Eerste renoster kunsmatig bevrug ʼn ‘deurbraak’

Die laaste twee noordelike witrenosterkoeie. (Foto: Tony Karumba/AFP)

Wetenskaplikes het die eerste suksesvolle in vitro-bevrugting van ʼn suidelike witrenoster uitgevoer – ʼn deurbraak wat die weg baan om sy noordelike neef, wat aan die rand van uitwissing is, te red.

Dié suksesstorie het egter intussen tragies geëindig, maar nie omdat die bevrugtingsproses gefaal het nie.

Slegs twee noordelike witrenosterkoeie leef ​​nog, maar nie een is in staat om ʼn swangerskap tot vol termyn te dra nie. Albei koeie word in Kenia onder 24-uur-bewaking gehou om hulle teen stropers te beskerm.

In ʼn poging om hierdie spesie te red, het navorsers aan die wetenskaplike konsortium Biorescue ʼn noordelike witrenoster-embrio, wat in ʼn laboratorium gekweek is, in ʼn suidelike witrenoster-surrogaat ingeplant.

Die ambisieuse voortplantingsprogram is die laaste kans op oorlewing vir die noordelike witrenosterspesie.

Die suksesvolle bevrugting van ʼn suidelike witrenoster met ʼn embrio van dieselfde spesie is ʼn “mylpaal”, het Thomas Hildebrandt, bestuurder van die program, gesê.

“Ons het iets bereik wat nie moontlik behoort te wees nie.”

Die swangerskap kon egter nie deurgevoer word nie nadat die bul en die surrogaat, tesame met die fetus, gevrek het weens ʼn onverwante infeksie. Volgens wetenskaplikes is die infeksie veroorsaak deur bakterieë wat versprei het ná ʼn modderstorting in die gebied.

Die fetus was toe net 70 dae oud, maar die span het gesê hulle was vol vertroue dat dit die 16-maande-swangerskaptydperk kon oorleef het.

Die wetenskaplikes gaan nou probeer om hierdie swangerskap te herhaal deur ander embrio’s wat gemaak is met die eiers van die oorlewende renosterkoeie en sperm van twee bulle wat lank reeds gevrek het.

Die span beoog om in die volgende twee tot twee en ʼn half jaar “klein noordelike witrenosterkalwers” in die lewe te bring, het Hildebrandt gesê.

Fyn werk nodig

Om die embrio in die surrogaat te plaas, gebruik die span ʼn steriele renosterbul wat die koei nader wanneer sy gereed is om swanger te raak. Die bul is slegs ʼn sogenaamde “lusmakertjie” wat die span in staat stel om binne ʼn uur die embrio in die surrogaat in te plant.

Die grootte en delikate anatomie van die witrenosters beteken die embrio word via die rektum in die baarmoeder ingeplant.

Biorescue het sedert 2019 eiers van die oorlewende koeie, Najin en Fatu, versamel, maar moes die oudste van die twee in 2021 uit die program onttrek.

Die laaste bul, wie se naam Soedan was, is in 2018 by die toevlugsoord in Kenia dood.

Die sperm wat van hierdie dooie noordelike witrenosters onttrek is, is egter van “baie swak gehalte”, het Cesare Galli van die Italiaanse laboratorium Avantea gesê. Die nuwe noordelike witrenoster-eiers word hier bevrug.

‘Groot dag’

Die Biorescue-span het 30 bevrugte eiers in vrieskaste wat “wag vir hul groot dag”, het Susanne Holtze van die Leibniz-navorsingsinstituut vir diere- en natuurlewe gesê.

Hildebrandt sê die in vitro-metode kan moontlik ʼn model wees vir ander bedreigde renosterspesies, soos die bedreigde Sumatraanse renoster in Suidoos-Asië.

Renosters het bitter min natuurlike roofdiere, maar hul getalle is sedert die 1970’s deur stropery uitgewis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.