
Volcan de Fuego bars uit in ʼn dik wolk van as. Die foto is geneem vanaf Alotenango, Guatemala (3 Junie 2018). Foto: Luis Soto/AP
ʼn Vulkaanuitbarsting Sondag in Guatemala wat veroorsaak het dat lawa in landelike gemeenskappe invloei het tot die dood van minstens 25 mense gelei.
Reddingswerkers sukkel tans om by mense uit te kom waar huise en paaie bedek is onder ʼn kombers van as.
Die dodetal het laat Sondag gestyg toe 18 liggame in San Miguel los Lotes gevind is, het David de Leon, ʼn plaaslike rampbestuurwoordvoerder gesê. Sewe ander sterftes is vroeër op ander plekke aangemeld.
Minstens 20 mense is in die natuurramp beseer en owerhede vrees dat die dodetal nog verder kan styg aangesien daar ʼn onbepaalde getal mense is wat nog vermis word.
Die Volcan de Fuego, of “Vulkaan van vuur”, het kort voor 12:00 tot uitbarsting gekom en ʼn stortreën van as en gesmelte klip die lug ingestuur. Nabygeleë nedersettings is byna dadelik deur as bedek en die lawa het teen die berg se kante begin afvloei en teen 16:00 oor huise en paaie geloop.

Brandbestryders verlaat die ontruimingsgebied naby Volcan de Fuego in El Rodeo in Guatemala (3 Junie 2018). Foto: Santiago Billy/AP
Die vulkaan is ongeveer 44 km van die stad Guatemala geleë.
Eddy Sanchez, direkteur van die land se seismologiese en vulkanologie-instituut, het gesê die lawa wat uitgevloei het, het ʼn temperatuur van ongeveer 700 ˚C gehad.
Dramatiese beeldmateriaal het getoon hoe die vinnig vloeiende lahar teen ʼn brug op ʼn snelweg tussen Sacatepequez en Escuintla ophoop en die brug gedeeltelik verwoes. Lahar is ʼn modderige mengsel van warm gasse, water en rots.
Sacatepequez-televisiekanale het beelde getoon van die gebrande landskap waar die lawa met huise in kontak gekom het. In een van die tonele het drie liggame gedeeltelik uitgesteek waar dit onder die puin lê.
“Nie almal kon daarin slaag om weg te kom nie. Ek dink hulle is onder die puin begrawe,” het Consuelo Hernandez, ʼn inwoner van El Rodeo aan die koerant Diario de Centroamerica gesê. “Toe ons die lawa sien val, het ons na ʼn heuwel gehardloop om te vlug.”
Laat Sondag het huise in El Rodeo steeds gebrand en ʼn brandreuk het oor die dorpie gehang.

Volcan de Fuego bars uit in ʼn dik wolk van as. Die foto is geneem vanaf Alotenango, Guatemala (3 Junie 2018). Foto: Santiago Billy/AP
Honderde reddingswerkers, insluitend brandbestryders, polisie en soldate, is steeds besig om oorlewendes te help en liggame onder die smeulende lawa uit te haal. Brandbestryders het bevestig sommige mense is vasgekeer, maar lawa wat oor die paaie loop maak dit moeilik om by hulle uit te kom.
Guatemala se rampagentskap het gesê 3 100 mense is uit nabygeleë nedersettings verwyder en die as wat geval het, affekteer sowat 1,7 miljoen van die land se bevolking van 15 miljoen. Skuilings is oopgemaak om mense te huisves wat genoodsaak was om te vlug.
“Die uitbarstings gaan steeds voort en daar is ʼn hoë moontlikheid vir nog puinstortings,” het die rampagentskap laat Sondag op Twitter gesê.
Jimmy Morales, president van Guatemala, het gesê hy sal die kongres versoek om ʼn noodtoestand af te kondig.
- Polisie het ʼn pad in El Rodeo afgesper wat bedek is met as ná die uitbarsting. Foto: Santiago Billy/AP
- Gesmelte klip en lawa bars uit Volcan de Fuego. Die foto is geneem vanaf Alotenango, Guatemala (3 Junie 2018). Foto: Luis Soto/AP
- Werkers vee die vulkaniese as op in Guatemala City (3 Junie 2018). Foto: Luis Soto/AP
- Ruth Rivas, wie se twee kinders vermis word, word deur haar buurvrou getroos by ʼn skuiling in Alotenango, Guatemala (3 Junie 2018). Foto: Luis Soto/AP
- Dik rook en as borrel uit Volcan de Fuego. Hierdie foto is geneem vanaf Alotenango in Guatemala (3 Junie 2018). Foto: Santiago Billy/AP
- Fidelina Lopez huil oor haar vermiste geliefdes by ʼn skuiling naby die Volcan de Fuego in Alotenango, Guatemala (3 Junie 2018). Foto: Luis Soto/AP
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
6 Kommentare
Bitter hartseer.Ek voel so jammer vir die mense wie se geliefdes dood of vermis is. Moeder Natuur kan wreed wees.
Ek verwonder my altyd; Moeder natuur doen wat sy nog altyd doen vir die laaste klompie biljoen jaar of so. Wanneer gaan ons as mense besef om weg te bly van sulke brandpunte? Dis moeilik om oral veilig te wees maar regtig, daar is plekke waar jy weet jy gaan vroeër of later seer kry. Vulkane is een so ‘n plek.
Hartseer wat hier gebeur het, ek glo nie in moeder aarde en haar jazz nie, glo ook nie in biljoene jare nie, maar ek glo n Groot en n Almagtige God is in beheer wat doen ver bo my verstand en n God wat jy verstaan is nie waardig om aanbid te word nie. Who taught the sun where to stand in the morning, Who told the ocean you can only come this far and Who told moon to wait till evening, Whose word alone can catch a falling star. Well I know my Redeemer lives…I spoke to Him this… Lees meer »
toe steek my aardrykskunde my in die steek. Moes toe eers google en gaan soek waar hierdie plek is.
Guatemala, a Central American country south of Mexico, is home to volcanoes, rainforests and ancient Mayan sites.
sal goed wees as daar ‘n kaart op is volgende keer dat mens gou kan kyk waar’s die of daai plek. ;-)