Foto’s: Só open Olimpiese Spele

Die hout van die Olimpiese ringe kom van bome wat geplant is van saad wat atlete gebring het tydens die vorige Spele in Tokio (Foto: @Olympics/Twitter)

Die openingseremonie van die Tokio Olimpiese Spele het Vrydag in ʼn byna leë stadion plaasgevind ná die Spele vir ʼn jaar lank uitgestel is weens die Covid-19-pandemie.

ʼn Video wat wys hoe atlete by die huis geoefen het tydens die pandemie, het die vertoning ingelei met pienk vuurwerke wat ná ʼn aftelling die lug in geskiet is.

Die seremonie in die stadion, met ʼn kapasiteit vir 68 000 toeskouers, het plaasgevind voor ʼn paar honderd beamptes en afgevaardigdes, insluitend Japan se keiser Naruhito, Franse president Emmanuel Macron en die Amerikaanse eerste vrou Jill Biden. Naruhito het die Spele amptelik geopen.

Die Olimpiese Spele het teenkanting gekry in Japan uit vrees dat die samekoms van 11 000 atlete moontlik ʼn superverspreider-byeenkoms kan wees. Organiseerders het egter baie streng afsonderingsmaatreëls in plek gestel. Vir die eerste keer ooit word geen buitelandse toeskouers toegelaat nie. Plaaslike toeskouers sal bly slegs ʼn handjievol fasiliteite toegelaat word.

Atlete, ondersteuningspersoneel en media word onderwerp aan streng Covid-19-protokol, insluitend gereelde toetse en daaglikse gesondheidsondersoeke.

Meningspeilings het deurlopend aangedui dat die meerderheid van Japannese teen die Spele gekant is. Daar was egter voor die openingseremonie ʼn entoesiastiese skare buite die stadion toe honderde opgedaag het om die atmosfeer te beleef en na die vuurwerkvertoning te kyk.

Mako Fukuhara het ses ure voor die seremonie opgedaag om ʼn plek te kry. “Tot nou toe het dit nog nie soos die Olimpiese Spele gevoel nie, maar nou dat ons hier by die stadion is, voel dit soos die Spele,” het sy aan AFP gesê terwyl mense naby haar selfies geneem het.

Die openingseremonie is gewoonlik die hoogtepunt van enige Somerspele, met ʼn parade van lande en die aansteek van die Olimpiese vlam. Die seremonie in Tokio is egter heelwat vereenvoudig. Minder as 1 000 afgevaardigdes was by die stadion. Topborge soos Toyota en Panasonic het nie die seremonie bygewoon nie.

ʼn Paar honderd betogers het buite die stadion saamgedrom toe die seremonie begin het.

Tokio het tans ʼn toename in die getal gevalle en noodmaatreëls bepaal dat kroeë en restaurante reeds teen 20:00 moet sluit en geen alkohol mag verkoop word nie.

Thomas Bach, hoof van die Internasionale Olimpiese Komitee, het egter volgehou dit was nooit ʼn opsie om die Spele te kanselleer nie. “Ons moes die afgelope 15 maande baie besluite maak in ʼn baie onseker tyd. Ons het elke gedag getwyfel. Ons het slapelose nagte gehad. Ons kan nou uiteindelik die einde van die donker tonnel sien. Kansellasie was nooit ʼn opsie nie. Die IOK laat nie atlete in die steek nie. Ons het dit vir die atlete gedoen,” het Bach gesê.

Daar is ook stewige finansiële voordele as die Spele voortgaan. Na raming sou die IOK sowat $1,5 miljard moes opdok vir ʼn verlies aan uitsaaier-inkomste as die Spele gekanselleer sou word.

ʼn Nuwe generasie Olimpiese atlete sien egter uit daarna om te skitter ná ʼn dekade wat gedomineer is deur atlete soos Usain Bolt en Michael Phelps.

Die Amerikaanse swemmer Caeleb Dressel het moontlik sewe goue medaljes in die oog, en op die baan sal Karsten Warholm van Noorweë en Amerika se Sydney McLaughlin (albei 400 m-atlete) waarskynlik huishoudelike name word. Simone Biles wil graag haar loopbaan in gimnastiek kroon deur Larisa Latynina se rekord van nege Olimpiese goue medaljes te ewenaar.

Nuwe Olimpiese items in Tokio is branderplankry, skaatsplankry, klim en karate.

Klik hier om die skedule vir Span Suid-Afrika vir Saterdag te sien.

Span Suid-Afrika (Foto: TeamSA2020/Twitter)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Vlooitjie ·

Ek gaan surprised wees as daar nie gekla gaan word dat SA se klere “té” Afrikaans lyk nie

NEO ·

Geniet dit baie om na die olimpiese spele te kyk. Atletiek en gimnastiek my gunsteling.

Joe Olivier ·

En die sa span se vlag in foto onder is onderstebo. Net soos die land huidiglik is.

B-Man ·

Choke, jy’s reg. Vlag is verkeerd om. Dis mos eintlik teen die wet…

Leeuwyfie ·

Ek soek daai skoene en daai broek. Ek dink ons Suid Afrikaners lyk pragtig!

B-Man ·

Ek dink ook so. Span lyk goed. Ons regering sal seker nou weer kla dat ons span te wit is.

annie ·

Die DuitserThomas Bach is ‘n baie Naziágtige mater wat volgehoue druk op Rusland toepas. Dat Rusland Hitler se vernietigende tog gekortwiek het, bly ‘n bitter pil. Nou is hy ook ongelukkig oor Rusland se sportdrag. Berg Fuji word in ons kele afgedruk met sy(haar) afgodsdiens-konnotasie? Sou Japan ‘n byeenkoms bywoon waar die Christelike geloof so ‘n prominente rol speel?

Elmarie ·

Ja-nee daar is al KLAAR weer spul wat gekla het ons span se kleure lyk te “farmer” like en soos “Orania” tipe ens – ek wonder oor die wat so kritiseer of hulle beter sou kon doen. Persoonlik is ek mal oor die klere, dit lyk koel en ook cool en modern daarby en pure Afrika met die soort van Zebra strepe. Die vellies is wonderlik en Veldskoene het ‘n pragtige storie oor hoe hul ontstaan het. Pure Suid Afrikaans. Baie beter as die aaklige oorgroot sweetpakke wat so onatleties moontlik gelyk het in ‘n vorige Spele. Ek hoop ons span doen baie goed en ek kan persoonlik nie wag vir 1 Aug want ek is seker Akani gaan’n medalje kry – ek hoop GOUD! Ek hou ook duimvas vir Tatjana wat dalk ook goud kan kry. Ag dis net lekker en opbeurend om iets so groots soos die Spele te kan kyk. Mens vergeet bietjie van naarhede soos Covid en Aids en armoede en sukkel. Lekker man!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.