Herverhoor vir Lucy Letby oor poging tot moord-klag

Lucy Letby (Foto: Facebook)

ʼn Britse verpleegster wat lewenslange tronkstraf opgelê is vir die moord op sewe babas en poging tot moord op ses ander, sal herverhoor word op ʼn uitstaande aanklag van poging tot moord, het staatsaanklaers Maandag gesê.

Lucy Letby (33) is verlede maand gevonnis in verband met die moord op vyf babaseuntjies en twee babadogtertjies. Dit maak van haar Brittanje se ergste kinderreeksmoordenaar in moderne tye.

Die jurie in die maande lange hofsaak by die Manchester Crown-hof kon egter nie ʼn besluit neem oor ses aanklagte van poging tot moord op vyf babas nie.

Die Crown-staatsaanklaerdiens (CPS), wat vervolging in Engeland en Wallis hanteer, het gesê hy sal ʼn herverhoor aanpak op die aanklag dat Letby in Februarie 2016 gepoog het om ʼn babadogtertjie te vermoor.

ʼn Voorlopige hofdatum is vir volgende jaar 10 Junie bepaal, ook by die Manchester Crown-hof in die noordweste van Engeland.

Jonathan Storer, hoof-staatsaanklaer by die CPS, het gesê die besluit om ʼn herverhoor aan te pak is “uiters ingewikkeld en moeilik”.

“Voor ons ʼn besluit neem, luister ons noukeurig na die siening van die betrokke families, die polisie en die staatsaanklaerraad,” het hy gesê. “Talle faktore is oorweeg, insluitend die getuienis wat deur die hof aangehoor is tydens die lang verhoor en die impak om met ʼn vervolging voort te gaan.”

Letby is in hegtenis geneem ná ʼn reeks sterftes by die neonatale eenheid van die Countess of Chester-hospitaal in die noordweste van Engeland tussen Junie 2015 en Junie 2016.

Sy het deurlopend alle aanklagte teen haar ontken.

Letby het Maandag se verhoor via ʼn video-skakel van ʼn konferensielokaal by ʼn tronk naby Wakefield bygewoon. Sy het slegs haar naam bevestig en dat sy die verrigtinge kan hoor en sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Amelia ·

hoe maak ienige iemand n kind baba ou mens dood mense wat nie hul self eers kan probeer verdedig nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.