Disney gedagvaar oor Toy Story 4-karakter

Duke Caboom in Toy Story 4 (Foto: Skermgreep uit YouTube-video)

Evel Knievel se seun dagvaar Disney oor ʼn waaghalskarakter in die tekenprent Toy Story 4.

Kelly Knievel (60) beskik sedert 1998 oor die openbare regte vir sy pa se naam, aldus sy hofdokumente wat in Las Vegas in die Amerikaanse distrikshof ingedien is.

Die federale handelsmerkoortredingsaak voer aan dat Pixar, wat deur Disney besit word, nie toestemming gevra het om ʼn karakter, wat soortgelyk is aan sy pa, gebruik toe hulle die karakter Duke Caboom geskep het nie.

Knievel eis skadevergoeding van meer as $300 000 (net meer as R5 miljoen) oor bewerings van valse goedkeuring en onregverdige verryking.

“Evel Knievel het nie miljoene wêreldwyd vermaak, sy bene gebreek en sy bloed gestort net sodat Disney miljoene kan verdien nie.”

Keanu Reeves was die stem vir die Duke Caboom-karakter in die fliek wat verlede jaar vrygestel is. In die fliek is Duke Caboom ʼn speelding uit die 1970’s wat met ʼn motorfiets ry en as “Kanada se beste waaghals” bekendstaan.

Evel Knievel (1970’s) (Foto: Bill Wolf/Sean (Flickr) – At Home With Evel Knievel via Wikimedia Commons)

Knievel was bekend vir toertjies soos ʼn sprong met sy motorfiets oor ʼn ry busse by Wembley-stadion.

Hy het verskeie kere tydens 75 spronge met sy motorfiets ernstige beserings opgedoen. Hy is in 2007 oorlede weens ʼn longsiekte.

ʼn Evel Knievel-speelding is in 1973 bekendgestel met ʼn wit valhelm en oorpak en ʼn motorfiets wat opgewen kon word.

Disney en Pixar het ʼn soortgelyke Duke Caboom-speelding as bemarking vir Toy Story 4 vrygestel. Die speelding was ook beskikbaar in McDonald’s se Happy Meal.

Die hofsaak voer aan verbruikers en fliekresensente het “wêreldwyd die verbinding gemaak”, ondanks pogings deur die fliekmaatskappy en Reeves wat nie enige vergelyking getref het nie.

Jeffrey R Epstein, woordvoerder vir die Walt Disney Co, het Knievel se bewerings as sinneloos afgemaak en gesê die maatskappy sal baie moeite doen om homself te verdedig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.