Hond lei polisie na beseerde eienaar

Cam Laundry en sy hond, Tinsley. (Foto: New England Cable News)

ʼn Hond van New Hampshire in die VSA is as dié staat se “eie Lassie” gedoop nadat die brakkie polisielede tot by ʼn ongelukstoneel gelei het waar haar eienaar en nog ʼn insittende ernstig beseer is.

Die eenjarige hond, ʼn Shiloh-herdershond wat Tinsley heet, het langs ʼn snelweg in New Hampshire, wat aan Vermont grens, gehardloop. Dit het motoriste genoop om die verkeerspolisie te ontbied.

Toe beamptes Tinsley opmerk en haar probeer vang, het sy van hulle bly weghardloop totdat hulle die ongelukstoneel bereik het.

Die insittendes van die motor was ernstig beseer en het aan hipotermie gely. Albei is uit die bakkie geslinger nadat dit gerol het.

“Hulle kon aflei dat die hond iets vir hulle wou wys aangesien sy probeer weghardloop het, maar tog nie heeltemal nie. Dit was asof sy gesê het ‘volg my, volg my’. Dis presies wat hulle toe gedoen het. Toe hulle in dieselfde rigting as die hond kyk, het hulle die beskadigde versperring gesien. Hulle was verstom,” het Daniel Baldassare, ʼn plaaslike polisiebeampte, aan die nuuskanaal WCVB gesê.

Kapt. Jack Hedges van die Hartford-brandweerdepartement sê die hond het kalm langs haar eienaar gesit terwyl nooddienswerkers mediese hulp toegepas het.

Die eienaar, Cam Laundry (31), het Tinsley intussen as sy “klein beskermengel” beskryf.

“Dis ʼn wonderwerk dat sy oor die intelligensie beskik het om dít alles [die reddingspoging] te kon doen.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Daniel ·

Pragtige storie, het ook vandag gehoor van ‘n hond wat ‘n beseerde stapper warm gehou het in Kroasië in die sneeu

Carina ·

Dis beslis geen “brakkie” nie maar ‘n opregte herdershond. Ek hoop sy word in die afgrond in bederf vir haar goeie daad. Shiloh, jy is ‘n “hero”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.