Eddie Van Halen sterf 

Eddie Van Halen in Junie 2004. (Foto: John Munson/NJ Advance Media via AP)

Eddie Van Halen, die kitaarvirtuoos wie se spoed, beheer en innovasie sy groep, Van Halen, tot een van die beroemdste rockgroepe nóg gedryf het, is Dinsdag aan kanker dood. Hy was 65.

“Hy was die beste pa waarvoor ek kon vra,” het Van Halen se seun, Wolfgang, gesê. “Elke oomblik wat ek op en van die verhoog af met hom gedeel het, was ʼn geskenk. My hart is stukkend en ek dink nie ek sal ooit ten volle van hierdie verlies kan herstel nie.”

Sy kitaarsolo’s het daartoe gelei dat Van Halen in die laat 1970’s bo aan die trefferparades begin boer het met die groep se selfgetitelde debuutalbum en daarna met die uiters suksesvolle plaat 1984, wat die klassieke “Jump”, “Panama” en “Hot for Teacher” ingesluit het.

Eddie Van Halen in Augustus 2015. (Foto: Greg Allen/Invision/AP, File)

Van Halen is een van die 20 beste top-verkoperkunstenaars, en die groep is in 2007 in die Rock ʼn Roll-heldesaal ingehuldig. Die tydskrif Rolling Stone het Eddie Van Halen in die agtste posisie geplaas op die lys van die 100 beste kitaarspelers.

Eddie Van Halen is in Amsterdam gebore en sy gesin het in 1962 na Kalifornië verhuis toe hy sewe jaar oud was.

Die groep Van Halen is in 1974 gestig en het bestaan uit die twee Van Halen-broers, Eddie en Alex, die sanger David Lee Roth en die baskitaarspeler Michael Anthony.

Van Halen het in 2008 ophou drink en het een derde van sy tong verloor aan ʼn soort kanker wat uiteindelik na sy slukderm beweeg het.

Eddie Van Halen en Michael Jackson in 1984. (Foto: AP Photo/Carlos Osorio, File)

Hy was twee keer getroud, eers met die aktrise Valerie Bertinelli van 1981 tot 2007 en daarna met Janie Liszewski met wie hy in 2009 getroud is.

Van Halen het in ʼn stadium jaarliks albums uitgereik – Van Halen II (1979), Women and Children First (1980), Fair Warning (1981) en Diver Down (1982) – maar dit was 1984 wat tot die tweede posisie gevorder het op die Billboard 200-albumtreffersparade. Michael Jackson se Thriller was in die eerste posisie. Rolling Stone het 1984 aangewys as een van die 100 beste albums van die 1980’s.

Van Halen het ook kitaar gespeel in een van die gewildste liedjies van die 1980’s, Michael Jackson se “Beat It”.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Raakvatter ·

Van Halen, daai generasie het voorwaar ge”rock”. Vandag se mense kan nie kers vashou nie. Groot geword met daai musiek. Rus in vrede ou maat terwyl ons steeds jou musiek geniet.

Eclectus ·

2020 is voorwaar ‘n kwade jaar vir musiek. Eddie van Halen sterf en Jerusalema word ‘n internasionale treffer.

MakersMark ·

Sign of the times. Gee my 70’s en 80’s rock en vergeet van vandag se gebulk, geblêr en geklingel.

Die Goodwoodianer ·

So bly my platespeler werk weer. RIV EVH. Let’s Rock.

Pofadder ·

Die klankbaan van my na-matriek vakansie… onpretensieuse rock.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.