Grand Theft Auto VI: Lokprent laat rekords spat

Foto ter illustrasie van Grand Theft Auto VI. (Foto: Chris DELMAS / AFP)

Miljoene gamers, wat ’n dekade moes wag vir ’n nuwe aflewering van een van die wêreld se grootste vermaaklikheidsfranchises, het uiteindelik (maar steeds vroeër as beplan) hul eerste blik op die sesde weergawe in die Grand Theft Auto-franchise gekry.

Die lokprent vir Grand Theft Auto VI (GTA) is Maandag vroeër as beplan uitgereik nadat ’n weergawe daarvan op YouTube uitgelek het.

Die uitgelekte lokprent is binne 12 uur meer as 60 miljoen keer op YouTube gekyk en het dié videoplatform se rekord verpletter vir die aantal kyke van ’n video wat nie ’n musiekvideo is nie.

“Ons lokprent het uitgelek, so kyk asseblief na die regte ding,” het Rockstar Games, die maatskappy agter Grand Theft Auto, intussen op sosiale media gesê.

Volgens die amptelike lokprent sal Grand Theft Auto VI in 2025 uitgereik word en fokus die jongste aflewering op die franchise se eerste vrouehoofkarakter.

Die storielyn wentel om Lucia – die eerste speelbare vrouekarakter van die GTA-reeks – wat pas uit ’n tronk in ’n omgewing wat na Florida lyk, bevry is.

Die lokprent belowe ook ’n goeie skeut van die gewone polisieklopjagte en misdaadbedrywighede wat in vorige weergawes te sien was.

“Ek voel dat hierdie GTA baie meer na die absurditeit van Amerika sal oorhel, baie meer as wat GTA V gedoen het,” skryf ʼn gebruiker op ʼn aanhangerforum op die Reddit-platform.

Major Bonnie en Clyde vibes,” skryf nog ʼn Reddit-gebruiker.

Die GTA-franchise het sedert sy bekendstelling in 1997 reeds 410 miljoen eenhede verkoop.

Die franchise is in die verlede egter al skerp gekritiseer vir sy uitbeelding van vroue en minderhede.

Die videospeletjie se sukses gaan ook gepaard met omstredenheid. Kritici voer van die eerste weergawe van die speletjie af aan dat dit geweld verheerlik en spelers aanmoedig om aan misdadigheid deel te neem.

Spelers van GTA kan na hartelus dwelms verkoop, baklei en steel, met spelopsies wat ook die aanranding van prostitute en ontkleeklubs insluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.