Djokovic loop Miami ook mis

Novak Djokovic. Foto: Adrian Dennis/AFP.

Novak Djokovic sal nou ook die Miami-Ope-tennistoernooi moet misloop nadat hy toegang tot die Verenigde State geweier is.

Dié land vereis nog tot minstens 10 April van internasionale besoekers om teen Covid-19 ingeënt te wees indien hulle die land wil binnegaan. Die wêreld se voorste tennisspelers slaan Sondag in Miami Gardens, Florida, af.

Die oningeënte Djokovic het aansoek gedoen om spesiale toestemming om die VSA binne te gaan, maar die aansoek is eindelik van die hand gewys, berig BBC.

“Ons het alles gedoen wat ons kon. Ons het probeer om met die regering te praat, maar dit is uit ons hande,” sê James Blake, direkteur van die Miami‑Ope-tennistoernooi.

“Ons is natuurlik een van die voorste toernooie in die wêreld en wil graag hê die beste spelers moet hier kan speel … Ons het probeer om vrystelling vir Novak Djokovic te kry, maar dit het nie gebeur nie.

“Ons sal hom graag hier wil hê. Hy is ons grootste kampioen. Hy het ses keer hier gewen. Maar ongelukkig is dit ver bo my besluitnemingsbevoegdheid,” het Blake in ’n televisieonderhoud verduidelik.

Djokovic het hom om dieselfde rede aan die Indian Wells-toernooi onttrek wat tans in Kalifornië aan die gang is.

Die Serwiër sal egter op 9 April op die kleibane van die Monte Carlo-meesters wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.