Met die aanvanklike inval van Rusland in Oekraïne is groot internasionale versteuning en onstabiliteit teweeggebring, veral wat kommoditeitspryse en die verskaffing van olie en gas betref. ʼn Jaar later blyk dit egter dat soveel van die aanvanklike skokgolwe tot ʼn mate afgeplat het, soos wêreldmoondhede alternatiewe handelsplanne en energiehulpbronne begin oorweeg het.
Volgens kenners is verskillende internasionale politieke ekonomiese strominge veral besig om te vorm rondom energietegnologie, wat ʼn nuwe, tog bekende magspolitiek tot gevolg het.
Veerkragtige verskaffingskettings
“Ons moet ʼn onderskeid tref tussen die strukturele ekonomiese gevolge en die werklike ekonomiese gevolge van die oorlog,” verduidelik Roland Henwood, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Pretoria.
Die oorlog het kommoditeitspryse aanvanklik deur die dak laat skiet. Dit blyk egter uit die Verenigde Nasies se kosprysindeks, wat vyf kommoditeitsgroepspryse saamvat, asof die meerderheid daarvan tot pre-oorlog vlakke herstel het:
Volgens Henwood het kommoditeitspryse inderdaad herstel, maar die koste van sekere produkte het nie. Die hoë lewenskoste waarmee mense nou sit, is dus minstens gedeeltelik toe te skryf aan die oorlog – dit is moeilik om vas te stel tot watter mate.
Die versteurde verskaffingskettings onderliggend aan dié prysveranderinge het egter vinnig alternatiewe handelsmoontlikhede en -moondhede na vore gebring.
Dr. Jakkie Cilliers, sekuriteitskenner en voorsitter van die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) se raad van trustees, stem saam oor die veerkragtigheid van die mark.
“Soos ook die geval was met die Covid-19-pandemie se aanvanklike versteurings het mense ʼn manier gekry om alternatiewe stelsels te laat werk. Selfs die graan- en bemestingstekorte wat aanvanklik na vore gekom het, is deur die aanpasbare mark getakel.”
Met Rusland self wat internasionaal nie ʼn wesenlike ekonomiese rolspeler is nie, het die veranderinge in markte opnuut die spanning tussen die VSA en China uitgelig.
Volgens Henwood is die grootste verandering dus verskaffingskettings wat omvorm het tot regionale en nasionale fokuspunte.
“Die VSA en Japan is twee van die voorlopers wanneer dit kom by vergroting van plaaslike produksie om weg te kom van China as verskaffer. Dit is ʼn belangrike ontwikkeling wat beteken dat die verskaffingskettings begin verkort met die kostestrukture en produksiestrukture wat verander.”
Cilliers stem saam: “Vervaardiging keer tog terug na plaaslike bronne, omdat mense effe skrikkerig is vir China en selfs Asië. Dit beteken vervaardiging gaan nader geskuif word aan die mark met verkorte verspreidingskettings wat volg – en dit kan uiteindelik tot ʼn hulpbronryke Afrika se voordeel strek.”
Magspolitiek in energietegnologie
Volgens Alida Kok, dosent in politiek by Akademia, is die oorlog ʼn resies rakende energietegnologie.
“Wat interessant is van die oorlogvoering wat nou plaasvind en die nuwe tydperk waarin ons leef, is dat energie as ʼn wapen gebruik word waarmee oorlog gevoer word. As groepe begin meeding om nuwe politieke ordes te vestig of ʼn ou orde tot ʼn einde te bring, gaan dit altyd gepaard met nuwe tegnologie,” verduidelik Kok.
Sodoende is daar volgens Kok ook ʼn botsing in potensiële markte waar hierdie tegnologieë verkoop kan word – energietegnologie vorm daardeur nuwe vennote en opponente langs dieper verdelingslyne.
“Uit die Weste is daar veral ʼn beweeg na hernubare en klein modulêre kerntegnologie en uit die Ooste bly ʼn groot fokus op olie en gas.”
Cilliers voorspel ʼn versnelling van hierdie veranderinge: “Die globale noorde is besig om die somer in te beweeg wat beteken hul energiebehoeftes is ook besig om af te neem. Die vraag na olie en gas is nou heelwat minder.”
Henwood meen dít gaan om die beurt die oorskakeling na groen energie versnel.
“Ons sien dit reeds in praktyk dat die Russiese verskaffing van olie en gas aan Europa en die VSA uit die stelsel verwyder is. Die afhanklikheid van ʼn enkele groot verskaffer verander, wat magsverhoudinge verander.”
Kok stem saam. “Wat nou gebeur is Russiese gas kry net op ʼn manier ander markte – veral Indië en China. Die vennootskap in die globale suide word ook nou weer op ʼn manier versterk deur hierdie herleiding van gas.”
Volgens Kok is gas wat herlei word na ander markte nie noodwendig núwe vennootskappe wat ontstaan nie, maar eerder ʼn klemverskuiwing wat plaasvind.
Niks in die wêreld is nuut nie
Henwood, Cilliers en Kok is dit eens dat dié alternatiewe samewerkingsverhouding en handelsbetrekkinge niks nuut is nie.
“Wat betref die strukturele ekonomiese gevolge het die oorlog nie nuwe tendense teweeggebring nie, maar eerder bestaande tendense soos deur die Covid-19-pandemie uitgewys, versnel,” bevestig Henwood.
Henwood verduidelik verder ons staan nie nou voor die einde van globalisering nie, maar eerder voor ʼn verandering daarvan soos wat ons dit tot dusver geken het.
Kenners is dit egter eens dat ʼn skamele jaar ná die uitbreek van die oorlog eintlik veels te vroeg is om enige langtermynvoorspellings met sekerheid te maak. Wat ons wel weet, is die oorlog het grootskaalse herskikking versnel rondom verborge verdelingslyne.
Amerika het 92 kernkragsentrales, en moet ten minste 20% van hul verrykte uraan invoer vanuit Rusland, maar Amerika sal dit nooit erken nie. n Paar maande gelede het Russiese olietenkskepe Amerika toe gevaar en diesel gaan aflewer, maar weereens word dit nie genoem nie. Rusland se ekonomie is ten minste drie keer groter as wat die syfers wys, omdat 60% op die grysmark bedryf word. Hulle gaan nou meer direk met lande handel dryf, en nie meer deur middel van middelmanne nie.
Enige land wat mense die ruimte inskiet en weer lewendig terugbring is nie ‘n Micky Mouse nie.
Dis hoekom globalisme begin verbrokkel, tot linkses praat nou van energie en sovereignty supply sovereignty wat eers as verregz afgemaak was. As een deel van die wereld droogmaak moet dit nie die res se lewe moeilik maak nie. Globalisme sal val.