Honderde vlug voor vloede in Australië

Voertuie onder water in Cairns. (Foto: Brian Cassey / AFP)

Meer as 300 inwoners in die noordoostelike dele van Australië was Maandag genoop om te vlug voordat verwoestende vloede hulle bereik.

Kitsoorstromings weens swaar reën Sondag in die noorde van Queensland het huise verswelg, paaie verwoes en krokodille in dorpstrate ingespoel.

Weermaghelikopters is ingespan om mense te help wat gestrand of vasgekeer was, onder wie inwoners wat op die dak van ʼn hospitaal skuiling moes soek.

Skade is langs ʼn groot gedeelte van die kus in dié gebied, wat ongeveer 400 km ver strek, aangemeld.

Cassie Hounslow, ʼn oordbestuurder, het aan AFP gesê sommige huise in Mossman, ʼn binnelandse dorpie aan die voet van die Daintree-reënwoud, is heeltemal onder water.

Verskeie paaie is ook deur tuimelende rotse beskadig. Hounslow sê ʼn groot snelweg wat uit Mossman loop, is “basies vernietig”.

Cameron Dick, Queensland se tesourier, sê intussen inwoners van die gebied moet hulle staal vir nog stortbuie wat Maandag verwag word.

Hy voorspel die ontvouende ramp sal eindelik skade ter waarde van miljarde dollars berokken.

‘Moddersee’

Nege mense, onder wie ʼn sewejarige pasiënt, moes oornag op die dak van ʼn hospitaal in Wujal Wujal, ʼn inheemse nedersetting, skuil. Volgens die polisie het die mense Sondag op die dak geklim voordat watervlakke Maandag weer gestyg het.

Kiley Hanslow, uitvoerende hoof van die Wujal Wujal-nedersettingsraad, sê mense in dié gebied is nou desperaat.

Wildbewaringsbeamptes vang ‘n krokodil in Ingham. Die krokodil het met kitsoorstromings tussen huise beland. (Foto: Jonty Fratus / AFP)

Boonop moes reddingspogings van diegene wat nog in die dorp gestrand is, vir eers laat vaar word.

“Helikopters kon ongelukkig nie deurkom nie, dit was te gevaarlik,” lui ʼn verklaring van die raad Maandag op sosiale media.

“Hulle sal weer probeer sodra hulle kan.”

Wujal Wujal is omring deur ʼn tropiese reënwoud en baie moeilik om te bereik. Dit is ook een van Australië se mees agtergeblewe streke.

Hanslow het aan die Australiese nuusuitsaaier ABC gesê die dorpie wat ongeveer 300 mense huisves, is nou net ʼn “vuil moddersee”.

“Krokodille swem ook in daai water.”

Vliegtuie by Cairns Internasionale Lughawe. (Foto: Brian Cassey / AFP)

Katarina Carrol, Queensland-polisiekommissaris, waarsku dat vloedwater “krokodille en allerhande dinge” in woongebiede kan inspoel.

“Julle sal onthou dat ons in die verlede al haaie, krokodille en dies meer gehad het,” het sy aan verslaggewers gesê.

Wildbewaringsbeamptes moes reeds ʼn krokodil in die landelike dorpie Ingham vang nadat dit in die vlak water tussen huise beland het.

‘Ongekende reënval’

Swaar reën daal al die afgelope week oor Queensland neer, en is aangebring deur die tropiese sikloon Jasper.

Cairns, ʼn toeristekern, is omring met vloedwater wat reeds oor snelweë na die stad en sy sowat 150 000 inwoners gestroom het.

Plaaslike inwoners aan die buitewyke van Cairns het toue gebruik om hulpelose vee te red wat deur vloedwater meegesleur is. Watervlakke het byna tot by die vlerke van geparkeerde vliegtuie by die Cairns- internasionale lughawe gestyg.

“Hierdie vlak van reënval is ongekend,” het Steven Miles, Queensland se premier, Maandag gesê.

“Ons het al elke boot wat ons in Cairns kon vind, ontplooi om mense te help wat nie self kon vlug nie.”

Intussen neem kommer oor skoon drinkwater toe en word inwoners gevra om dit so spaarsaam moontlik te gebruik. Australië se weermag het reeds helikopters ingespan om die nodige voorraad aan vloedgeteisterde gebiede te voorsien.

Die polisie sê hulle is egter dankbaar dat geen sterftes of ernstige beserings tot dusver aangemeld is nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.