Duitsland erken volksmoord in Namibië

Een van die skedels wat Duitsland in 2018 na Namibië teruggeneem het. Die oorskot van sommige van ‘n geraamde 300 mense wat in slagtings tydens Duitse bewind van die land omgekom het, is gerepatrieer. (Foto: John Macdougall/AFP)

Duitsland het Vrydag vir die eerste erken hy het volksmoord tydens die koloniale besetting van Namibië gepleeg en Berlyn het finansiële steun van meer as ʼn miljard euro beloof om projekte in dié land te steun.

Duitse koloniale setlaars het derduisende inheemse Herero- en Nama-mense tussen 1904 en 1908 in slagtings vermoor – geskiedkundiges het dit as die eerste volksmoord van die 20ste eeu bestempel – en dit het die verhouding tussen Namibië en Duitsland jare lank vertroebel.

Berlyn het in die verlede al erken vergrype het aan die hand van sy koloniale owerhede plaasgevind, maar het herhaaldelik geweier om enige regstreekse vergoeding te betaal.

“Ons sal nou amptelik na dié gebeure verwys as na wat dit uit vandag se perspektief beskou word: volksmoord,” het Heiko Maas, minister van buitelandse sake, in ʼn verklaring gesê.

Die ooreenkoms hieroor is aangegaan ná vyf jaar van onderhandelings met Namibië oor gebeure in dié gebied wat Berlyn van 1884 tot 1915 beheer het.

“In die lig van die geskiedkundige en morele verpligting van Duitsland, gaan ons vergifnis van Namibië en die slagoffers se nasate vra vir die gruwels wat plaasgevind het,” sê Maas.

As ʼn gebaar om die ongelooflike lyding te erken wat die slagoffers aangedoen is, gaan Duitsland die rekonstruksie en ontwikkeling van Namibië deur ʼn finansiële program van €1,1 miljard – sowat R18 miljard – steun.

Volgens bronne na aan die onderhandelings sal die geld oor 30 jaar betaal word. Dit moet hoofsaaklik die afstammelinge van die Herero en Nama bevoordeel.

Rebellie, weerwraak

‘n Monument ter herinnering aan die
Herero- en Nama-mense wat tydens Duitsland se bewind in Namibië in ‘n volksmoord doodgemaak is. (Foto: Gianluigi Guercia/AFP)

Namibië is Duits-Suidwes-Afrika tydens Berlyn se bewind tussen 1884 en 1915 genoem en was daarna 75 jaar lank onder die beheer van Suid-Afrika, voor dit in 1990 eindelik onafhanklikheid verkry het.

In 1904 het spanning oorgekook toe die Herero – ontneem van hulle vee en grond – in opstand gekom het. Die Nama het kort daarna gevolg, maar Duitse ryksoldate het die opstand onderdruk.

In Augustus 1904, tydens die Slag van Waterberg, het sowat 80 000 Herero, ook vroue en kinders, gevlug. Duitse troepe het hulle agternagesit oor wat deesdae bekend staan as die Kalahariwoestyn – en eindelik het net 15 000 van hulle oorleef.

Duitse genl. Lothar von Trotha, wat beveel is om die rebellie te stuit, het die mense se uitwissing beveel.

Minstens 60 000 Herero en 10 000 Nama is tussen 1904 en 1908 doodgemaak.

Koloniale soldate het massateregstellings gedoen, en mans, vroue en kinders na die woestyn verban waar duisende weens dors omgekom het. Verskeie berugte konsentrasiekampe is ook opgerig, onder meer die Shark Island-konsentrasiekamp by Lüderitz.

Oorwin verlede

‘n Begraafplaas vir Duitse soldate wat in die Slag van Waterberg teen Herero-magte gesneuwel het. (Foto: Gianluigi Guercia/AFP)

Die vergrype tydens die kolonialisering van die gebied het die verhouding tussen Windhoek en Berlyn jare lank vergiftig. Die twee lande het in 2015 begin onderhandel vir ʼn ooreenkoms wat ʼn amptelike verskoning deur Duitsland, asook ontwikkelingshulp sou insluit.

In Augustus verlede jaar het Namibië egter aangedui Duitsland se aanbod is onaanvaarbaar, maar geen besonderhede daarvan is bekend gemaak nie.

Pres. Hage Geingob het opgemerk Berlyn wou nie die term “reparasie” gebruik nie, nes die woord ook vermy is tydens die land se onderhandelings met Israel na die Joodse volksmoord.

In ʼn poging om versoening te bewerkstellig, het Duitsland in 2018 die beendere van lede van die Herero- en Nama-stam aan Namibië terugbesorg, met die destydse buitelandse minister, Michelle Muentefering, wat “uit die diepte van my hart om vergifnis vra”.

Namibië het die aankondiging as ʼn stap in die regte rigting bestempel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

Anel ·

Ag vader tog! So nou gaan die Indiaane kompensasie van die Amerikaners vra, die klomp inheemses in Australië en New Zeeland van hulle kompensasie vra. Wat van die Jode en meeste van alles, wat van ons. Gaan ons ook nou van die Engelse eis?

Grassie ·

Lyk vir my die liberales soek nou orals plek om te bieg en die knie te buig. Ek wonder wanneer gaan die Engelse skuld aanvaar vir die dood van 27000 Afrikanervroue en kinders is hul helkampe tydens die Anglo-Boereoorlog. Seker nooit, want die vroue en kinders was dan wit.

Keelvol ·

Nee wat, die volksmoord op die blanked sal die liberale ontken. Want dit pas nie by hulle ideologie nie. Want volgens hulle kan net ander nasies slagoffers wees.

Grassie ·

Petrus – dit sal nooit gebeur nie. Ons is uitgelewer, ons is op ons eie.

Pitbul ·

En waar staan Engeland wat hul teen ons moeders en kinders gedoen het in die konsentrasie kampe…. soos persheks sal sê pfft

Stephen ·

Dis hoog tyd. Die boek : “The Kaizers Holocaust” gee hierdie gebeure feitelik deur. Ek het die boek 2x gelees en dit het my bloed laat kook. Die wreedhede deur die Duitsers teenoor die Nama en Herero volke is onbeskryflik. Ons is as kinders so gebreinspoel dat die swart volke die vyand was maar die teendeel is waar.
Hendrik Witbooi was die leier van die Namavolk en n merkwaardige man. Elke keer wanneer hy die Duitsers aangeval het, het hy die Priesters en die Duitsers gewaarsku om hulle vroue en kinders na n veilige plek te neem. Witbooi het telkemale na die Kaap gereis om hulp by die Goewerneur te vra sonder sukses. Hy was Hollands, Duits en Engels magtig.
Uiteindelik het Genl Louis Botha die Duitsers verdryf in 1915 en die swart volke bevry. Tot vandag is die Duitsers nie baie gewild by die Herero en Nama volke nie.
As daar gronde bestaan vir woede en wraak is dit in Namibia. Tog het die bevolking en rasse van die 11 Etniese groepe hande gevat en lewe in harmonie met mekaar.

Rudolph ·

Dankie vir jou feitelike en insiggewende kommentaar. Nou gaan jy as liberaal uitgekryt word maar dit is OK. Neem dit as ‘n kompliment want die konserwatiewes hou nie van die waarheid nie

Keelvol ·

Rudolph watse waarheid praat jy van? Die waarheid wat jou as liberaal se ideologie pas of die waarheid wat voor jou oë afspeel en jy nog steeds ignoreer.

Rudolph ·

Konserwatiewes lewe permanent in ‘n staat van ontkenning oor die verlede. Hulle verlang voortdurend terug na die ‘goeie ou dae’ toe hulle die baas was en kon maak soos hulle wil. Hulle grootste vrees is om hulle meerderwaardigheid en onderdrukkende mag te verloor. Saamwerk en saamwees is vir hulle vreemde konsepte. Jammer vir hulle maar hulle gaan aan die verkeerde kant van die geskiedenis opeindig

Keelvol ·

Liberale Bly ontken wat in die land veral aangaan. Hulle hou hulleself doelbewus blind vir die probleme in die land. Die staats beheerde instansies is besig om inmekaar te tuimel terwyl die liberaal dit verwerp as propoganda. Die liberaal leef in n droomwêreld en dink dat die aanslag nie vir hulle beskroom is nie. Hulle sal tot n ontnugtering kom wanneer die vyand sy vrou en dogter in aanskouing van hom uitvermoor en ver krag.

Boon ·

Dankie vir jou gebalanseerde kommentaar. Ek was tot oor voor Namibiese onafhanklikwording hood van open are betrekkinge van stad Windhoek. Die stad wil toe sy 100-jarige administrasie vier en ek moes dit reël. Gou het ek my vasgeloop teen strek negatiewe sentimente uit die hele spektrum van die samelewing, en het dit aan amptelik stadsraad rapporteer met versoek om my verpligtinge op te skort. Dis gedoen, hoofsaaklik omdat onafhanklikheid die volgende jaar sou plaasvind. Na vele sielewroeging her ek besluit dat dit oneties sou wees om as wit SA burger in so n hoë pos aan te bly, en het toe bedank en met my gesin SA teruggekeer . Ns. Ek is steeds baie lief vir Namibië en gaan so dikwels moontlik daar kuier.

Alex ·

Ja wel, weer met terug betaling van skuld erkening, wie kry die vergoeding? @pestilensie, ek stem saam, maar as Engeland dit wel doen, wie vat die geld? Nie die boere en die werkers op die plase wat vir die land baklei het nie….

Jdb ·

So hoe lyk dit- gaan ons regering met Brittanje onderhandel om ons Afrikaners (nie SA in geheel nie) te vergoed vir die volksmoorde wat tussen 1899 en 1902 tydens die Anglo-Boere- oorlog plaasgevind het, met spesifieke verwysing na die “verskroeide aarde beleid” en die konsentrasiekampe!

Hennie ·

Wanneer gaan Brittanje volksmoord erken teenoor die Boere?

Mariana ·

Hulle het meer as een volksmoord gepleeg. Wie gaan daarvoor vergoed. Engeland sal ook nooit erken dat hulle hier volksmoord gepleeg het nie en van betaling sal hier ook nie enige sent te sien wees nie, nie vir ons nie. Maar kyk ons het opgestaan en niks kan hulle terugbring nie, maar ‘n erkenning sal goed wees. Ons is nou in dieselfde bootjie en moet weer baklei om staande te bly……..maar ons sal weer opstaan.

Kokerboom ·

Die beginsel is reg maar die gevaar is dat die geld weer in sakke van elite gaan verdwyn of wanaangewend word sonder bewyse van konstruktiewe opbou van ekonomie. Die Duitsers gee gewoonlik voorskrifte vir aanwending..hoop dit word gevolg ter verbetering van samelewing. Gevaar bestaan ook dat melkkoei doodgemelk word. My ondervinding is dat genoeg is NOOIT genoeg!

Stephen ·

Bernard ek sien jy lewer kommentaar oor onkunde. Lees die geskiedenis dan praat ons weer.

Ben ·

Kyk nou net wie moes nou weer gaan help. Die boere (Botha en sy mense) moes gaan.

Deon ·

@ pestilensie en die ander wat vra waar geld sou gaan as die boervolk erkenning van die moord op ons mense in konsentrasie kampe kry…. Moenie vergoeding vra nie, vra net erkenning en verskoning vir die grusame daad teenoor ons, ek glo ons as boervolk is volwasse genoeg om met grasie n verskoning te kan aanvaar en daarna aan te beweeg. Daar is geen geld in die wereld wat enige van daardie lewens werd is nie.

Francois Le Cochon ·

Volgens my familie stamboom het my oor ouma grootjie, bekend as Ouma Dagga, ‘n dagga plaas on die Oos Kaap gehad. Ek dink ek moet ‘n grondeis instel.

gatgogga ·

Mense, moet tog nie gal braak oor alles nie.
Die Duitsers gaan help met die ontwikkeling in Namibie – nie geld in individue se sakke nie, maar Duitse invloed in die ontwikkeling van Namibie se ekonomie.
Dieselfde met Makron se belangstelling in ons land. Hierdie is almal beskaafde lande wat wil keer dat ond almal ondergaan. Hoe meer beskaafde blanke lande in ons begin belangstel, hoe beter vir ons blankes in Suid Afrika. Hulle invloed kan ons dalk weer op die regte pad kry. Ons is te dom om te sien wanneer positiewe verwikkeling plaasvind. Hier is ons kans tot oorlewing. Hierdie mense sal kan sien dat ons blankes se bydrae nodig is om ons land reg te ruk.
Moenie hulle ook in die tande skop, soos wat ons met Trump gedoen het nie.

Vrijburger ·

Ek verstaan nog die nodigheid van versoening tussen lande en dat ‘n vorm van ‘beleidenis’ deel daarvan is. (Al is dit meer as honderd jaar en verskeie geslagte gelede.) Maar wat ek nie verstaan nie, is dat die erkenning / beleidenis nie goed genoeg is nie, nee daar moet geld betaal word.

Sluier ·

Plaas dat Duitsland eerder na die Volksmoorde, eksperiment en konsentrasie kampe kyk wat hulle vandag nog as monumente in hul eie land het. Die Duitsers het hulle eie mense in hulle eie Duitsland vermoor. Hitler draai in sy graf om.

jzjz05 ·

Wanneer gaan Engeland doen wat die Duidsers nou gedoen het. of gaan hulle net aanhou ontken.

Danie ·

Duitsland is bietjie laat.
Namibie behoort klaar aan die chinese.

Pieter J ·

Ek dink die geskiedenis word al weer ń bietjie verdraai. Von Throtha se voorganger kon nie die Duitse boere op die plase beskerm teen die voortdurende aanvalle en moorde nie daarom is Von Trotha toe gestuur om die probleem op te los. Veral die Namas was goed bewapen en in uiters beweeglike perdekommandos georganiseer. Von Trotha wa ń beroepsoldaat wat aan heelwat veldslae orals in die wěreld deelgeneem het.Hy het vooraf ń ultematum aan die Hereros en Namas gerig en gesê wat sou gebeur as hulle nie gehoor gee nie. Hulle verkies om dit te ignoreer en ons weet almal wat die gevolge was.

Jack ·

Nou ja as jou land se geldsake knyp dan is dit darem n oplossing om die druk te verlig. Moet die geld nie gaan aan die wat verloor het nie of mis ek iets.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.