Geen maskers meer op Amerikaanse vlugte

Amerikaanse lugrederye, ondergrondse treine en busdienste het Dinsdag met verpligte maskerregulasies weggedoen. (Foto: Bambi Corro / Unsplash)

Amerikaanse lugrederye, ondergrondse treine en busdienste het Dinsdag inderhaas met alle verpligte maskerregulasies weggedoen. Dit volg ná ’n federale hofuitspraak dat beleid wat gesigsmaskers op openbare vervoer vereis, geskrap word.

Die taxidiensmaatskappye Uber en Lyft en die spoorwegmaatskappy Amtrak het ook aangekondig dat maskers nié meer ʼn vereiste vir die gebruik van hul dienste sal wees nie.

Dié maatskappye het wel gesê hoewel dit nie meer ʼn vereiste is nie, gesigsmaskers steeds aanbeveel word.

Die dra van gesigsmaskers was regdeur die Covid-19-pandemie ʼn vuurwarm debatskwessie in dié land. Die jongste verwikkelinge het ook vinnig tot ʼn gegons op sosiale media gelei.

In een video kondig ʼn vlieënier dié stap op ʼn Delta-vlug aan waarop een passasier uitroep “uiteindelik!”.

Scott Hechinger, ʼn regskenner, was minder entoesiasties.

“Almal nies en hoes. En mense asem dit bloot in. Vryheid,” het hy tydens ʼn vlug getwiet.

Beleidmakers in Washington het verlede week besluit om die opheffing van die verpligte maskerbeleid tot 3 Mei uit te stel voordat federale regter Kathryn Kimball Mizelle ʼn stokkie daarvoor gesteek het.

Sy het beslis dat dié beleid die statutêre mag van die Amerikaanse sentrum vir siektebeheer en -voorkoming (CDC) oorskry.

Die hofsaak is reeds in Julie verlede jaar deur ’n konserwatiewe nie-winsgewende organisasie, Health Freedom Defence Fund, en twee eisers aanhangig gemaak.

Die departement van justisie en die CDC het intussen gesê dat hulle nie met die hof se bevinding saamstem nie.

Die departement het die maskerbevel as ’n “geldige uitoefening van die gesag wat die kongres aan die CDC gegee het om openbare gesondheid te beskerm” beskryf.

“As die CDC nou tot die gevolgtrekking kom dat ’n verpligte maskerbeleid vir die publiek se gesondheid nodig bly, sal die departement van justisie teen die distrikshof se besluit appelleer.”

Onlangse opnames dui aan dat die meerderheid mense steeds ten gunste van ’n binnenshuise maskerbeleid is, terwyl die minderheid sterk daarteen gekant is.

’n Meningspeiling wat op 18 April deur YouGov van stapel gestuur is, het bevind dat 63% “streng” of “ietwat” ten gunste van ’n verpligte maskerbeleid op openbare vervoer is.

Die Metropolitaanse-vervoerowerheid in New York het boonop besluit dat die dra van maskers ondanks die uitspraak steeds verpligtend sal wees.

Vlugpersoneel blyk egter nog tussen twee vure te sit.

“Daar is ʼn groot verligting onder vlugbemanning. Daar is egter ook mense wat baie bekommerd is,” het Sara Nelson, president van die vereniging vir vlugbemanning, gesê.

Republikeinse politikus Sam Graves van Missouri sê dis “hoogtyd” dat daar met maskers weggedoen word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Pieter ·

Die regte ding om te doen. Sieklik om verwerkte lug weer in te asem, verhoog jou kans om infeksies van die lugwee en longe op te doen met ‘n verswakking in verstandelike vermoens. Maar natuurlik is SA agter al het ons baie skoon lug in die platteland.

Pietertjie ·

Ons het vir donkiejare in mekaar se gesigte genies en gehoes sonder pandemie. ‘n Virus waarvan die isolaat nog nie geproduseer kon word nie, is nou die enigste rede waarom daar ‘n pandemie en maskers moet wees.

Winnie ·

Wat gaan hulle doen as ons nog steeds maskers wil dra. Ek gaan binnekort deur Amerika vlieg en gaan beslis my masker dra. Eerder ban jan as dooi jan

VaalDonkie ·

maak maar so. Niemand gaan jou forseer om dit af te haal nie

Marius ·

Die keuse bly elkeen se prerogatief. Gelukkig is almal nie ‘n bangjan nie. :-)

Neestemmer ·

Langdurige maskerdra verhoog eintlik net jou kans om bakteriele pneumonia te try, maar jullie gebreinspoeldes is welkom om te masker en “vaccine” soveel as jy wil as julle dink dit help vir julle. Die res van ons het natuurlik immuniteit en is nie bang vir covid nie…..

Anel ·

Laat die wat so lief is vir hulle maskertjies dit maar dra maar los ons ander uit. So ver ek kan verstaan het die verpligte dra van maskers al op 6 April verval met die opheffing van die covid 19 ramptoestand. Die covid ramptoestand is nêrens verleng nie, maar tog klou mense nog steeds daar aan vas. As ons nie oppas nie gaan die nuwe gesondheidsregulasies dit tot in advinitum verplig. Ek probeer mense daarop wys dat dit nie meer verpligtend is nie en niemand kan vir my sê wanneer dit verleng is nie of tot wanneer nie. Mense is al klaar so gebreinspoel. Dra myne die minimum. Maar nou ja!

Janine ·

Die dra van maskers binnenshuis (m.a.w. in winkels ens) is steeds verpligtend.

Lourens ·

Om jou TV lisensie te betaal is blykbaar ook verpligtend. Baie van ons hanteer beide voorskrifte met dieselfde minagting.

domheks ·

Dit sal nie in SA werk nie – magsbehepte amptenare wat lekker skep met die PPE’s!!!

Mariana ·

Ek dink dit is steeds elke persoon se eie keuse of jy hom wil dra of nie. Maar vir veiligheid sou ek myne op vliegtuig dra.

VaalDonkie ·

Die masker help nie vir die inasem-slag nie. Dit help hoogstens dat jy nie op ‘n ander persoon nies of hoes nie. En daar is nie iets soos “social distancing” op ‘n vliegtuig nie. Jy gaan lekker SNOESIG teen jou buurman sit.

Neestemmer ·

En daai maskertjie met sy 80 mikron gate gaan die 0,1 mikron virus uithou soos doringdraad muskiete uit jou erf hou…..LOL

LANA is ELANè ·

Mense wat steeds dink ñ masker voorkom dat ñ virus aansteeklik is het beslis nie laerskool biologie geslaag nie, dit is ñ klug!
Mense wat wel ñ verkoue het kan dalk uit respek vir ander hul maskertjie dra, maar om gesonde mense te verplig om die “beklap” te dra is net om mense gesigloos te maak en deur drakoniese regulering beheer te kan word.
Siek en sat vir die stuk lap wat die hele land vol lê en besoedel.

Hoopvol ·

Daar is studies wat aandui dat dit NADELIG is om maskers te dra, al glo ek dat daar wel tye en plekke is waar dit beskerming kan bied – vir kort rukkies. Die hoë koolstofdioksied wat jy binne die masker inasem (hersirkuleer), verhoog die suurvlakke in jou bloed. Dít benadeel jou gesondheid op verskeie maniere. Kan die verbod nie maar net opgehef word nie? Almal wat wil kan dan steeds hulle maskers dra…

Cherokee ·

Die enigste plek waar maskers behou moet word, en permanent.. is by kokke en kelners. As ek ‘n restaurant sou raakloop waar die bedieningspersoneel maskers dra, sal dìt my gunsteling restaurant wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.