Dokter neem eie lewe ná dreigemente van aktiviste teen inenting

Dr. Lisa-Maria Kellermayr van Oostenryk. (Foto: Twitter)

Talle inwoners van Oostenryk is woedend nadat ’n dokter – wat maande lank doodsdreigemente en verbale mishandeling van aktiviste teen inenting moes verduur – haar eie lewe geneem het.

Die klokke van Wene se St. Stephen’s-katedraal het verlede week oor dié stad gebeier ter nagedagtenis aan dr. Lisa-Maria Kellermayr.

Kellermayr (36) is op 29 Julie dood by haar praktyk in Seewalchen gevind. Pres. Alexander van der Bellen het intussen dié klein dorpie besoek om blomme ter nagedagtenis aan Kellermayr neer te lê en het ʼn beroep op Oostenrykers gedoen om “ʼn einde aan intimidasie en vrees te maak”.

’n Verdagte word tans vir haatspraak ondersoek in verband met die intimidasie wat Kellermayr voor haar dood moes verduur.

Kellermayr het maande lank doodsdreigemente ontvang weens haar kritiek op die betogings teen inperkings van verlede jaar. Haar praktyk is geleë in ʼn streek met lae inentingsyfers en sy het gereeld kritiek op die betogings gelewer.

“Ons ontvang al vir meer as sewe maande … doodsdreigemente van diegene wat gekant is teen koronavirusmaatreëls en inentings,” het sy vroeër gesê.

Sy het ook ʼn boodskap van ʼn internetgebruiker gedeel wat gesê het hy of sy sal hulself as ʼn pasiënt voordoen en dan Kellermayr en haar personeel aanval.

Kellermayr het ook onthul hoe sy “meer as €100 000” (sowat R1,7 miljoen) in maatreëls belê het om haar pasiënte se veiligheid te verseker en op die rand van bankrotskap was.

Toe, aan die einde van Junie, kondig Kellermayr op haar professionele webwerf aan dat sy tot verdere kennisgewing geen pasiënte gaan spreek nie.

“Sy het dit nie gewaag om haar praktyk te verlaat nie,” vertel Daniel Landau wat onlangs ʼn gedenkdiens ter nagedagtenis aan Kellermayr in Wene gereël het.

Inwoners van Oostenryk tydens ‘n kerswaak in Wene ná dr. Lisa-Maria Kellermayr se dood. (Foto: Alex HALADA / AFP)

Die polisie, wat voorheen aangevoer het dat Kellermayr die situasie uitbuit om aandag te kry, hou nou vol hulle het alles gedoen om haar te beskerm. Die plaaslike aanklaer se kantoor verwerp ook bewerings dat hy meer kon doen om haar veiligheid te verseker.

“Nadat ons die polisieverslag ontvang het [wat een van die verdagtes identifiseer], het ons dit aan die betrokke owerhede in Duitsland gestuur,” sê Christoph Weber, woordvoerder van die aanklaer se kantoor in Wene.

Aanklaers in die naburige Duitse deelstaat Beiere het intussen bevestig dat ʼn 59-jarige verdagte deur ʼn spesialis-eenheid vir haatspraak ondersoek word.

“Sommige mense vier haar dood; ander glo dat die entstof haar doodgemaak het,” sê Ingrid Brodnig, ʼn joernalis en skrywer wat disinformasie aanlyn ondersoek.

Volgens Brodnig bestaan daar wette teen aanlyn haatspraak, “maar daar word nie genoeg gedoen om dit in werking te stel nie”.

Johannes Steinhart, hoof van Oostenryk se doktersvereniging, het die afgelope naweek gesê hoewel aggressiewe gedrag teenoor mediese personeel nie ’n nuwe verskynsel is nie, is dit “aangevuur en merkbaar vererger” deur die debat oor Covid-19 en entstowwe.

ʼn Franse spesialis vir aansteeklike siektes, Karine Lacombe, kan daarvan getuig. Sy vertel dat sy die afgelope paar jaar verguis is vir haar werk as deel van ʼn groep dokters wat koronavirusverwante disinformasie bestry.

Sy sê ook dat die owerhede nie voldoende reageer het op dreigemente wat teenoor haar gemaak is nie. Sy probeer gevolglik vanjaar om minder in die openbare oog te wees.

“Jy dink uiteindelik dat die risiko nie die moeite werd is nie,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Johan ·

Hoekom is dit nou nuuswaardig? Hoofstroom se wieletjies spin weer.

Andreas ·

Nie so ‘nuuswaardig’ is die feite van hoeveel mense deur hierdie soort dokters in armoede, siekte en dood gedryf is. Oor die rede van haar afsterwe kan mens beslis nou weer bespiegel.

MakersMark ·

Jammer dat so iets moes gebeur. Verlies van ‘n professionele persoon wat vooruitgang agv mediese wetenskap voorgestaan en uitgebrei het. Ongelukkig is daar nog ongegronde vrese tussen sekeres aangeblaas deur ‘n tekort aan kennis wat uiteindelik oorgaan in haat.

Andreas ·

Iemand wat die inspuitings voorstaan en ander mense wil dwing om dit te kry, staan nie ‘vooruitgang agv mediese wetenskap’ voor nie. Die hele inspuitery het ook maar min met wetenskap te doen. Eerder maar ‘n soort bygeloof in ‘n sakrament van inspuiting.

Miena ·

Viktimisasie & intimidasie kom blykbaar nie net in SA voor nie. Blyk na n gewilde sportsoort toe te neig wereldwyd. En dan is daar die ongelukkige uiteinde van selfdood. Baie jammer.

Henri ·

Ek verstaan nie die storie nie. Hoe kan ‘n enkele dokter skielik martelaarskap verwerf uit hierdie COVID debakel? Veral nóú op die einde?

Die ironie is die feit dat dít waarvoor sy haar beywer het, haar feitlik finansiëel geruïneer het. Geld is die wortel van die kwaad…

Perdeby ·

Ek hoop al die aktiviste in die wereld het hulle ” voel goed” skoen aan vandag. Iemand se lewe gekos. Ek hoop hulle maak ‘n voorbeeld van hierdie mense, want iewers moet daar bewyse wys wie die persone was.

Johann101 ·

En wat van voorbeeld maak van almal wat verantwoordelik was vir uitkruit en viktimisering & intimidasie van anti-sappies wat ook dinge nie meer kon vat nie?…

Vexed ·

Die situasie kan voor die deur van WHO en regerings, en natuurlik hulle finansierders wat die werklike mag het, gele word. Wat het hulle gedink gaan gebeur as hulle mense in iets dwing wat hulle nie wil hê nie. Ok nee wag hulle het presies geweet wat gaan gebeur…

MakersMark ·

Dis nie regerings se skuld dat sameswerings teorieë sekere mense so laat optree nie. Die dokter was die slagoffer hier. Daar is maar ‘n sekere mentaliteit aan die tipes wat glo aan sameswerings fabels.

Swerwer ·

Ai tog genade, waarom moet daar soveel drama rondom alles gemaak word. As jy nie die inenting wil kry nie, los ander uit wat glo hul moet dit kry. Jy kan nie jou siening op ander afdwing nie.

VaalDonkie ·

Maar hulle het ons dan met afdanking en dompasse gedreig as ons nie die goed vat nie.

Joe Olivier ·

Jy sien Swerwer dit is presies die probleem. Sy het haar siening op ander afgedwing en kon dit toe nie verwerk toe ander hulle siening wou laat hoor nie.

Andreas ·

Let wel, daar is ‘n verskil tussen ‘aktivisme teen inenting’ en mense wat teen ‘dwanginspuiting’ (wat erge mishandeling tot poging tot moord is) is. Die twee word aanhoudend deur mekaar gegooi deur mense wat nie mooi kan dink nie. Daar is eintlik niemand daarteen dat ander mense hulle laat inspuit nie. Waarteen die aktivisme gerig is, is doodeenvoudig die feit dat daar invloedryke kringe is wat inspuitings wil afdwing. En as sy dit voorstaan moet sy maar aanvaar dat sy ‘n bietjie harder aangevat word. Maar nou ja, daar is ook maar tekens dat daar ander redes vir die afsterwe was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.