Foto’s: Sjokolade uit Anglo-Boereoorlog in solder gevind

Die blikkie waarin die sjokolade verpak is (Foto: Nasional Trust)

Sjokolade wat koningin Victoria 121 jaar gelede aan soldate in die Tweede Vryheidsoorlog gestuur het, is in ʼn solder gevind. Die sjokolade is aan die troepe gestuur om hul moreel te versterk.

Die sjokolade was nog in die oorspronklike verpakking en blikkie in ʼn Boereoorlog-helmkas gevind by die 15de eeuse Oxburgh Hall in Norfolk, Engeland.

Beamptes van die Nasionale Trust het daarop afgekom toe hulle besig was om ʼn katalogus saam te stel van Frances Greathead se besittings, dogter van Oxburgh Hall se eienaar, die 8ste baronet Sir Henry Edward Paston-Bedingfeld.

Die sjokolade het aan die 8ste baronet, Sir Henry Edward Paston-Bedingfeld behoort (Foto: Nasional Trust)

“Alhoewel dit nie meer aptytwekkend lyk nie en die vervaldatum lankal verstryk het (jy sal dit byvoorbeeld nie as jou Paashappie wou hê nie), is dit steeds volledig en ʼn ongelooflike vonds,” het Anna Forrest, kurator van die Nasionale Trust, gesê. “Ons neem aan die baronet het die sjokolade saam met die helm gebêre as ʼn herinnering aan sy tyd in die Boereoorlog.”

Meer as 100 000 blikkies, wat elk ʼn half pond sjokolade bevat, is vir soldate in die Tweede Vryheidsoorlog vervaardig deur Cadbury, Fry en Rowntree.

Elke soldaat het ʼn blikkie ontvang met die inskrywing “Suid-Afrika 1900” en “Voorspoedige Nuwejaar” in die koningin se handskrif.

Die Tweede Vryheidsoorlog of Anglo-Boereoorlog was ‘n oorlog tussen die Boererepublieke van die Oranje-Vrystaat en die Zuid-Afrikaansche Republiek aan die een kant en die Britse Ryk aan die ander kant wat tussen 11 Oktober 1899 en 31 Mei 1902 in Suider-Afrika, Swaziland ingesluit, gewoed het.

Sir Henry was ʼn majoor in die weermag van die King’s Liverpool Regiment tydens die oorlog. Hy was in 1902 nog steeds in Suid-Afrika toe sy pa oorlede is en hy moes terugkeer na Oxburgh Hall. Hy het teruggekeer met die sjokolade, sy helm en ʼn nuwe titel.

Talle van die soldate het hul sjokolade huis toe gestuur vir veilige bewaring en van dié blikkies is nog steeds beskikbaar, maar baie min bevat nog die sjokolade.

Die Nasionale Trust hoop om die items in die toekoms uit te stal.

Die Nasionale Trust is ʼn liefdadigheidsorganisasie wat hom op bewaring toespits. Die organisasie beskerm meer as 350 geskiedkundige huise, 160 tuine, 1 100 km kuslyn, 254 000 hektaar grond, ses Wêrelderfenisgebiede, 28 kastele en 60 kroeë.

Bron: Nasionale Trust

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Rudy ·

Ek weet dié oorlog was baie lank terug. Ek kan geen kwade gevoelens dra teen die Britte tans nie. Maar ek moet sê, sou daar dieselfde ophef gemaak word as dit Nazi-sjokolade was? En wat is die verskil tussen die wreedheid in SA konsentrasie kampe waar vroue en kinders wreed omgekom het onder die queen?.. En dieselfde (natuurlik meer) wreedheid en moorde jeens die Jode?

Stofdonkie ·

Hy het duidelik nie die sjokolade vertrou van die koningin af nie. Seker bang gewees daar is gif of glas in.

Jose ·

Die ABO sjokoladeblikkies is nogal bekombaar op die mark vir ABO items. Gewoonlik leeg. Ek het ook een wat nog die sjokolade bevat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.