Hane kráái en dis ʼn blou Vrydag vir All Blacks

Frankryk vier Damian Penaud se drie. Die Hane het die All Blacks met 27 – 13 op die Stade de France geklop. (Foto: Thomas Samson/AFP)

Is daar plek in Parys se befaamde Champs-Élysées vir nóg ʼn triomfboog?

Want nadat Frankryk Vrydagaand met die eens magtige (?) All Blacks in die openingswedstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi afgereken het, kan ʼn mens maar seker die Franse rugbybase verskoon as hulle solank die bouplanne wil optrek.

Dié Hane-span, wat deur talle ontleders as die beste groep Franse rugbyspelers in jare beskou word, het ordentlik gekraai om die Nieu-Seelanders met 27 – 13 op ʼn stampvol Stade de France te klop.

Selfs in Jonathan Danty, Paul Willemse en Romain Ntamack se afwesigheid het die tuisspan gewys dat hy steeds die praatwerk op die rugbyveld kan doen.

Damain Penaud en Melvyn Jaminet het vir die drieë gesorg, terwyl Thomas Ramos se geleerde skopvoet die telbord aan die rol gehou het.

Voeg daarby die kookwater spel van agtsteman Gregory Alldritt en die avontuurlustige Antoine Dupont en jy sit met ʼn Franse span wat nie net die wisselvalligheid van ouds kan afskud nie, maar ook goed op koers na Wêreldbeker-glorie is.

Vir die All Blacks was dit hul tweede nederlaag op ʼn streep – die Springbokke het hulle mos in ʼn opwarmingswedstryd op Twickenham oordonder, onthou – terwyl dit ook die eerste keer is dat hulle as verloorders van die veld in die groepfase van ʼn Wêreldbeker-toernooi stap.

Die Kiwi’s het onder die volgehoue Franse druk gevou en Will Jordan se geel kaart in die tweede helfte (hy het vir Penaud in die lug platgetrek) was die laaste spyker in die driemalige kampioen se doodskis.

“Dit is ongelooflik om amper 30 punte teen die All Blacks in die openingswedstryd van die toernooi aan te teken,” het ʼn tevrede kaptein Dupont ná die tyd gesê.

Hy het ander spanne gewaarsku dat die Franse rugbytrein nog besig is om spoed op te tel.

“Eintlik kan ons baie beter speel. Dit het met tye gevoel of ons gemiddelde spel opdis, maar ons kon steeds die telbord aan die gang hou. Dit is beslis ʼn tree in die regte rigting.”

  • Puntemakers:

Frankryk: Drieë: Damian Penaud en Melvyn Jaminet. Doelskop: Thomas Ramos. Strafskoppe: Ramos (5).

Nieu-Seeland: Drieë: Mark Telea (2). Strafskop: Richie Mo’unga.

  • Vandag se bepalings:

13:00: Italië teen Namibië

15:30: Ierland teen Roemenië

18:00: Australië teen Georgië

21:00: Engeland teen Argentinië

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mnr De Beer ·

Goeie wedstryd gewees. Damian Penaud het weereens gewys hoekom hy een van die bestes is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.