Genadedood-wet in Nieu-Seeland aanvaar

David Seymour (regs agter) omhels ander parlementslede nadat die wetsontwerp aanvaar is. Foto: (AP Photo/Nick Perry)

ʼn Wetsontwerp om genadedood te wettig is deur die Nieu-Seelandse parlement aanvaar.

Die finale besluit hieroor sal egter by die land se kiesers lê wanneer daar volgende jaar ʼn referendum gehou sal word vir die wetsontwerp om van krag te word.

Die wetsontwerp is met 69 teenoor 51 stemme aanvaar. Die wetsontwerp maak slegs voorsiening vir mense wat terminaal siek is en waarskynlik binne ses maande gaan sterf. ʼn Persoon wat genadedood kies, moet onomkeerbare liggaamlike agteruitgang hê en ondraaglike lyding ervaar wat nie op enige ander manier verlig kan word as wat vir hulle aanvaarbaar is nie.

Die wetsontwerp strek egter verder as maatreëls in baie ander jurisdiksies reg oor die wêreld deur ’n pasiënt toe te laat om nie net ’n dodelike dosis voorgeskrewe medisyne in te neem nie, maar maak ook daarvoor voorsiening dat ’n dokter of verpleegster die dodelike dosis kan toedien.

Die wetsontwerp het ʼn rekordaantal van 39 000 openbare voorleggings tot gevolg gehad met die meeste wat die maatreël teengestaan het.

Politici van hoofstroompartye het in die verlede onsuksesvol probeer om wette oor genadedood aanvaar te kry, maar hierdie keer is die wetsontwerp geborg deur David Seymour, die enigste verteenwoordiger in die parlement van die liberale ACT-party.

“Dit maak my trots op ons land dat ons hierdie debat kan voer, en dat ons eintlik vooruitgang kan kry en dat ons ʼn samelewing kan word wat vryer is en meer deernis het,” het Seymour gesê. “Ek dink dit is fantasties.”

Maggie Barry, een van die parlementslede wat die wetsontwerp teengestaan het, het gesê dit kom daarop neer dat staatsgesanksioneerde moord, iets wat die land meer as 50 jaar gelede laat vaar het toe die doodstraf afgeskaf is, teruggebring word. Sy het gesê Seymour en die ander ondersteuners van die wetsontwerp kon nie bewys dat daar nie onbedoelde gevolge sou wees nie.

Seymour het gesê die aanvaarding van die wetsontwerp is die begin van die veldtog om die referendum te laat slaag.

“As ʼn mens na die meningspeilings onder die publiek kyk, is daar oorweldigende steun, en dit behoort maklik te slaag,” het hy gesê.

Die referendum sal in dieselfde tyd plaasvind as nog ʼn referendum om dagga vir ontspanningsdoeleindes te wettig asook in die tyd van die land se algemene verkiesing. ʼn Finale datum vir die referendum is nog nie vasgestel nie, hoewel dit nie later as volgende jaar November kan plaasvind nie.

Van die lande wat genadedood gewettig het, sluit in België, Kanada, Colombië, Luxemburg, Nederland en Switserland. Agt Amerikaanse deelstate en Washington het ook ondersteunende selfdood gewettig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Judge Dredd ·

Wat gaan gedoen word om Dokters te beskerm wat weier om dit toe te pas?

Kallie ·

‘n Dokter wat weet sy pasiënt gaan binne maande sterf na ondraaglike lyding sal heel waarskynlik nie weier nie. Hulle ken die liggaam en weet wat is aan die gebeur.

TwaalfBoor ·

@Judge Dredd
Dis ñ geldige vraag. Maar ek dink in so geval sal versoek word dat ñ ander party dit toepas.

Francois in NZ ·

Soos ek dit verstaan uit bespreekings op radio, mag die mediese versorger ( dokter of verpleegste) weier en daar is meer as 14000 van hulle wat gese het hulle sal nie betrokke raak by genade dood nie.
Die versoek om genade dood mag slegs deur die persoon self gedoen raak, waarna n paneel van medisie en ander die aansoek sal oorweeg.

Die teenstanders van die wet reken dat die wetgewing nie nodig is nie aangesien in die meerderheid van gevalle die staking van medikasie en slegs pyn bestuur dieselfde uitkoms kan vermag en dat dit n praktyk is wat reeds algemeen wereld wyd deur dokters gebruik raak. Ek weet dit is so uit ondervinding in SA, as die dokter basies vra die naasbestaandes moet kom groet. Gewoonlik volg die dood redelik vinnig na die laaste dosis pyn medikasie.

peet harmse ·

Die ernstige onderwerp sal verskillende menings ontlok. Vir die persoon wat in lyding verkeer sal dit n oplossing wees wat nie deur ander se opinies weggeneem mag word nie.

Charl Coetzee ·

Ek hoor jou Peet, maar grens dit nie aan selfmoord nie?

se net ·

n Familie mag besluit om jou kunsmatig aan die lewe te hou, dmv hulpmiddels/masjiene. (is dit reg volgens God? Dink daar kan ook daaroor debat gevoer word. Onthou ons vat God se wil uit sy hande want eintlik moes jy sterf.)
Maar as eknie meer kan nie, mag ek nie besluit om my eie lewe te beeindig nie. Onthou dan vat ons ook God se wil uit sy hande)
Nou wonder ek hoekom die mens oor die een mag besluit maar nie oor die ander een nie. Sonde is sonde en om self jou wil af te dwing is seker ook sonde.

Francois in NZ ·

Ek stem 100% saam met jou. Net soos alles wat vermag raak deur wetenskap en tegnologie nie noodwendig die Here se goedkeuring het nie.
Dit het wetenskap en tegnologie geneem om die torning van Babel te bou, en die Here het dit gestop.
So vir almal wat hul antwoorde uit die bybel soek, ek is nie oortuig daarvan dat alle ontwikkelings in die mediese veld God se goedkeuring het nie.
Ons leef om deur genade na die paradys te gaan aan die einde van n lewe op aarde, hoekom wil jy dit uitstel?

Dafer ·

Kan jy glo, iemand wat met ‘n sinvolle wet vorendag kom. Definitief ‘n stap in die regte rigting. ‘n Bietjie genade vir die ou mens!

Darem ·

Families met Alzheimers behoort ook die keuse te kan uitoefen.

HPV ·

So kan die erfgename van welgestelde Alzheimer lyers ook besluit op genadedood om gouer te erf. Dit plaas lewe nou in ander se hande volgens hul oordeel. Nie ‘n gesonde toedrag van sake.

Niel ·

so, iemand wat afhanklik is van lewensgewende masjiene om aan die lewe gehou te word, kan mos net vra dat die masjiene net afgesit moet word, al is hulle nog nie breindood verklaar nie. Op eind dan dalk net met medisyne die pyne verlig tot die liggaam “tot rus” kom. Of andersins, medisyne wat mens aan die lewe hou, nie te gebruik nie, maar geforseer word om dit te gebruik, te eet, binneaarse voeding te kry ens.

Christa ·

EK glo nie n Christen doen sulke digest nie. God gee it elkeen van ons n kruis Om te dra. Hy het groter kruis gedrag maar ons Wil Altyd of kruis ligter maak. EK glo net daardie stukkiekruis wat ons afsaag Gaan ons benodig Om oor die Jordaan te Kom. Hy alleen het sê ook die lewe en dood.

Sam ·

Ek stem saam met jou, Christa. Om jou lewe in jou eie hande te neem is eiesinnige optrede teen die wil van God wat gee en neem. Dis soms juis in die lyding dat daar gesoek en gevind word, die ewige koninkryk bereik word.

Bennie ·

Wat het nou van die “liefdevolle” God geword wat wil he dat jy jou “kruis” moet dra in pyn en ellende? Is ons nou weer terug in die Middeleeue toe mense verbrand is in die naam van God? Die redenasies grens aan belaglikheid.

Dan ·

HPV, ek stem saam met jou.

Hoewel daar ‘n wye reaksie sal wees, beide vir en teen genadedood, dink ek nie dit is vir mens as oordeel wanneer dit tyd is nie.. Afhangend ook van jou eie Geloof natuurlik, gaan die opinies verseker verskil, asook die omstandhede van die situasie. Die ‘sieke’ of die ‘dr/ verpleegster’..

Werner ·

Dit is net nog n voorbeeld waar die mens self God wil speel!

Hendrik ·

Wel, aangesien hy so skitter in sy afwesigheid sal mense maar self vooruitgang moet maak.

Susan ·

Hier in SA is dit nog nie gewettig nie, so ons hoef nie so dramaties daaroor te debatteer nie. Maar indien dit wel hier aanvaar gaan word is my vraag hoekom ek nie my reg sal kan uitoefen om nie kunsmatig aan die lewe gehou te word nie. Ek het al ‘n paar keer aan my dokter genoem dat hulle my “lewende testament” moet navolg wanneer ek nie meer self asemhaal nie. Hulle verweer is dat wanneer die brein nie heeltemal dood is nie sal hulle nie die masjiene afskakel nie – al vat dit jare!

Matt ·

Hulle sal die masjiene aanhou so lank as wat die mediese vonds bereid is om te betaal. Sodra die medies ophou betaal sal die masjiene afgeskakel word.

geen medies is genadedood. ·

daar is een voordeel van ons wat nie medies het nie, in Steve biko gaan mense so maklik dood,,,,,,,,,,,,,,,hoeveel te meer as dit ernstig is, so “geen medies” is klaar genade dood

Mel ·

Ek stem vir dit, ni vir di verkeerde redes ni, dis ni lekker om byvoorbeeld ‘n kanker pasiënt te sien ly met daardie onbeskryflike pyn ni. Daar is baie ander siektes wat veroorsaak dat mense ni meer kan eet, loop ens. ni. Dis in elk geval ‘n persoonlike saak

sarel ·

dis skrikwekkend hoe min mense weet van hulle Skepper met al die kerke en slim manne daar buite. geen lyding is God se wil nie. dit geskiet teen sy wil . was onlangs in n dementia afdeling.skrikwekkend hoe die mensdom suffer.Mag die werke van die duiwel vernietig word daarvoor was Christus gebore. hierdie dinge wat julle oor stry is alles die werke van die duiwel sal eers reggemaak word as Christus terukom. my persoonlike opinie is dat iemand wat totale brein funksie verloor het met dementia of ander geval is beter af dood sodat sy of haar gees terug na God kam keer

ollie ·

Vra enige persoon wat vir iemand gesorg het wat ly oor genade dood. My pa het my in die oë gekyk en vir my gewys ek moet die masjiene afskakel, hy wou dit net stop. Die probleem was hy was nie op masjiene nie. hy was so deurmekaar en het so swaar gekry dat hy nie meer kon aangaan nie. Daar moet n genade dood wees volgens goeie toegepaste reëls. En weet jy wat, dit het niks met geloof te doen nie!

Sout ·

Genadedood word gewoonlik net toegepas as die persoon self daarvoor vra. Die familie en geliefdes kan nie namens die persoon vra nie. Dit is in elk geval die internasionale norm.

Delia ·

Mens het gewoonlik n baie sterk opinie tot jy gewoonlik met so n situasie persoonlik gekonfronteer word. Of jou geliefde vra jou om te help…..
Want die pyn is te erg..

Db ·

Al hierdie tantes wat so gal braak oor genadedood. Het julle al langs iemand gestaan wat deur sulke geweldige pyn en lyding gaan net omdat julle en die dokters besluit het jy sal nie sterf nie. Ek sal dit vir enigiemand doen wat deur sulke lyding gaan want het self langs my broer se bed gestaan waar hy deur hierdie helse foltering gegaan het net omdat die dokters nie die masjiene wou afsit en alles uit sy liggaam verwyder wat hom kunsmatig aan die lewe gehou het nie. Hulle moet dit hier ook wettig dan sal ek eerste een wees wat dit sal vra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.