Foto’s: Poolse blondekop is nuwe Mej. Wêreld

Karolina Bielawska van Pole is Woensdag aangewys as die nuwe Mej. Wêreld. (Foto: Facebook/Miss World)

Die blouoog-blondekop Karolina Bielawska van Pole is Woensdag tydens die Mej. Wêreld-kompetisie as die wenner gekroon.

Shree Saini van die VSA en Olivia Yacé van die Ivoorkus is onderskeidelik as eerste en tweede prinses aangewys.

Die kompetisie is in twee dele aangebied, eers in Desember verlede jaar en weer in Maart vanjaar by die Coca-Cola Music Hall in San Juan, Puerto Rico.

Bielawska (23), wat tans werk aan ʼn meestersgraad in sakebestuur en graag ʼn PhD-graad wil verwerf, is deur Toni-Ann Singh van Jamaika gekroon. Singh is in 2019 as Mej. Wêreld verkies en is die langste dienende wenner van dié gesogte skoonheidskompetisie.

Vanjaar was die 70ste jaarlikse Mej. Wêreld-kompetisie, met deelnemers van 90 lande wat byeengekom het vir die groot geleentheid.

Altesaam 40 semifinaliste was terug in Puerto Rico nadat hulle in Desember op die eiland aan die finale ronde deelgeneem het, wat weer weens ʼn uitbreking van die koronavirus uitgestel moes word.

Bielawska geniet swem en skubaduik en speel ook graag tennis en pluimbal. Sy werk tans as ʼn model en koester drome om ʼn motiveringspreker te word. Sy is ook passievol oor die liefdadigheidsprojek, “Zupa Na Pietrynie”, waarby sy betrokke is.

Dié projek verleen hulp aan hawelose mense in die vorm van kospakkies, klere en regsadvies en skep bewustheid oor dié maatskaplike kwessie. Die projek het ook die eerste openbare badkamer vir hawelose mense in Lodz, Pole, gebou.

Karolina Bielawska (middel) is die nuwe Mej. Wêreld. Shree Saini van die VSA (links) en Olivia Yacé van die Ivoorkus (regs) is onderskeidelik as eerste en tweede prinses aangewys. (Foto: Twitter)

“Toe ek my naam hoor, was ek geskok,” het ʼn tranerige Bielawska ná haar kroning as Mej. Wêreld gesê. Sy is slegs die tweede Poolse deelnemer wat as Mej. Wêreld gekroon is in die geskiedenis van die kompetisie.

“Ek kan dit steeds nie glo nie. Ek voel geëerd om die Mej. Wêreld-kroon te dra en kan nie wag om aan die werk te spring nie. Ek sal hierdie ongelooflike hoofstuk in Puerto Rico vir die res van my lewe onthou.”

Suid-Afrika se Shudufhadzo Musida (26), wat in 2020 as Mej. Suid-Afrika gekroon is, het die top-40 gehaal nadat sy die Beauty with a Purpose-afdeling van die kompetisie gewen het. Sy het egter nie die top-12 gehaal nie.

Stephanie Weil, hoof van die Mej. Suid-Afrika-organisasie asook Werner Wessels, kreatiewe direkteur van die kompetisie, was in Puerto Rico om Musida te ondersteun. Sy het tydens die finale ronde ʼn skepping deur die Kaapse ontwerper Warrick Gautier gedra.

Die televisiepersoonlikheid Peter André en die Latynse sanger en akteur Fernando Allende was die seremoniemeesters by die geleentheid, wat regstreeks in 100 lande uitgesaai is.

Shudufhadzo Musida het die top-40 van die Mej. Wêreld-kompetisie gehaal. Haar skepping is deur Warrick Gautier. (Foto: Willem Botha)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

AmY ·

Baie geluk pragtige jong dame!
Praat van BEAUTY WITH BRAINS!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.