Franse vergader terwyl dit wriemel van weeluise

Argieffoto van die Parys-metro. (Foto: Unsplash)

Die Franse regering sal vandeesweek noodvergaderings belê om die toenemende aantal weeluisgevalle in die land te ondersoek.

Talle weeluise is die afgelope paar weke (te midde van die Wêreldbeker-rugbytoernooi) op sneltreine, die Charles de Gaulle-lughawe in Parys, die Parys-metro en selfs in rolprentteaters opgemerk.

Twee skole – een in Marseille en die ander in Villefranche-sur-Saone buite Lyon in die suidooste van Frankryk – is met weeluise besmet en is vir ʼn paar dae gesluit om ontsmet te word.

Clement Beaune, die Franse minister van vervoer, sou na verwagting Woensdag ʼn vergadering belê om “die situasie te kwantifiseer en die maatreëls te versterk”.

ʼn Interministeriële vergadering sal dan Vrydag volg om “spoedig antwoorde vir die Franse te verskaf”, het Olivier Veran, regeringswoordvoerder, aan RTL TV gesê.

Sylvain Maillard, hoof van pres. Emmanuel Macron se Renaissance-party in die Franse Nasionale Vergadering, sê ʼn wetsontwerp sal “aan die begin van Desember” voorgelê word om die “plaag” van weeluise te bekamp.

Aurelien Rousseau, die Franse minister van gesondheid, het egter op Franse radio gesê daar is geen rede tot paniek nie. “Wat my bekommer, is dat mense verneuk word deur firmas wat hulle 2 000 of 3 000 euro laat betaal om hul huise van weeluise te reinig.”

Renaissance-LP Bruno Studer het gesê ʼn toekomstige prioriteit sal wees om die aantal weeluise te tel. “Ons weet nie vandag of daar meer weeluise is as in 2019 nie.”

Weeluise, wat teen die 1950’s grootliks uit die daaglikse lewe verdwyn het, het die afgelope dekades as’t ware grootskaals herleef, meestal weens hoë bevolkingsdigthede en meer massavervoer.

ʼn Tiende van alle Franse huishoudings het glo die afgelope paar jaar ʼn weeluisprobleem gehad.

Weeluise kry hul naam van hul gewoonte om in matrasse nes te maak, hoewel hulle ook in klere en in bagasie kan wegkruip.

Weeluisbyte laat rooi velgedeeltes, blase of veluitslae en kan intense jeuk of allergiese reaksies veroorsaak. Die insekte veroorsaak ook dikwels sielkundige nood, slaapprobleme, angs en depressie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Nettie ·

Die insekte veroorsaak ook DIKWELS sielkundige NOOD, angs en DEPRESSIE?

Wat, gaan mense hul kindertjies begin doodmaak, want hulle is depressief oor die luise.
En dis blykbaar wat depressie deesdae aan mense doen?
Of is my galgehumor te swart vanaand?

Sjoe, maar die mensdom is darem maar vol fiemies deesdae!

Harley Davidson ·

Praat ons hier van regte weerluise of onwettige immigrante.

annie ·

Moenie te hard lag nie. Weë-luise hou van toer en spring vinnig in toeriste se bagasie en reis verniet saam. Om dié vryerige gediertes uit te roei is glo nogal ‘n joppie.

Deon ·

Het Luise dan nie regte in Europa nie . Gee Luise ” refugee’ status :)

marix ·

Gee vir die Franse bietjie ivermectin. Dit het ZA se kopluispandemie ‘n finale nekslag toegedien!

Elma ·

Jeuk ek nou! Sterkte met die “weeluis sensus”. Franse gaan n rukkie besig wees.

JohanR ·

Ons het hulle ook hier in SA. Ons noem hulle ANC, EFF, SAKP en Cosatu!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.