Geen verband tussen entstof en sterftes in Noorweë

(Foto: Graeme Robertson / various sources / AFP)

Die owerhede in Noorweë het Maandag gesê geen verband is gevind tussen Pfizer-BioNTech se Covid-19-entstof en die tientalle sterftes onder die bejaarde ontvangers daarvan nie.

ʼn Hele aantal lande, waaronder Noorweë se buurlande Denemarke, Finland, Ysland en Swede, het sterftes ná inenting gerapporteer, maar geen direkte verband met die entstof is vasgestel nie.

Dokters beveel wel aan dat die algemene gesondheid van bejaardes of verswakte mense oorweeg moet word voordat die entstof toegedien word.

Sedert die begin van Noorweë se inentingsveldtog wat teen einde Desember van stapel gestuur is, het die land reeds 33 sterftes onder bejaardes wat hul eerste dosis ontvang het, aangemeld.

Uit die 13 sterftes wat tot dusver breedvoerig ontleed is, was die oorledenes “reeds van ʼn gevorderde ouderdom, verswak en met ernstige siektetoestande – almal van hulle”, het Camilla Stoltenberg, direkteur van die Noorweegse instituut vir openbare Gesondheid, gesê.

“Wat oorsake van die sterftes betref, is daar nog geen ontleding gedoen nie.”

Stoltenberg sê dit is belangrik om te onthou dat ongeveer 45 mense daagliks in tehuise in Noorweë sterf.

“Dit is dus nie ʼn gegewe dat dit bykomende sterftes verteenwoordig of dat dit met die entstof verband hou nie.”

Intussen berig Al Jazeera dat Noorweë ook nie sy beleid oor die gebruik van die entstof weens die sterftes gaan verander nie.

Ná die berigte oor die sterftes het Noorweë nogtans benadruk dat dokters individueel moet oorweeg of pasiënte wat verswak of dodelik siek is, die entstof moet ontvang. Dieselfde aanbeveling word ook in ander lande gedoen.

Die Noorweegse medisyneagentskap het verlede week gesê dat normale newe-effekte van die entstof, soos koors en naarheid, moontlik bygedra het dat verswakte pasiënte dood is.

Pfizer en BioNTech het Maandag gesê hulle werk saam met die agentskap om al die tersaaklike inligting in te samel.

Meer as 48 000 mense is tot dusver in Noorweë ingeënt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Fritz ·

Mense sterf (moontlik) agv die entstof en die owerhede sê dis normaal.
Mense sterf van covid en dis n ontsettende ramp.
Ja né……

Dirk ·

Fritz, ek stem 100% saam, daai entstowwe gaan lol.
Dit vat volgens my etlike jare om ń effektiewe, newe effekte vrye, medies getoetste entstowwe te beproef en dán vir komersiele gebruik vry te stel.

Ek betwywel ENIGE naald wat NOU naby my kom.

Hoe sé hulle in elk geval daar is geen verwantskap tussen die COVID-19 ENTSTOF en die sterftes as daar nog nie eers ń “ontleding”(van die afgesterfdes) gedoen is nie ?

Frans ·

Soos ek dit verstaan bevat die entstof ‘n verswakte weergawe van die virus wat dan deur die liggaam beveg word en so weerstand ontwikkel sodat wanneer die werklike virus die liggaam wel bemet dit gereed is om die te beveg.
My vraag is nou,is die immuniteitstelsel van ou mense met allerhande kwale nie dalk te swak om selfs die verswakte virus van die entstof te beveg nie en dan agv komplikasies daaraan verbonde sterf? Wat sê die kenners?

Regverdigheid ·

Waar n rookie is , is n vuurtjie…. hoe het hul so vinnig eb=nd stof gekry teen Corona maar vir jare nie teen kanker en ander siektes maak net nie sin ???????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.