Grammys, Oscars uitgestel

Die Grammy-musiektoekennings wat op 31 Januarie in Los Angeles in die VSA uitgedeel sou word, sal na verwagting nou eers in Maart plaasvind weens Covid-19.

Die Recording Academy het in ʼn verklaring gesê die toekenningsgeleentheid sal op 14 Maart plaasvind, ʼn week vroeër as die datum wat onlangs op sy webtuiste gepubliseer is.

“Die verslegtende Covid-19-situasie in Los Angeles, met hospitaaldienste wat oorweldig word, intensiewesorgeenhede wat volle kapasiteit bereik het en die jongste aankondiging deur die staat en plaaslike regerings het tot die besluit gelei dat om die geleentheid uit te stel die regte ding is om te doen,” het die organiseerders gesê.

“Niks is belangriker as die gesondheid en veiligheid van diegene in ons musiekgemeenskap en die honderde mense wat onvermoeid werk om die program te vervaardig nie.”

Die geleentheid sou in Januarie hoofsaaklik virtueel plaasgevind het, maar nuwe spesifieke planne is nog nie bevestig nie.

Beyoncé, Dua Lipa, Taylor Swift en die kletsrymer Roddy Ricch is die topbenoemdes vir vanjaar se sterbelaaide galageleentheid. Die benoemdes is einde verlede jaar aangekondig.

Die Suid-Afrikaanse komediant Trevor Noah sou die seremoniemeester vir die geleentheid wees, maar dit is onduidelik of dit steeds gaan gebeur.

Die gesogte Oscar-toekenningsgeleentheid vind vanjaar op 25 April plaas – agt weke later as 28 Februarie waarvoor dit aanvanklik geskeduleer is.

Volgens Variety het die Motion Picture Academy ook die uitreikingsdatums vir rolprente om in aanmerking te kom vir ʼn benoeming verleng.

Die virus versprei tans vinnig in Kalifornië. Los Angeles is nou een van die brandpunte van die koronaviruspandemie, met hospitale wat steier onder ʼn rekordgetal gevalle en inwoners wat onder streng inperkingsmaatreëls leef.

Die toename in gevalle in die suide van Kalifornië volg ná die Danksegging-vakansiedae en die feesseisoen, met berigte van suurstofrantsoenering en pasiënte wat genoop word om ure lank te wag vir ambulanse en hospitaalbeddens om beskikbaar te raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.