Finland wéér gelukkigste

Helsinki, Finland. (Foto: Alessandro RAMPAZZO/AFP)

Finland is vir ’n sewende agtereenvolgende jaar die wêreld se gelukkigste land.

Volgens die jaarlikse World Happiness Report het Nordiese lande hul plekke onder die 10 gelukkigste lande behou, met Denemarke, Ysland en Swede wat na Finland volg. Afghanistan is laaste op die lys van 143 lande.

Vir die eerste keer sedert die verslag meer as ’n dekade gelede gepubliseer is, is die VSA en Duitsland nie onder die 20 gelukkigste lande nie – hulle is in onderskeidelik die 23ste en 24ste plekke. Costa Rica en Koeweit het die top-20 op posisies 12 en 13 betree.

Suid-Afrika is 83ste op die lys, twee plekke op van verlede jaar.

Volgens die verslag tel die wêreld se grootste lande nie meer onder die gelukkigstes nie.

“In die top-10-lande het net Nederland en Australië bevolkings van meer as 15 miljoen. In die hele top-20 het slegs Kanada en Brittanje bevolkings van meer as 30 miljoen.”

Die lande met die skerpste afname in geluk, is Afghanistan, Libanon en Jordanië, terwyl die Oos-Europese lande Serwië, Bulgarye en Letland die grootste toenames in geluk gerapporteer het.

Die gelukrangorde is gegrond op individue se eie evaluerings van lewenstevredenheid, sowel as BBP per capita, maatskaplike ondersteuning, gesonde lewensverwagting, vryheid, vrygewigheid en korrupsie.

Jennifer de Paola, ’n navorser aan die Universiteit van Helsinki in Finland, het aan AFP gesê dat Finne se noue verbintenis met die natuur en hul gesonde werk-lewe-balans sleutelbydraers is tot hul lewensbevrediging.

“Die Finse samelewing word deurspek met ’n gevoel van vertroue, vryheid en ʼn hoë vlak van outonomie,” het De Paola gesê.

Vanjaar se verslag het ook bevind dat jonger geslagte gelukkiger is as hul ouer eweknieë in die meeste van die wêreld se streke – maar nie almal nie.

In Noord-Amerika, Australië en Nieu-Seeland het geluk onder groepe onder 30 dramaties gedaal, met ouer generasies wat nou gelukkiger is as jongmense.

Daarenteen het geluk in Sentraal- en Oos-Europa aansienlik toegeneem op alle ouderdomme gedurende dieselfde tydperk, terwyl mense van alle ouderdomme in Wes-Europa soortgelyke vlakke van geluk gerapporteer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

KB ·

De Paola moet dalk bietjie kyk na dissipline, respek, eerlikheid, verantwoordelikheid en trots as maatstawwe, ipvd geykte “menseregte”- woordjies.

Republikein in die Wes Kaap ·

Maar Finland deel dan ‘n lang grens met Rusland.

Louis ·

Noorse lande en nie Nordiese lande nie… Wie taalversorg Maroela se artikels?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.