Geliefde Harry Potter-akteur sterf

Sir Michael Gambon, bekend vir sy rol as Albus Dumbledore, het gesterf. (Foto: Warner Bros./Heyday Films/Collection Christophel/AFP)

Sir Michael Gambon, bekend vir sy rol as Albus Dumbledore in die Harry Potter-reeks, het gesterf. Hy was 82 jaar oud.

Gambon het vreedsaam in die hospitaal gesterf ná ʼn stryd met longontsteking. Sy vrou, Anne, en seun, Fergus, was by hom.

“Ons is hartseer om bekend te maak dat sir Michael Gambon gesterf het,” lui ʼn verklaring wat Donderdag deur die familie se verteenwoordiger, Clair Dobbs, uitgereik is.

“Ons vra dat ons privaatheid in hierdie pynlike tyd gerespekteer word. Dankie vir almal se boodskappe van ondersteuning en liefde.”

Hoewel Gambon veral bekend was vir sy rol in Harry Potter, het hy vir dekades as rolprent- en verhoogakteur gewerk. Hy het in sy loopbaan, wat oor ses dekades strek, drie Olivier-toekennings, twee Screen Actors Guild-toekennings en vier Bafta-toekennings ingeoes. Hy is in 1999 deur die ontslape koningin Elizabeth II tot ridder geslaan.

Gambon het in die derde aflewering van die Harry Potter­-flieks, Harry Potter and the Prisoner of Azkaban, sy eerste verskyning as Albus Dumbledore gemaak. Hy het die leisels by Richard Harris, wat in Harry Potter and the Philosopher’s Stone en Harry Potter and the Chamber of Secrets die rol van Dumbledore vertolk het, oorgeneem nadat Harris in 2002 gesterf het.

Hy het ook in tientalle verhoogproduksies, wat onder meer William Shakespeare se Othello, Hamlet, Macbeth en Coriolanus insluit, verskyn. Hy was daarna in verskeie produksies en flieks, waaronder The Wings of the Dove, The Insider, Gosford Park, Amazing Grace, The King’s speech, Quartet en Victoria & Abdul, te siene.

Hy word deur sy vrou, Anne, en drie kinders oorleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.