Dors dief vasgetrek wat R50 000 se Stanley-flesbekers steel

Die Roseville-polisiestasie het hierdie foto op sosiale media gedeel. (Foto: Facebook/City of Roseville, California Police Department)

ʼn Amerikaanse vrou se dors vir die gewilde Stanley Cups Quencher-flesbekers het haar klaarblyklik daartoe gedryf om die wet te oortree.

Delany Garcia-Lopez (23) is onlangs in hegtenis geneem nadat sy Stanley-flesbekers ter waarde van $2 500 (nagenoeg R47 071) by ʼn sportwinkel in Roseville, Kalifornië, in die VSA probeer steel het.

Die Roseville-polisie het in ʼn verklaring op Facebook verduidelik dat personeel glo gesien het hoe Garcia-Lopez ʼn winkelwaentjie vol Stanley-flesbekers van Dick’s Sporting Goods in haar motor laai sonder om daarvoor te betaal.

“Die verdagte het geweier om vir die personeel stil te hou en het die gesteelde goedere in haar kattebak gelaai. Die polisie is in kennis gestel van die diefstal en ‘n verkeersbeampte het die voertuig op ‘n nabygeleë snelweg opgemerk. Hy het die vrou voorgekeer en sy is in hegtenis geneem,” lui die verklaring.

Foto’s wat deur die Roseville-polisie op Facebook gedeel is, wys hoe Garcia-Lopez se kattebak met nagenoeg 65 Stanley-flesbekers van verskillende groottes gevul is.

Die verdagte se kattebak is met nagenoeg 65 flesse gevul. (Foto: Facebook/City of Roseville, California Police Department)

Sy is op borgtog van $150 000 (sowat R2,8 miljoen) vrygelaat, en het ingestem om ʼn GPS-opsporingstoestel te dra, aldus NBC News.

Die polisiedepartement het ook ʼn waarskuwingsboodskap vir toekomstige wetsoortreders uitgereik en die publiek aangeraai “om hul nie tot misdaad te wend om hul hidrasiegewoontes te bevredig nie”.

Die #StanleyCup-hutsmerk het tot op hede byna 7,2 miljard trefslae wêreldwyd gekry danksy die invloed van veral Amerikaanse TikTok-gebruikers en beïnvloeders.

Maroela Media het vroeër berig dat dié peperduur flesbekers, wat maklik deur hul groot handvatsel en dik rubberstrooitjies uitgeken kan word, ook besig is om in Suid-Afrika vlam te vat.

Die produk is egter tans nog skaars in Suid-Afrika, maar vlieg reeds teen R1 199 van winkels soos Trappers en Outdoor Warehouse se rakke af.

Bykomende bronne: BBC, NBC News.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Brombeer80 ·

So die borg tog vir een beker is $2307.69 (R43460.08), teenoor $38.46 (R724.31) as sy dit net so koop op die eerlike manier. Skelm wees kom mens duur testaan.

Bolandse Nooi ·

Ag asseblief!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!! Wat die mense nie ook sal doen om by die Jones’ in- en aan te pas en af te steek nie!!!!!!!!!!!!!

Oom Charles ·

Darem maar ‘n hoop geld vir so ‘n basiese stuk toerusting. Seker bietjie snobwaarde ook.
Maar om die goed sommer so oop en bloot te probeer wegkarwei, sy klink vir my bietjie deurmekaar, moet ek sê.
Ai tog.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.