Engeland-kaptein ‘jammer’ ná onthullings in krieketverslag

Ben Stokes, Engeland se krieketkaptein. (Foto: Justin Tallis / AFP)

Ben Stokes, Engeland se krieketkaptein, het Dinsdag gesê hy is “bitter jammer” oor die bevindings in ’n verdoemdende verslag wat “grootskaalse rassisme, seksisme en klassisme in die sport” uitwys.

Die verslag is deur die Onafhanklike Kommissie vir Gelykheid in Krieket (ICEC) bekend gemaak, wat vroeër deur die Engelse en Walliese Krieketraad (ECB) op die been gebring is om die ondersoek te behartig.

In sy verslag maak die kommissie 44 aanbevelings, insluitend dat die raad onomwonde verskoning vir sy tekortkominge vra.

Die raad is 2021 op die been gebring ná ʼn rassisme-skandaal oor die behandeling van die Pakistan-gebore bouler Azeem Rafiq. The Guardian berig dat Rafiq, ʼn voormalige speler vir Yorkshire, die slagoffer van rassistiese uitlatings en boeliery was. Rafiq het die klagtes in 2020 aanhangig gemaak.

AFP berig in ʼn afsonderlike verwikkeling wat met dié saak verband hou, het die raad versoek dat die Yorkshire-buiteklub met £500 000 (meer as R11,8 miljoen) beboet word en ook punte verloor oor sy hantering van die Rafiq-saak.

Uit die meer as 4 000 individue waarmee die ICEC tydens sy ondersoek gepraat het, het 50% aangedui dat hulle oor die afgelope vyf jaar diskriminasie ondervind het. Die syfers was aansienlik hoër onder mense van diverse etniese gemeenskappe.

Luidens die verslag word vroue ook op alle vlakke van krieket “ondergeskik gestel” aan mans. Hulle ontvang ook ʼn veel kleiner salaris in vergelyking met dié van hul manlike eweknieë.

Een van die aanbevelings in die verslag is dat wedstrydgeld vir mans- en vrouespanne dadelik gelykgestel word.

Die verslag het voorts bevind dat nie genoeg gedoen is om klasongelykhede in die sport te pak nie, met spelers van private skole wat hoofsaaklik plek in spanne kry.

Bevindings ‘ondubbelsinnig’

“Ons bevindings is ondubbelsinnig,” sê Cindy Butts, voorsitter van die ICEC.

“Rassisme, klasgebaseerde diskriminasie, elitisme en seksisme is wydverspreid en diepgewortel.”

Sy sê dit is tyd dat die sport dié feit erken en mense begin besef dit strek veel wyer as ʼn “geskerts”. Daar is ook nie net ʼn paar vrot appels wat hulle aan dié gedrag skuldig maak nie.

Volgens Butts is diskriminasie in krieketstrukture en -prosesse ingeweef.

Stokes en Engeland se vrouekaptein, Heather Knight, was onder diegene wat saam met Rafiq getuienis gelewer het.

Stokes het op die vooraand van die tweede toets in die reeks om die As teen Australië, wat Woensdag by Lord’s begin het, kommentaar op die verslag gelewer.

“Aan die mense wat by die sport betrokke is en wat in die verlede onwelkom of minderwaardig gevoel het: Ek is baie jammer oor jul ervarings,” het hy gesê.

“Krieket is ’n wedstryd wat diversiteit op alle fronte moet vier, want sonder diversiteit sou hierdie sport nie wees waar dit vandag is nie.

“Almal het ’n ander storie om te vertel. Ek is Ben Stokes, gebore in Nieu-Seeland, ’n staatsopgeleide leerder wat op 16 die skool verlaat en een algemene sertifikaat in sekondêre onderrig behaal het.

“Ek het hulp nodig met die spelling en grammatika in hierdie toespraak en ek sit tans hier as die Engelse manstoetskaptein.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Bernard ·

Onophoudelike gebedel deur mense van ‘diverse agtergrond.’ Wat’s die Afrikaans vir ‘entitlement?’

Manie ·

Met daardie gesigsuitdrukking het julle klaar die 2de toets ook verloor.

Waarom ·

Al die Engels sprekende lande het ander kleuriges in hulle spanne. Maar lande soos Pakistan, Indië, Siri lanka, Wes Indiese eilande, Bangladesj ens. Het geen wit spelers in hulle spanne nie. Wonder maar net wat sou so ras verslag dan opgelewer het in die spanne.

Geert ·

Mooi gestel. Ha Ha !!! O aarde miskien moet hulle kyk of daar nie nog mense is wat te na gekom is nie. Ai mens kan ook maar net jou kop in ongeloof skud.

JohanR ·

pres. Ramaphosa en 12 Afrika leiers moet dadelik gaan bemiddel? Wally en Jan van Riebeeck kan saam ry op die vliegtuig.

Wiehann ·

Hul moet sommer paar van daai Rooi “Overalls” ook in laai en vir Fikile. Hy wil mos altyd deel wees van als.

Yolandie ·

Dis agv Covid en agv die rassisme stories dat niemand meer belangstel in sport nie. Plaas hulle die politiek uit sport uit hou,maar nee. So mors hulle alles op wat te doen het met “gesonde” vermaak wat mens net ‘nb bietjie laat vergeet van die elke dag struggles wat mens deurgaan.

Delia ·

Jammer om te sê, sedert manne gekoop word met MILJOENE,
word die spel net meer en meer gekompliseerd en is die pret daarvan weg. Want nou gaan dit oor geld.

Andrew ·

“ondergeskik gestel” aan mans. Hulle ontvang ook ʼn veel kleiner salaris in vergelyking met dié van hul manlike eweknieë” . Vraag is hoe vergelyk die toeskouer getalle by die wedstryde en ook kykers op TV. As iets nie vir iemand interresant is nie dan is dit nie, en dan moet iemand seker die rekeninge en selarisse betaal. Wat jy noem professionele sport. Zimbabwe se mans span byvoorbeeld kry moontlik minder as die Engelse vroue span.

Jack Russ1 ·

Saam met jou daarmee. Wat is die waarde wat jy byvoeg? Kan nie verwag dat jy die selfde salaris moet ontvang indien die gelde van die borge wat jou wedstryde inbring net ‘n druppel in die emmer is nie.

Watter “ismes” gaan nog uitgedink word. Sportisme, jammer rugby kry meer geld as handjie tennis, so daar word nou diskrimineer teen handjie tennis en rugby moet nou maar van hulle borge oorbetaal

Petrus Albertus ·

Die strekking van die berig laat aan die een kant my bloed kook en aan die anderkant tintel ek van leedvermaak. Ek wens die Britte wil maar net aanvaar hulle is die oorspronklike tweegesig rassiste – nadat hulle al die jare so baie te sê gehad het oor ander lande en kultuurgroepe moet hulle maar bietjie voel hoe dit voel as al jou instellings ook aangeval en ondermyn word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.