Hongkong teiken nou klein troeteldiere

Marshmallow die hamster speel in haar hok kort voordat sy by ’n dieresentrum in Hongkong afgelaai is. Eienaars wat onlangs klein soogdiere gekoop het, is versoek om hul troeteldiere as ’n Covid-19-voorsorgmaatreël prys te gee. (Foto: Bertha WANG / AFP)

Diereliefhebbers in Hongkong is woedend ná die regering se aankondiging dat duisende klein diertjies van kant gemaak gaan word nadat hamsters in ’n troeteldierwinkel positief vir Covid-19 getoets het.

Hongkong, wat soos China ’n “nul-Covid-beleid” handhaaf, poog om die blote spoor van die virus uit te vee met kontakopsporing, massatoetsing, streng kwarantynregulasies en verlengde reëls vir sosiale afstand.

Die diere wat nou as deel van hierdie “voorsorgstrategie” van kant gemaak gaan word, sluit sowat 2 000 klein soogdiere soos hamsters, chinchillas, hase en proefkonyne in. Die invoer van klein soogdiere is ook sedert die voorval gestaak.

AFP berig die hamsters wat by die Little Boss-troeteldierwinkel verkoop is, het positief vir die Delta-variant getoets, wat nou skaars is in Hongkong.

Amptenare is vandeesweek gesien waar hulle in beskermingsdrag sakke by dié winkel uitdra. Die rooi vullissakke was almal met biogevaarwaarskuwingstekens gemerk.

Owerhede moedig nou enigeen wat ʼn klein soogdier ná 22 Desember gekoop het aan om dié troeteldier prys te gee om afgemaai te word.

Die regering vermoed die Covid-19-positiewe wesens is uit Nederland ingevoer. Hoewel daar ʼn gebrek aan bewyse is dat hierdie soogdiere die virus na mense kan oordra, het die regering sy besluit om die diere uit roei as ʼn “voorsorgmaatreël” beskryf.

ʼn Man het buite ʼn dieresentrum wat deur die regering bestuur word aan AFP gesê sy tienjarige seun is “ontroosbaar” nadat sy hamster, Pudding, van kant gemaak is. Die pa sê hy het geen ander keuse gehad as om dié besluit te neem nie aangesien hy oor die veiligheid van sy huishouding bekommerd is.

“Die regering laat dit so ernstig klink.”

ʼn Hamsterliefhebbergroep het ook sedert die aankondiging talle navrae ontvang oor of hamstereienaars hul harige vriende moet prysgee.

‘Niemand kan my hamster vat nie’

’n Change.org-petisie teen die regering se besluit het in minder as ʼn dag meer as 23 000 handtekeninge gekry.

Die plaaslike dierebeskermingsvereniging (DBV) het ook die besluit veroordeel.

“Die DBV is geskok en bekommerd oor die onlangse aankondiging oor die hantering van meer as 2 000 diere.”

Een eienaar, wat haar hamster op 1 Januarie gekoop het, sê die regering sal egter eers verby haar moet kom voordat hulle haar troeteldier kan vat.

“Niemand kan my hamster wegvat tensy hulle my doodmaak nie,” het sy Woensdag aan die plaaslike nuusblad The Standard gesê.

Sy het ook na ʼn voorval verwys waar amptenare ʼn verjaardagpartytjie bygewoon het wat tot talle infeksies onder lede van Hongkong se leierskap gelei het.

“Sal hulle ook alle besmette Covid-19-pasiënte en dié wat noue kontak met hulle gehad het, doodmaak?” wou sy weet.

“As alle mense wat dié verjaardagpartytjie bygewoon het, uitgeroei word, sal ek my hamster aan die regering oorhandig.”

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het by navraag oor Hongkong se soogdieruitwissing gesê sommige dierspesies kan met die koronavirus besmet word, en dat dié diere mense dan kan besmet. “Die risiko bly laag, maar dit is iets waarna ons voortdurend oplet,” het Maria Van Kerkhove van die WGO gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Bernard ·

Wonder of die Chinese nou ook hamsters gaan eet? Die waansin duur voort.

Johan ·

Hoekom bestaan die WGO! Dis die grootste klomp medies-polieke mal mense op die planeet.

Cobus ·

Opsoek na ‘n behoorlike Afrikaanse vertaling vir “mass formation psychosis” ?

Hasie ·

Die mense raak Covid bedinges ! Een van die dae toets hul bome ,plante en blomme ook en as die positief toets vir Covid sal hul seker alle vorms van natuur uitwis

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.