Harry nié geregtig op ekstra beveiliging – hof   

Prins Harry en sy vrou, Meghan. (Foto: Rolf Vennenbernd/DPA/AFP)

Die Britse hof het beslis belastingbetalers hoef nie op te dok om prins Harry se persoonlike veiligheid op te skerp wanneer hy in Brittanje kuier nie.

Die prins het die regering hof toe gesleep nadat hy in Februarie 2020 ingelig is dat hy nie meer geregtig is op “dieselfde vlak van persoonlike sekuriteit”, wat deur belastinggeld befonds word, as toe hy nog ʼn werkende koninklike was nie.

Die prins en sy vrou, Meghan, het daardie jaar Brittanje vir Kalifornië verlaat. Die hof het in Desember gehoor die vrees vir sy veiligheid verhoed hom om sy geboorteland te besoek. “Brittanje is my tuiste en staan sentraal tot my kinders se erfenis, maar ek en my gesin kan nie hierheen kom as dit nie moontlik is om hulle veilig te hou nie.”

Die regering se regsverteenwoordigers het Harry se bewerings ontken dat hy uitgesonder word en minder gunstig as van die ander koninklikes hanteer word, sowel as dat ʼn behoorlike risiko-analise nie gedoen is nie.

James Eadie, namens binnelandse sake, het aan die hof gesê daar is besluit dat Harry nie op dieselfde vlak van sekuriteit geregtig is as voorheen nie, omdat hy nie meer ʼn werkende koninklike is nie en meestal in die buiteland woon.

Regter Peter Lane het bevind die regering se besluit was en is “wetlik korrek”. In Mei verlede jaar het die hof óók teen prins Harry bevind in ʼn saak wat verband hou met sy persoonlike veiligheid.

Harry het aansoek gedoen om ʼn besluit deur die regering te laat hersien wat hom verbied het om self te betaal vir spesiale beskerming deur die Britse polisie.

Die regering het destyds aangevoer dit sou nie gepas wees vir ryk mense om sekuriteit te “koop” wanneer daar besluit is dat die gebruik van belastinggeld vir hierdie tipe beveiliging nie in die openbare belang is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Casper ·

Bedank jou vroutjie daarvoor.Sy wou nie in Britanje gaan bly het nie want wat van haar mammie en pappie in die Staes.Harry het van alles afstand gedoen a g v Meghan.

Hendrik ·

Al vra jy ook, jy kry nie. Jy het self jou boodjie gekies om in te vaar.

Alta Alleman ·

Hulle maak mos nou baie meer geld in Meganland. Hulle kan self opdok. Die dollars rol mos in.

TO ·

Maar julle wil kom rondflenter in SA. Boy oh boy is julle in vir n surprise net soos die gawe duitser wat so rojaal mense opgelaai het.

annie ·

Oei! Nou wil Harry and queen Megan weer terug na Engeland met volle respek. Met pappa olik en die troon riskant moet Harry laer trek. Groot baklei wag met rassisme virseker die knopkierie om ‘her majesty’ en wederhelf in die troonkamer te vestig. Daai voorspeller het mos hoeka beweer ‘n buiteperd sal Charles skielik opvolg. Megan het seker al ‘n paar geskikte rokkies bestel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.