Foto’s: Kalf van uiters skaars renosterspesie gebore

Kalf van uiters skaars renosterspesie (Foto: Ron Magill, Facebook)

Die Miami-dieretuin spog met die geboorte van ’n renosterkalf van ’n bedreigde spesie wat met behulp van kunsmatige bevrugting verwek is.

Akuti, ’n sewejarige lid van die groter eenhoring-renosterfamilie (rhinoceros unicornis) wat ook die Indiese renoster genoem word, het vroeg Woensdagoggend lewe geskenk nadat sy langer as 15 maande dragtig was.

Dit is die tweede renoster van dié spesie wat in die dieretuin gebore is, maar die eerste suksesvolle geboorte in die geskiedenis wat die gevolg van kunsmatige bevrugting is.

Akuti is in Januarie 2012 in die San Diego Zoo Safari Park gebore en het in Februarie 2016 by die Miami-dieretuin aangekom. Akuti beteken prinses in Hindi.

Die kalf se pa, Suru, is ook in die San Diego Zoo Safari Park gebore en is in Oktober 2003 na die Miami-dieretuin oorgeplaas.

Ná verskeie onsuksesvolle pogings van natuurlike teling is ’n spesiale span van die South East Zoo Alliance for Reproduction and Conservation (Sezarc) in samewerking met dr. Monica Stoops van die Cincinnati-dieretuin ingeroep om semen van Suru te kry waarna Akuti in Januarie 2018 kunsmatig bevrug is.

Kalf van uiters skaars renosterspesie (Foto: Ron Magill, Facebook)

Die fetus is deurgaans met ultraklank-ondersoeke gemonitor. Die geboortedatum was maklik om vas te stel omrede die presiese datum van bevrugting opgeteken is. Akuti is ’n paar dae voor die geboorte onder 24-uur-waarneming geplaas.

Die renosterkalf is perdfris en gesond en meer inligting sal in ’n latere stadium beskikbaar gemaak word sodra die veeartsspan ’n neonatale ondersoek gedoen het. Hierdie ondersoek sal uitgevoer word wanneer die dieretuin se personeel dit goeddink om die kalf vir ’n paar minute van sy ma te kan skei. Dit is uiters belangrik dat die kalf en ma eers ’n sterk band vorm.

Minder as 3 000 Indiese renosters kom nog in klein beskermde gebiede van Nepal, Indië en Assam voor. Hierdie spesie is oor die jare gejag en uitgeroei vir hulle horings vir hoofsaaklik medisinale doeleindes.

Die seldsame geboorte is nie net ’n historiese gebeurtenis vir die Miami-dieretuin nie, maar dis ook ongelooflik belangrik om te besef dat dié kwesbare maar waardevolle spesie te alle tye bewaar moet word met behulp van menslike sorg en ingryping.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Penellope Jones ·

Is dit nou nie te dierbaar nie??
Mag Akuti ‘n lang en gelukkige lewe he!

jean ·

Te Beautiful!!!!!!!!… Hoop daar sal nog boeties en sussies kom….kunsmatige bevrugting of te not!

Sarel ·

Die kalf moet beskerm word nie aan die wereld en ” poachers” bekend gestel word nie.

Db ·

Dit is die mooiste klein ding. Pas die kalfie asseblief baie mooi op

Sandra ·

Gelukkig is hulle in ‘n land waar silke goed nog nie gebeur nie. Hy lyk as of amourplated is.

Sandra ·

Gelukkig is hulle in ‘n land waar sulke goed nog nie gebeur nie. Hy lyk as of amourplated is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.