Dodetal styg tot 33 ná brand by Japannese animasie-ateljee

Die gebou in Kyoto in Japan waar die aanval plaasgevind het. Minstens 33 mense het reeds gesterf. (Foto: Kyodo News via AP)

ʼn Man wat geskreeu het “julle gaan sterf” het by ʼn animasie-ateljee in Kyoto in Japan ingebars, ʼn vlambare vloeistof uitgegooi en die plek aan die brand gesteek.

Die dodetal in die voorval, wat animasie-aanhangers verstom gelaat het, het nou reeds tot 33 gestyg.

Nog 36 mense is beseer, sommige van hulle bitter ernstig, in die daaropvolgende brand wat mense na die dak laat skarrel het in ʼn desperate maar vergeefse poging om aan die vlammehel te ontsnap. Ander het bebloed, roetbesmeer en kaalvoet – maar lewend – uit die gebou gestrompel.

Die vermeende aanvaller is tydens die voorval beseer en word self in ʼn hospitaal behandel. Die polisie het hom as ʼn 41-jarige man geïdentifiseer en gesê hy is nié ʼn werker by die ateljee nie. Daar is in dié stadium geen motief vir die aanval bekend nie.

Die meeste slagoffers was werkers van Kyoto Animation, wat werk doen vir flieks en TV-produksies. Die ateljee is egter die bekendste vir sy trefferreeks oor hoërskoolmeisies. Die programme is só gewild dat sommige plekke daarin nou al sogenaamde pelgrimsbestemmings vir aanhangers geword het.

Die brand het in die drieverdiepinggebou in Japan se antieke hoofstad ontstaan kort nadat die aanvaller die onbekende vloeistof gespuit het, het die polisie en brandweeramptenare gesê.

“Daar was ʼn ontploffing en ek het mense gehoor skree, sommige het gepleit om hulp,” het ʼn getuie aan TBS TV gesê.

“Swart rook het uit die vensters van die boonste verdiepings geborrel en daar was ʼn man wat by een van die vensters probeer uitkruip het.”

Japannese media het berig die brand het moontlik naby die voordeur ontstaan, wat mense gedwing het om alternatiewe ontsnaproetes te probeer vind.

(Foto: AP/Hiromi Tanoue)

Brandbestryders het 33 liggame gevind, 20 van hulle op die derde verdieping en sommige op die trappe na die dak, waar die slagoffers vermoedelik ineengestort het. “Twee mense is op die eerste verdieping dood en 11 ander op die tweede verdieping,” het Kazuhiro Hayashi, ʼn lid van die brandweer, gesê.

ʼn Ooggetuie wat sê hy het gesien hoe die aanvaller deur die polisie genader word, het ook aan Japannese netwerke gesê die man het gekla dat iets van hom “gesteel” is, moontlik deur die maatskappy.

Beelmateriaal van die staatskanaal NHK wys skerp messe wat die polisie op die toneel gevind het, hoewel dit onduidelik is of dit aan die aanvaller behoort het.

Oorlewendes het vertel dat die man geskreeu het “julle gaan sterf” voordat hy die vloeistof uitgegooi het. Die vloeistof het glo ook op sommige van die oorlewendes gespat.

“My hart is geweldig seer. Waarom op aarde is sulke geweld nodig?” het maatskappypresident Hideaki Hatta gesê.

Hatta het gesê die maatskappy het vantevore al verskeie anonieme doodsdreigemente per e-pos gekry, maar dat hy dit nie met Donderdag se aanval verbind nie.

(Foto: Kyodo News via AP)

Animasie-aanhangers het hulle skok op sosiale media uitgespreek en vir die slagoffers gebid. ʼn Skarefinansieringswebwerf is ook op die been gebring om die maatskappy te help.

Brandweeramptenare het gesê meer as 70 mense was in die gebou toe die brand uitgebreek het.

Die dodetal is reeds meer as ná ʼn aanval in 2016, toe ʼn man 19 mense by ʼn sorgsentrum in Tokio doodgesteek het.

ʼn Brand in Tokio se digbevolkte Kabukicho-vermaakdistrik in 2001 het 44 lewens geëis, in wat beskou word as die ergste voorval van brandstigting in die land se hedendaagse tyd.

Die polisie het nog nie aangekondig dat enigiemand in verband met die brandstigting in hegtenis geneem is nie, maar vyf mense is skuldig bevind aan nalatigheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.