Hollywood: Trouklokke lui vir ‘New Girl’-aktrise; babanuus vir Olsen-tweeling

Ashley Olsen en Louis Eisner. (Foto: Matt Winkelmeyer/Getty Images North America/AFP)

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Ashley Olsen verwelkom eersteling

Daar is babanuus vir een van die wêreld se bekendste TV-tweelinge.

Ashley Olsen (37) en haar man, Louis Eisner, het ʼn paar maande gelede hul eersteling, Otto, verwelkom.

Die Olsen-tweeling het in onlangse jare bekend geword daarvoor dat hulle ʼn uiters private profiel handhaaf, en nes ander groot gebeure in hul lewens, is die geboorte van Otto vir ʼn wyle stilgehou.

Die paartjie was in 2017 vir die eerste keer romanties aan mekaar verbind, voordat hulle in 2019 verloof geraak en in Desember 2022 uiteindelik afgehaak het.

Trouklokke aan’t lui vir ‘New Girl’-aktrise

Zooey Deschanel, bekend vir haar rolle in die trefferreeks, New Girl, en die rolprent, 500 Days of Summer, is verloof aan Property Brothers se Jonathan Scott.

Dié paartjie het vier jaar gelede begin uitgaan nadat hulle tydens die verfilming van ʼn Carpool Karaoke-episode ontmoet het. Jonathan het uiteindelik die jawoord tydens ʼn onlangse gesinsvakansie in Skotland gevra.

Zooey se twee kinders, Elsie (8) en Charlie (6), het ook hand bygesit om te verseker dat die verlowing glad verloop, het People bevestig.

“Vir ewig begin nou,” lui die aankondiging wat die paartjie op Instagram gedeel het.

Sandra Bullock betrek by Michael Oher-herrie

Sandra Bullock, die aktrise wat in 2009 ʼn Oscar-toekenning gewen het vir haar vertolking van Leigh Anne Tuohy in die rolprent, The Blind Side, is deur duisende sosialemediagebruikers by die onlangse Michael Oher-hofsaak betrek.

Sandra Bullock. (Jamie McCarthy/Getty Images/AFP)

Oher het vroeër vandeesweek sy aanneemouers, Leigh Anne en Sean Tuohy, gedagvaar om sy jarelange voogdyskap tot ʼn einde te bring. In die aansoek om dagvaarding, beweer hy dat die Tuohy-egpaar hom nie net bedrieg het in die aannemingsproses nie, maar dat hulle miljoene uit sy lewensverhaal gemaak het nadat ʼn boek en fliek oor hom uitgereik is.

Nadat die nuus oor die hofsaak aan die lig gekom het, het tientalle sosialemediagebruikers daarop begin aandring dat Bullock se Oscar vir die fliek by haar weggevat word.

Haar The Blind Side-medester, Quinton Aaron, wat Oher in die fliek vertolk het, het egter tot haar verdediging gekom.

“Ons leef in ʼn tyd waar mense ander bloot wil beswadder en goed daar buite wil sit wat verkeerd is. Sandra het niks verkeerd gedoen nie. Sy is my vriendin en gaan tans deur ʼn baie moeilike tyd,” het hy na haar lewensmaat se onlangse afsterwe verwys.

“Hulle moet haar net uitlos.”

Nuwe Snow White laat die tonge klap

ʼn Splinternuwe weergawe van Disney se heel eerste prinsesrolprent, Snow White and the Seven Dwarfs, sal volgende jaar die silwerskerm tref. Rachel Zegler, wat die rol van die prinses vertolk, het egter die tonge laat klap oor opspraakwekkende uitlatings wat sy in onlangse onderhoude oor die fliek gemaak het.

Snow White (sonder die dwergies), beloof volgens Zegler om ʼn nuwe weergawe van Disney se eerste prinses te wees. Volgens onderhoude wat vroeër vandeesmaand weer die lig gesien het, was Snow White and the Seven Dwarfs “vreesaanjaend” vir Zegler. Sy het ook beweer dat sy die fliek slegs een keer gekyk het.

Rachel Zegler. (Foto: Cindy Ord/Getty Images North America/AFP)

Sy het ook tong in die kies gesê dat die oorspronklike prins ʼn “bekruiper” is, en dat daar ʼn kans is dat al die nuwe prins se tonele in die fliek gesny word.

“Sy gaan nie deur die prins gered word nie en sy gaan nie oor ware liefde droom nie,” het Zegler gesê.

Hierdie uitlatings het tonge op sosiale media laat klap met duisende gebruikers wat reeds besluit het dat hulle nie die fliek gaan kyk nie.

“Net omdat ʼn vrou iets anders [as ʼn fliek sonder die prins] as waardevol ag, verminder dit nie haar eie waarde nie,” het ʼn vrou op TikTok geskryf.

Die sewe dwergies sal ook nie in die fliek te sien wees nie. Die Game of Thrones-akteur, Peter Dinklage, het gesê hy is bly om ʼn persoon van kleur in die rol van Snow White te sien, maar het kritiek uitgespreek oor mense met dwergisme wat net gebruik word vir die rolle van dié sewe dwergies. Dit het ʼn herrie op sy eie ontketen met talle persone met dwergisme wat gesê het hulle sou graag die betrokke rolle wou vertolk.

Bykomende bronne: BBC News, E! News, People, The Hollywood Reporter en Indiewire.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.