Honderde beseer toe treine trompop bots

Beseerde passasiers moes deur noodwerkers uit die tonnel verwyder en na die oppervlak geneem word (Foto: STR, AFP)

Meer as 200 mense is beseer toe twee treine Maandag in Kuala Lumpur, Maleisië, reg van voor gebots het.

ʼn Volgepakte trein het omstreeks 20:45 (plaaslike tyd) in ʼn ondergrondse tonnel naby die Petronas Twin Towers teen ʼn trein, wat geen passasiers aan boord gehad het nie, gebots. Dié leë trein het in ʼn teenoorgestelde rigting gery.

Passasiers is tydens die ongeluk oor waens gewerp. Die meeste passasiers het ligte beserings opgedoen, met altesaam 64 wat na nabygeleë hospitale geneem is vir verdere mediese behandeling. Ses van dié passasiers was in ʼn kritieke toestand.

Een passasier, Lim Mahfudz, het die oomblik toe die treine gebots het as ʼn “nagmerrie” beskryf.

“Met die trefslag is al die sittende en staande passasiers in die treinwa rondgegooi,” het hy op Twitter geskryf.

ʼn Ander passasier, Afiq Luqman Mohd Baharudin, vertel hy het met die sterk trefslag beserings aan sy kop, linkerbeen en bors opgedoen.

Geskokte passasiers moes deur noodwerkers uit die tonnel verwyder en na die oppervlak geneem word.

Die minister van vervoer, Wee Ka Siong, het gesê voorlopige ondersoeke dui daarop dat die bestuurder van die leë trein in die verkeerde rigting gery het wat tot die kop-teen-kop-botsing gelei het.

Die premier, Muhyiddin Yassin, het die ongeluk as “ernstig” beskryf en het owerhede en die treinoperateur versoek om ʼn diepgaande ondersoek van stapel te stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Strandloper ·

Gelukkig sal dit nooit hier gebeur nie want geen treine loop meer nie. Glo nie eers n 4×4 kan deesdae op n spoor loop tussen al die shacks nie

JohanR ·

Die wat in die Kaap bly kan julle nog die goeie 70’s, 80’s en vroe 90’s onthou. Jy het op ‘n skoon werkende min of meer optyd trein geklim, Die treinkondukteur het jou kaartjie geknip, en jy is na jou stasie toe sonder dat die trein een keer tussen stasies gestop het? En toe kom die ANC!

Alida ·

Ek onthou dit nog goed! Vir ons wat in die Kaap se noordelike voorstede gewoon maar in die stad gewerk het, was treinry die beste vervoermiddel! Toe ek ‘n Matie-student was, het ons ook dikwels die trein gehaal Kaapstad toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.