Elon Musk se ‘X’ in stryd met Aussie-waghond oor kerkvoorval

‘n Polisiebeampte buite die kerk in Sydney, Australië, waar die aanval plaasgevind het. (Foto: David Gray/AFP)

Elon Musk se X-platform gaan die Australiese waghond se opdrag om inhoud te verwyder wat verband hou met die afgelope week se messtekery van ʼn priester tydens ʼn aanlyn kerkdiens in Sydney, beveg.

Biskop Mar Mari Emmanuel is Maandag in die kop en bors gesteek, glo deur ʼn 16-jarige aanvaller. Dit het ʼn oproer onder volgelinge van die Assiriese Kerk in die weste van die stad veroorsaak.

Die biskop het intussen in ʼn boodskap uit die hospitaal gesê hy is op die herstelpad en het sy aanvaller vergewe.

Australiese owerhede het die skuld vir hoogspanning in die gemeenskap gepak op videomateriaal van die aanval wat wyd op sosialemediaplatforms versprei is.

X se departement vir regeringsake sê hy het gehoor gegee aan ʼn aanvanklike opdrag van eSafety, die Australiese waghond, “hangende regstappe” om sekere plasings in Australië te verwyder waarin kommentaar oor die aanval gelewer is.

Die platform sê hy het later ʼn eis van Australië se aanlynveiligheidskommissaris, Julie Inman Grant, gekry om “die plasings internasionaal te weerhou”.

X sê hy is gewaarsku dat hy ʼn daaglikse boete van AUD785 000 (sowat R9 miljoen) opgelê kan word vir versuim om gehoor te gee.

“Die Australiese sensorskap-kommissaris eis ʼn internasionale verbod op inhoud,” het Musk geskryf in ʼn plasing waar hy die maatskappy se reaksie gedeel het.

“Die kommissaris van eSafety het nie die mag om voor te skryf wat X se gebruikers internasionaal kan sien nie. Ons gaan hierdie onregmatige en gevaarlike benadering in die hof betwis,” het X gesê.

‘Geskok, maar nie verras’

X voer aan die plasings oortree nie sy eie bepalings oor gewelddadige uitsprake nie.

Die e-veiligheidswaghond het Vrydag gesê hy doen stappe om te verseker X voldoen geheel en al met Australiese wetgewing.

“Ons oorweeg of verdere regulatoriese stappe nodig is,” het die owerheid gesê.

Die owerheid sê voorts hy is “teleurgesteld omdat die proses onnodig uitgereik is, eerder as om die veiligheid van Australiërs en die Australiese gemeenskap te prioritiseer”.

Die reguleerder eSafety sê ook hy werk saam met groot sosialemediaplatforms oor die deel van inhoud wat terreur of ander uiterste geweld aanmoedig of wys.

Chris Minns, premier van Nieu-Suid-Wallis, was uiters krities oor die rol wat sommige platforms speel om beelde van die aanval beskikbaar te maak.

“Ek is geskok, maar nie verras nie,” het hy Saterdag gesê toe hy oor X se verklaring gevra is.

“Dit is presies wat ek sou verwag van X of Twitter of wat ook al jy dit wil noem: ʼn verontagsaming van die inligting wat hulle in ons gemeenskappe inpomp, leuens en gerugte wat soos ʼn veldbrand versprei,” het Minns gesê.

“En dan, wanneer dinge skeefloop, gooi hulle hul hande in die lug en sê hulle is nie bereid om enigiets daaraan te doen nie.”

Minns het gevra vir strenger reëls oor die bestuur van sosialemediamaatskappye.

“Ons het genoeg gehad. Sydney het genoeg gehad.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.