Griekse hittegolf moontlik langste in land se geskiedenis

Lafenis in Athene. (Foto: Louisa GOULIAMAKI / AFP)

Die huidige hittegolf in Griekeland gaan die langste in die land se aangetekende geskiedenis word.

“Luidens die data sal ons waarskynlik deur 16 tot 17 dae van ʼn hittegolf gaan, wat nog nooit voorheen in ons land gebeur het nie,” het Kostas Lagouvardos, senior amptenaar van die nasionale weerinstituut, Saterdag gesê.

Griekeland beleef boonop tans sy warmste naweek in Julie in 50 jaar. Daar word voorspel dat die kwik vandag hoër as 40 °C en Sondag tot 45 °C sal styg.

Athene gaan na verwagting temperature bo 40 °C vir die volgende ses tot sewe dae beleef.

“Volgens die jongste voorspellings kan die hittegolf tot volgende Donderdag of Vrydag duur,” sê Yannis Kallianos, meteoroloog by die private uitsaaier Mega.

‘n Bejaarde toeris word in ‘n ambulans gelaai nadat sy weens die hitte flou geword het in Athene. (Foto: Louisa GOULIAMAKI / AFP)

Die Griekse owerhede, wat intussen tientalle bosbrande te midde van sterk noordewinde moet bestry, het mense gewaarsku om dit nie onnodig buite te waag nie.

Die land se buitengewoon hoë temperature beteken ook dat gewilde toeristebestemmings soos die Akropolis gedurende die warmste deel van die dag gesluit sal wees.

Griekeland definieer ʼn hittegolf as ʼn tydperk wanneer die temperatuur 39 °C bereik of oorskry. Die vorige hittegolfrekord in Griekeland is in 1987 opgestel, toe die versengende temperatuur 11 dae lank geduur het.

Wêreld se warmste Julie nóg

Gavin Schmidt, ʼn klimatoloog van Nasa, het intussen gesê Julie 2023 is op koers om die wêreld se warmste maand nóg te wees – nie net sedert rekords begin het nie, maar “in honderde, indien nie duisende, jare”, sê Schmidt.

Dié buitengewoon hoë temperature kan nie net toegeskryf word aan die El Niño-weerverskynsel nie, aangesien die weerverskynsel eers onlangs kop uitgesteek het en na verwagting eers later in die jaar sal versterk.

El Niño hou verband met die verwarming van oseaanoppervlaktemperature in die sentrale en oostelike tropiese Stille Oseaan.

Schmidt sê huidige hoë temperature sal na verwagting voortduur, “en die rede waarom ons só dink, is omdat ons aanhou om kweekhuisgasse in die atmosfeer te plaas”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.