Hollywood: Meg Ryan terug ná 14 jaar; klagte teen Rammstein-sanger laat vaar

Meg Ryan. (Foto: Amy Sussman/Getty Images/AFP)

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Romkom-koningin Meg Ryan terug op haar troon

Die koningin van romantiese komedies, Meg Ryan, is ná ʼn 14 jaar lange blaaskans van dié soort flieks, terug op haar troon.

Dié 61-jarige aktrise, bekend vir flieks soos When Harry met Sally, Sleepless in Seattle en You’ve Got Mail, maak haar terugkeer na die romantiese silwerskerm met What Happens Later. In dié fliek speel sy teenoor Californication se David Duchovny.

Die rolprent handel oor ʼn vervreemde paartjie wat mekaar 20 jaar gelede laas gesien het. Op ʼn lughawe, waar hul vlugte onbepaald uitgestel is, sit hulle saam en wag terwyl die liefdesvlammetjie stadig maar seker weer begin brand.

Ryan se laaste romantiese komedie, Serious Moonlight, waarin Kristen Bell en Timothy Hutton ook te siene is, is in 2009 uitgereik.

What Happens Later sal op 13 Oktober vanjaar op die silwerskerm begin draai. Kyk die lokprent daarvan hier.

Klagte teen Rammstein-sanger laat vaar

Duitse aanklaers het ʼn ondersoek teen Rammstein se voorsanger, Till Lindemann, laat vaar.

Dié ondersoek is in Junie vanjaar van stapel gestuur nadat Lindemann deur verskeie vroue van seksuele misdrywe beskuldig is. Op daardie tydstip is daar beweer dat hy die vroue bedwelm en daarna seksueel aangerand het.

Till Lindemann tydens die Echo-musiektoekennings in Berlyn in 2017. (Foto: Tobias Schwarz/AFP)

Shelby Lynn, ʼn 24-jarige vrou van Noord-Ierland, het vroeër vanjaar aan die BBC gesê dat sy vermoed dat haar drankie tydens ʼn partytjie ná ʼn Rammstein-konsert in Vilnius, Lithuania, gedokter is. Sy beweer verder dat Lindemann daarna aangedring het op seks, hoewel hy nooit aan haar geraak het nie.

Sy het later op sosiale media bevestig dat Lindemann nooit aan haar gevat het nie, en dat hy aanvaar het dat sy nie seks wil hê nie.

“Ek het nooit beweer dat hy my verkrag het nie,” het Lynn geskryf.

Haar beweringe dat hy onvanpas teenoor haar opgetree het, het egter ander beweerde slagoffers aangepor om na vore te tree. Sommige van die vroue het aangevoer dat hulle voor partytjies en konserte op sosiale media vir Lindemann geïdentifiseer is en sodoende uitnodigings na dié sosiale geleenthede ontvang het.

ʼn Ondersoek is in Junie vanjaar teen die Rammstein-voorsanger in Berlyn, Duitsland, van stapel gestuur.

Lindemann het egter sedert die aantygings aan die lig gekom het, volgehou dat hy onskuldig is. Aanklaers sê dat hulle die ondersoek moes laat vaar weens ʼn tekort aan bewyse.

Laataand-aanbieders snoer kragte saam

Vyf van Amerika se bekendste laataand-aanbieders het kragte saamgesnoer vir ʼn podsendingreeks oor die onlangse Hollywood-stakings.

Stephen Colbert, Jimmy Fallon, Jimmy Kimmel, Seth Meyers en John Oliver het Woensdag 30 Augustus hul podsendingreeks, Strike Force Five, bekendgestel.

Dié aanbieders het sedert Mei vanjaar een keer ʼn week byeengekom om die ingewikkelde aard van die Hollywoodskrywer- en akteurstakings te bespreek. Hulle het daarna besluit om dié gesprekke aan die stromingsreus, Spotify, as ʼn geselsreeks beskikbaar te stel.

Die reeks sal uit 12 episodes bestaan en is reeds op Spotify beskikbaar.

Taylor Swift kondig Eras-fliek aan

Diegene wat hul voortande sou gee om Taylor Swift in lewende lywe op die verhoog te sien, kan hul vere begin regskud vir ʼn nuwe fliek oor haar opspraakwekkende Eras-wêreldtoer.

“Die Eras-toer was die mees betekenisvolle en eklektiese ervaring van my lewe sover en ek is verheug om te deel dat dit een van die dae op die silwerskerm te siene gaan wees,” het Swift in ʼn onlangse plasing op sosiale media bekendgemaak.

Met nagenoeg 150 stadionoptredes, is die Eras-toer een van Swift se grootste toere nog. Na verwagting, sal dié 33-jarige sangeres nóg ʼn rekord breek wanneer sy die $1 miljard-merk oorsteek. Sy verkoop tans $14 miljoen (sowat R263 miljoen) se kaartjies per vertoning. Sir Elton John hou steeds die rekord met sy Farewell Yellow Brick Road-toer wat in 2019 sowat $939 miljoen (sowat R18 miljard) ingepalm het.

Swift het dié reusetoer in ʼn rolprent vasgevang wat later vanjaar op die groot skerm te siene gaan wees.

Bykomende bronne: E! News, BBC News, CBS News.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.