Gevolge van Israel-Palestina-oorlog ‘wêreldwyd gevoel’  

Brandende motors ná ʼn vuurpylaanval uit die Gaza-strook in Ashkelon in die suide van Israel (7 Oktober 2023) (Foto: Ahmad Gharabli/AFP)

Die gevolge van Israel se oorlogsverklaring teen Palestina Sondag kring veel wyer uit as net in die Midde-Ooste en selfs Suid-Afrikaners sal die gevolge hiervan aan hul sak voel.

Op Saterdag 7 Oktober is die suidelike dele van Israel deur ʼn goed georkestreerde verrassingsaanval deur die Palestynse militêre groep Hamas getref.

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, meen die gevolge van die aanval is vir die ganse wêreld asook vir Suid-Afrika verreikend, veral wat betref stygende oliepryse.

“Wêreldwye gevolge van die aanval, soos verhoogde ru-oliepryse en druk op olieproduksie, sal Suid-Afrika se ekonomie verder knou.”

Ook ideologies sal dit die Suid-Afrikaanse politieke landskap raak.

“Ons weet die ANC het onmiddellik sy steun aan die Palestynse volk toegesê en ook Palestina se reg om Israel aan te val [beklemtoon].”

Duvenhage meen die ANC se reaksie op die aanval het sterk ooreenkomste met sy reaksie op Rusland se inval van Oekraïne.

“Hulle het dadelik gevra vir onderhandelinge tussen botsende partye.”

Die ANC skaar homself ideologies nader aan Rusland, die Palestyne en Iran as aan die Weste en Israel, sê Duvenhage.

Duvenhage meen ook die oorlog gaan ʼn lang en uitgerekte affêre wees, waarby verskeie groot wêreldmoondhede betrokke kan raak.

“Omdat Israel homself bevind in ʼn toestand van oorlog gaan hy drastiese stappe doen in reaksie op Hamas. Sodoende kan groterwordende onstabiliteit in die Midde-Ooste, maar selfs wêreldwyd, verwag word.

“Die konflik is beslis geïnternasionaliseer en sal ek nie verbaas wees as die aanval op Israel ʼn doelbewuste poging is om aandag en steun van die Oekraïne weg te neem nie,” sê Duvenhage.

Intussen het die konflik tussen Israel en Hamas-militante protesoptogte in onder meer Brittanje, Kanada, Frankryk en Duitsland tot gevolg gehad. Dié lande het reeds veiligheid opgeskerp in afwagting van die moontlike teiken van Joodse bakens, in die lig van pro-Palestynse betogings wat hier voorgekom het.

Suid-Afrika

Honderde lede van die Moslem-gemeenskap in Kaapstad het die naweek by die Al Quds-moskee saamgetrek in solidariteit met Palestyne.

“Suid-Afrika se bevrydingsbeweging is ook gedwing […] om die wapen op te neem om ʼn impak te hê,” het Shaykh Shahid Esau, ʼn voormalige lid van die Suid-Afrikaanse parlement, gesê.

Esau meen dieselfde Westerse lande wat die Suid-Afrikaanse regering tydens die apartheidsregime ondersteun het, is nou aan Israel se kant in die geveg.

Brittanje

Die polisie in Londen het Sondag gesê hulle het patrollies opgeskerp ná die Hamas-aanval.

“Ons is bewus van ʼn aantal voorvalle […] met betrekking tot die voortslepende konflik in Israel en die grens met Gasa,” het die Metropolitaanse Polisie op sosiale media gesê.

Suella Braverman, minister van binnelandse sake, het gewaarsku oor ʼn beleid van “geen verdraagsaamheid vir anti-Semitisme of verheerliking van terrorisme in die strate van Brittanje”.

“Ek verwag dat die polisie die volle mag van die wet sal gebruik teen vertonings van steun vir Hamas, ander verbode terreurgroepe of pogings om Britse Jode te intimideer,” het Braverman op X, voorheen Twitter, geskryf.

VSA

Verskeie stede regoor die VSA, insluitend New York, Los Angeles, Miami en Houston, het sekuriteit rondom sinagoges opgeskerp.

Ongeveer 1 000 betogers het Sondag in New York byeengekom in solidariteit met Palestyne terwyl ʼn paar honderd pro-Israel-optoggangers ook betoog het.

New York se goewerneur, Kathy Hochul, het die Palestynse solidariteitsbyeenkoms “afskuwelik en moreel weersinswekkend” genoem en beveel dat bakens in die staat, insluitend die World Trade Center en die Niagara-waterval, in blou en wit verlig moet word.

Kanada

Byeenkomste ter ondersteuning van die Palestynse volk is in Montreal gehou, waar betogers “bevry Palestina” plakkate vertoon het, Palestynse vlae geswaai het en gevra het dat Israel geboikot word.

Die polisie in die hoofstad Ottawa het ʼn groter teenwoordigheid in sensitiewe godsdienstige gebiede, insluitend sinagoges en moskees, aangekondig.

“Ons reik ook uit na gemeenskapsvennote om te verseker hulle weet ons is hier om hulle te ondersteun,” lui ʼn verklaring.

“Haatmisdade sal nie geduld word nie en sal volledig ondersoek word.”

Frankryk

Die Franse regering het gefokus op sinagoges en Joodse skole in stede regoor die land.

Gerald Darmanin, minister van binnelandse sake, het ʼn dringende boodskap aan streeksamptenare gestuur om toesig te versterk en gevra dat soldate van Frankryk se Operasie Sentinelle, ʼn mag wat regoor die land ontplooi is sedert die 2015-terreuraanvalle, ingespan word.

“In ʼn tyd wanneer terreuraanvalle vanuit Gasa Israel tref, vra ek u om onmiddellik waaksaamheid, sekuriteit en beskerming van Joodse gemeenskapsterreine in Frankryk te verskerp,” het hy volgens AFP gesê.

Frankryk se Joodse bevolking, wat op meer as 500 000 geskat word, is die grootste in Europa en die derde grootste ter wêreld, naas Israel en die Verenigde State.

ʼn Regeringswoordvoerder het gesê ʼn pro-Palestynse saamtrek wat vir Maandagaand in Lyon geskeduleer is, is verbied, weens die “risiko om die openbare orde te versteur”.

Duitsland

Berlyn het polisiebeskerming van Joodse en Israeliese instellings ʼn opgeskerp, terwyl sommige Palestynse ondersteuners die strate van die hoofstad ingevaar het om die aanval te vier.

“In Berlyn is polisiebeskerming onmiddellik opgeskerp,” het Nancy Faeser, minister van binnelandse sake, aan die koerant Bild gesê.

“Die federale regering en die streke koördineer hul optrede nou.”

Owerhede hou ook “potensiële ondersteuners van Hamas in die Islamitiese sfeer” fyn dop, het sy bygevoeg.

Die Berlynse polisie het foto’s op sosiale media geplaas wat wys hoe “mense die aanvalle op Israel vier deur gebak uit te gee”.

Hulle het onder meer Israelse vlae aan die brand gesteek en “nee vir Amerika, nee vir Israel” gesing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

marius ·

Palestina het nie olie nie en Israel ook nie . Hoe het dit enige invloed ?

Faraway ·

Korrek . . .
Sou spanning in Midde Ooste wat n derde van die wêreld se olie produseer opvlam agv die oorlog in Israel kan dit pryse opjaag.
Sou Israel n aanval loods op Iran omrede hulle vermoed Iran het Hamas “gehelp” dan kan Iran die kanaal sluit soos hulle voorheen al gedreig het waardeur olieskepe vaar

CHRISTINE ·

Ja. Maak nie saak WAT gebeur nie, die olieprys gaan as gevolg daarvan opgaan. Daar is nie meer plek nie!

Samuel ·

In die lig van Bybelse profesië is hierdie aanval nie heeltemal onverwags nie, of hoe?

Faraway ·

Presies my siening ook. . .
Ongeag wie wat sê in die wêreld is ons opdrag volgens die WOORD om as Christene ons te skaar by Israel!

Johan ·

Dis nou n sotlike ding om te sê. Die Israelies is nie die Jode nie, gaan soek dit bietjie. Die Ortodokse Jode stem ook nie saam met wat die Sioniste aanvang nie…die Sioniste wat jy hier verdedig.

hpven ·

Jode is hulle beslis, hulle gebruik nog almal die Torah. Soos my voorouers Afrikaners was en ek steeds ‘n Afrikaner is! Vergange eeue en dekades het niks daarmee te doen nie, mens is steeds wat jy was of is, beslis nie wat iemand op die internet jou probeer wysmaak nie…

annie ·

Hoekom die ANC so verwoed gereageer het en nie die Palestyne enigsins terreg gewys het nie, laat ‘n mens wonder. Is dit die woord ‘apartheid’ wat die gevoel van samehorigheid met die Palestyne uitlok of is die Moslems in die Kaap en hul ondersteuning van die ANC die raakpunt. Suid-Afrika is nie eintlik ‘n groot rolspeler in wêreldsake wat drastiese invloed uitoefen nie.

Ryan ·

Die internasionale geldmagte sal na enige strooihalm gryp om hulle pryse te verhoog, en mense wêreldwyd onder nóg meer finansiële druk te plaas. Een of ander tyd gaan hierdie stoompot ontplof.

Yolandie ·

Enige oorlog wat plaasvind eis mense lewens, maak nie saak watter kant jy kies nie. Maar hier staan ek saam met Israel, Israel het die reg om homself te verdedig teen terroriste wat geen aanspraak kan maak op enige grond in Israel nie. Hoe ver het die wereld geval dat hulle saam met terroriste sal staan????

gpsa ·

Palestyne word in ‘n klein hoekie inforseer in ‘n land waar hulle vryheid gehad het voor die sioniste daar aangeland het. Hulle het geen vryheid nie en word letterlik in die Gaza strook gevange gehou. Ek verstaan waarom hulle terug baklei.

Marthinus W ·

Hoekom word die land dan op antieke kaarte aangedui as Palestina [land van die Palestyne]?

gpsa ·

As mense op bybelse geografie wil werk, moet die hele wereld se polulasie verander. Dan moet ons ook terug gaan Europa toe. 2 Miljoen mense in ‘n strook wat 50Km lank is, sonder vryheid om uit te gaan en word dood geskiet in die no mans land op die grens van Gaza? Kry gas elektrisiteit en water soos die vyand goed dink. Wie van ons sal so wil bly? My stem is vir die Palestyne. In die tyd wat die Jode geld gemaak het in Europa, het hulle vir eeue daar gebly.

Piet parys ·

Dis net n manier om die wereld te beheer en hulle wil af te dwing op lande sonder olie.
Geldgierigheid . OPEC is n terroriste organisasie wat alles wil beheer .

andre ·

Interresant uit bogenoemde skrywe is dat die ANC dadelik gevra het dat Israel en Palestina onderhandel.Ek wonder wat was die DA se reaksie

Pieter Johan ·

Dit is totaal onvanpas om die Palestyne te betrek as verantwoordelik — Dit is slegs HAMAS — n radikale terroriste groep wat so mooi deur die ANC ondersteun word — maar die media mislei
ons deur hulle die ‘Die Palestyne’ te noem . Goeie Palestyne sit met hulle hande in die hare . Hulle bly
in die doodsakker van die ANC vriende — Hamas— . Laat my baie aan ons situasie dink — Die goeie Palestyne word al jarelank gestraf deur hulle indringer kanker groep !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.