Duitsers kan nou ook wettig kannabis gebruik

‘n Enorme kamma-kannabisplant pryk voor die Brandenburghek in Duitsland. Kannabisgebruik vir ontspanningsdoeleindes is sedert 1 April wettig in dié land. (Foto: John Macdougall/AFP)

Duitsland het Maandag, ondanks skerp teenkanting van opposisie-politici en mediese verenigings, die grootste EU-land geword om die gebruik van kannabis vir ontspanningsdoeleindes te wettig.

Diegene ouer as 18 word nou toegelaat om 25 gram gedroogde kannabis by hulle te hê en mag ingevolge die veelbesproke nuwe wetgewing ook tot drie marijuanaplante tuis verbou.

Die verandering beteken Duitsland het nou van die mees liberale kannabiswetgewing in die hele Europa. Dit is soortgelyk aan wetgewing van lande soos Malta en Luxemburg, wat reeds in onderskeidelik 2021 en 2023 die gebruik van die dwelm vir ontspanning gewettig het.

Nederland, welbekend vir sy gemaklike benadering jeens die middel, het in onlangse tye egter ʼn strenger benadering met kannabis-toerisme begin volg.

In Berlyn het honderde mense kort ná middernag – toe die wetgewing in werking getree het – by die ikoniese Brandenburg-hek gejuig en daggazolle opgesteek.

In die volgende stap van die wetlike hervormingsproses, gaan dit van 1 Julie ook moontlik wees om kannabis wettig deur sogenaamde kannabis-klubs te bekom. Dié gereguleerde verenigings mag tot 500 lede elk hê en sal maandeliks tot 50 g kannabis per persoon mag versprei.

Tot dan moet “verbruikers nie aan die polisie sê waar hulle hul kannabis gekoop het nie”, het Georg Wurth, direkteur van die Duitse Kannabisvereniging, aan AFP gesê.

‘Ramp’

‘n Werker inspekteer die gehalte van kannabisplante. (Foto: Jens Schlueter/AFP)

Aanvanklike planne om kannabis deur gelisensieerde winkels te verkoop is ná teenkanting deur die EU laat vaar. ʼn Tweede stuk wetgewing is egter op pad om die verkoop van die middel in winkels in sogenaamde proefgebiede te toets.

Die Duitse regering, ʼn koalisie onder leiding van kanselier Olaf Scholz se Sosiaal-Demokrate, voer aan dat wetgewing gaan help om die groeiende swartmark vir die gewilde middel in bedwang te hou.

Gesondheidsgroepe is egter bekommer dat die dekriminalisering daarvan kan lei tot verhoogde gebruik onder jong mense wat die grootste gesondheidsrisiko’s ondervind.

Kannabisgebruik onder jong mense kan die ontwikkeling van die sentrale senuweestelsel belemmer en kan aanleiding gee tot ʼn verhoogde gevaar vir die ontwikkeling van psigose en skisofrenie, het kenners gewaarsku.

“Na ons mening is die wetgewing, soos dit geskryf staan, ʼn ramp,” het Katja Seidel, ʼn terapeut by ʼn kannabisverslawingsentrum vir jong mense in Berlyn, gesê.

Karl Lauterbach, die minister van gesondheid en self ʼn mediese dokter, het ook gesê kannabisgebruik kan “gevaarlik” wees, veral vir jong gebruikers.

Die regering het onderneem om ʼn groot inligtingsveldtog van stapel te stuur om die risiko’s van gebruik uit te stippel en ondersteuningsprogramme te bevorder.

Die gebruik van kannabis is steeds verbode vir diegene jonger as 18 en mag nie binne 100 meter van skole, kleuterskole en speelgronde gebruik word nie.

‘Verantwoordelike’ stap

Die wetgewing het ook tot kritiek uit polisiegeledere gelei, met beamptes wat vrees dit gaan moeilike wette wees om af te dwing.

“Van 1 April gaan ons kollegas hul in konfliksituasie met burgers bevind, omdat daar aan alle kante onsekerheid heers,” het Alexander Poitz, adjunkpresident van die polisievakbond GdP, gemaan.

Nog ʼn moontlike probleem is terugwerkende amnestie verleen aan kannabis-verwante oortredings; dit skep ʼn redelike administratiewe kopseer vir die regstelsel.

Volgens die Duitse Regtersvereniging kan die kwytskelding vir meer as 200 000 sake geld; sake wat hersien en verwerk sal moet word.

Die konserwatiewe opposisieleier Friedrich Merz het reeds gesê hy sal die wetgewing “onmiddellik” herroep sou sy party ná volgende jaar se verkiesing ʼn regering vorm.

Christian Lindner, minister van finansies en ʼn lid van die liberale FDP, sê egter dekriminalisering was ʼn “verantwoordelike” stap wat beter was as om “mense na die swartmark te stuur”.

Die nuwe wet “gaan nie tot chaos lei nie”, het Lindner aan die openbare uitsaaier ARD gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Renier ·

Goeie nuus vir Duitsland. beter as drank ,wat maklik bekombaar is,om nie eens van die pil bedryf te praat nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.