop het oor die jare verander. Hy het aanvanklik veel verder suid uitgemond, wat verklaar hoe daar spoeldiamante suid van die huidige monding by Oranjemund gevind kan word. Die Benguelastroom vloei van suid na noord. Die Sishen-Saldanhaspoor is in die oerloop van die Oranje gebou, wat die nodigheid van werk oor dwarsliggende berge en ander hindernisse grootliks uitgeskakel het.
  • Die Kongorivier het voor kontinentale drywing by die Amasonerivier aangesluit, en dié reuserivier het in die teenswoordige Peru in die see gevloei. Weens kontinentale drywing is die Andesgebergte gevorm, en die oerrivier se vloei weswaarts gestop. Met die ontstaan van die Atlantiese Oseaan is die verbinding tussen die Kongo en die Amasone verbreek, en die Amasone het sy vloeirigting heeltemal omgekeer.
  • Sowat 20 000 jaar gelede het die Makgadikgadi-meer sy kapasiteit bereik, en die water het die laagste roete vir ’n uitlaat gevolg. Dit was in die noordooste en so het die boloop en die onderste loop van die Zambezi by mekaar aangesluit en het die meer se water ook in die Indiese Oseaan gedreineer.

Voor die meer gevorm het, het hierdie binnelandse riviere in die Limpopo gedreineer.

Lees meer in Wikipedia hier wat reeds die nuutste inligting bevat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

JohanR ·

Ummmmmm….altyd gedink die wieg van die mens le in Nkandla. En daar val ek alweer van my stoel af van die lag!!!!

Danie T ·

Bevestig weereens die nietigheid van die mens in die skepping

Marelize ·

Ek wens ek kon dit glo, maar wanneer teorieë as feite aangebeid word, betwyfel ek klaar alles wat gesê/geskryf word

krapkop ·

So se mense wat nie hul bybel en skepping ken nie. By die hoeveel cradle of human kinds (wieg van die mens) is daar noual een is dan iewers naby Krugersdorp. Komaan mense kry grip as die mens in die deel van afrika ontstaan het kan die hele wereld hier kom grond opeis. Doen bietjie moeite en vors die bybel na dan leer julle hoe word julle mislei deur sommige geleerdes.

Leon ·

Die Bybel se skepping verhaal is nie ‘n letterlike verhaal nie. Dit vertel net die volgorde wat God die Aarde deur evolusie aanmekaar gesit het. Onthou ‘n dag vir God is soos ‘n duisend jaar vir die mens. God kon ‘n miljoen jaar gebruik het om elke dag van die skeppingverhaal voor te stel. Rome en die Aarde is nie in een dag gemaak nie. Dit is wat God so wondelik maak. Hy het sy tyd gevat. Ons foeter dit sommer op in ‘n paar jaar.

Gerhardus ·

Leon, as dit wat die Woord van God sê oor die skepping nie letterlik opgeneem moet word nie, kan mens noodwendig die afleiding maak dat ander dele daarvan ook nie letterlik opgeneem moet word nie.
Het Dawid die reus doodgemaak?
Het Abraham bestaan?
Het Christus vir jou sonde gesterf en opgestaan uit die dood?
Ek verkies om die Woord te glo. As God deur evolusie geskep het, sou die Bybel dit genoem het.
Jy sal verbaas wees hoeveel inligting die sg “wetenskaplikes” uit hulle duime suig om hulle vooropgestelde idees en agenda te pas.

marous ·

Gedink dit was naby Potch . Dalk besluit om oornag op te pak en weg te kom ….

E.K. die eerste ·

Wieg van die Mensdom (Cradle of Humankind) is in Gauteng, buite Krugersdorp en strek tot in dele van Noordwes ens

Vrydenker Vlakvark ·

Dankie Herman.
Volgens my beskeie mening is daar nog gladnie klinkklare oortuigende bewyse waar en wanneer die Homo sapiens sapiens sy eerste treë op aarde gegee het nie. Die nodige bewyse mag dalk nog vir duisende jare ongevind meters onder die grondoppervlak wees, nugter weet waar oral. Of die mensdom mag dalk nooit die werklike antwoord vind nie.
Elke argeoloog behoort hIerdie studieveld met uiterste omsigtigheid te benader om verleenthede te voorkom. Caveat argeoloë!

Jannie van Niekerk ·

En al die jare het ek gedink die eerste mense, Adam en Eva was Jode of Israeliete….

Vrydenker Vlakvark ·

Wie het alle huidige en toekomstige data, inligting en wysheid in pag oor hoe en wanneer en waar en met welke voertuig die eerste mense voet aan wal op die aarde gesit het? Deur evolusie? Deur ‘n goddelike ingreep? Enige nde opsie waarvan ons nog nie kennis dra nie? Ontspan. Dalk of dalk nie is die inligting nie belangrik nie. In elk geval het alle mense voete van klei. Dalk gaan die evolusie of ‘n goddelike ingreep of ander faktor soos oorbevolking of gierigheid die mensdom weer van die aarde delg. En dan mag natuurlewe weer juig oor die patetiese mensdom se afwesigheid! Ontspan en geniet jou koffie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.